FOTO: Phyllis Green

My kind

Ek is gay – nou’s my tieners woedend – DEEL 1

Dilemma van SARIE-leser: Ek het onlangs uit die kas gekom ná baie jare van wroeg en ontkenning. Ek was lief vir my vrou en het in byna alle opsigte ’n gelukkige huwelik gehad. Dit het baie van my geverg om uiteindelik eerlik met myself te wees en my seksuele identiteit te aanvaar.

My twee tieners is woedend, hulle wil niks met my te doen hê nie. Die jonger ene is eintlik nog te klein om die implikasies te verstaan. Hoe loop ons die pad vorentoe?

Kenners antwoord

Dr. Jean du Plessis sielkundige en skrywer van Oor gay wees (Tafelberg, 1999)
Die probleme wat voortspruit wanneer ’n pa uit die kas kom, gaan nie oornag of in een sessie met ’n terapeut uitgesorteer word nie. Dit neem gay mense jare om hulself te aanvaar. Jy kan uiteraard nie verwag dat die res van die familie alles
dadelik sal verstaan en reg hanteer nie. Daar lê ’n lang groeiproses voor en die pad gaan nie altyd gelyk wees nie.

Gay mans wat ’n groot deel van hul lewe in die kas was, gaan soms deur ’n tydperk van emosionele onstabiliteit. Die skielike vryheid om te wees wie hulle eintlik inherent is, kan moeilik wees om te hanteer. Ná jare van onderdrukking en ontkenning het so iemand soms ’n groot behoefte om vir verlore tyd op te maak. Die pendulum kan selfs swaai tot heel uiterstes, soos kompulsiewe aande in gayklubs. ’n Sielkundige kan regtig hier ’n goeie rol speel om vir jou ’n klankbord te wees en te help om die balans te herstel as dit nodig is.

Jy voel dalk opgewonde omdat jy ’n nuwe lewe begin, maar jou gewese
vrou gaan waarskynlik swaarkry. Dit sal nie ongewoon wees as sy deur al die fases van rou gaan nie. Sy het haar lewe soos sy dit geken het, verloor.

Baie vroue ervaar dit as ’n persoonlike verwerping en jy moet haar help om te verstaan dat dit nie oor haar as mens gaan nie. Sy was dalk vir jare blootgestel aan al jou buie en onsekerhede en het haar bes gedoen om dit te verstaan en jou
te ondersteun. Wys haar dat jy dit waardeer en probeer om haar seer, teleurstelling, gevoel van verwerping en selfs haar woede te verstaan. Help haar om by die nuwe omstandighede aan te pas.

Massas navorsing oor kinders met gay ouers wys dat hulle emosioneel en sosiaal ewe goed aangepas is as dié uit heteroseksuele huwelike. As hulle nie met openheid hieroor grootgeword het nie, neem dit tyd vir kinders om so ’n situasie te verwerk. Jonger kinders pas soms makliker by die nuwe omstandighede aan, veral as daar genoeg kontak met albei ouers is, die ouers goed klaarkom en mekaar nie afkraak nie.

Vir tieners wat met hul eie identiteitsprobleme sukkel, kan dit moeiliker wees. Hier gaan jou vrou se houding baie belangrik wees. Net soos met enige ander egskeiding sal alles mooier en makliker uitwerk as jy en jou gewese vrou vriende kan bly.

Dis nodig dat die res van jou familie verstaan dat jy nie uit die bloute gay geword het nie. Jy is nog altyd dieselfde mens, maar jy is nou net eerliker oor wie jy is as voorheen. Jy leef nou sonder geheime, met groter integriteit en jy het genoeg vertroue in hulle om hulle deel te maak van die eerliker lewe wat jy nou leef.

Veral wanneer daar nuwe verhoudings betrokke is, het jou gesin tyd nodig om aan die idee en aan jou nuwe lewensmaat gewoond te raak. Moenie jou nuwe vriende aan hulle opdring nie. Laat hulle geleidelik gewoond raak aan jou nuwe sosiale of liefdeslewe. Vermy of beperk ten minste aanvanklik openlike blyke van liefde tussen jou en die nuwe man in jou lewe wanneer hulle ook in die geselskap is. Moet egter nie terugdeins van openlike antwoorde wanneer hulle inligting soek of vrae vra nie, en wees eerlik sonder om hulle te oorweldig met onnodige detail.

Deesdae het tieners maklike toegang tot die media. Gee eerder vir hulle leesstof oor gay-wees voordat hulle dalk verstrengel raak in allerhande sensasionele of obskure webwerwe. As dit moontlik is (en net as hulle daartoe instem),
sal dit goed wees om hulle ook vir berading te neem by iemand wat
die situasie verstaan. Wees net versigtig vir fundamentalistiese predikante of pastore.

Moenie te veel te gou verwag nie, veral nie van jou tieners nie. Maak
altyd seker jou kinders weet jou liefde vir hulle het nie verander nie, en
dat jy nog net soveel in hulle doen en late belangstel en trots is op wat
hulle bereik. Jou kinders moet nooit die gevoel kry dat hulle nou vir jou
minder belangrik is nie.

Hier is ’n nuttige leeslys vir die res van die gesin

  • Loving Someone Gay (Donald Clark, Celestial Arts, 1987)
  • Jy bly my kind (Lidia Theron, Hemel & See Boeke, 2005)
  • Soeker (Pieter Cilliers, Protea Boekhuis, 2011)
  • Gay Pastoor (Philip Liebenberg, Penguin Books, 2008)

Lees Gawie Brits (skuilnaam) se antwoord HIER – hy is self ’n gay pa.