"Ek’s sosiaal, my man wil by die huis sit"
Hou jy van partytjie maar nie nou man nie? Hier is raad.
"Ek is meer van ’n ekstrovert as my man. Ek hou daarvan om mense te ontmoet, maar dis frustrerend om alleen na partytjies te gaan. My man is nie skaam nie en kommaklik met mense oor die weg. Hy’s net lief vir sy eie geselskap en verkies om nie heeltyd saam met ander te kuier nie.
As hy saammet my kom, kan ons tog dinge saam beleef. Ons het baie woordewisselings hieroor. Boonop begin mense my nou oor dieselfde kam skeer. Hulle sê óns was nie genooi nie, want óns hou mos nie van partytjies nie. Intussen sou ek graag wou gegaan het." – SARIE-leser
Wilmé Steenekamp dokter en sielkundige terapeut van Potchefstroom
Verskillende voorkeure is belangrik in ’n verhouding. Dit bring nuwe energie en persepsies. Ons is dikwels aangetrokke tot mense met ander vaardighede en voorkeure omdat hulle ons help om afgeskeepte eienskappe in onsself of nuwe vaardighede te ontwikkel. Die stil mens het soms nodig dat ’n ekstrovert hom meer met ander mense in aanraking bring, en die ekstrovert het soms nodig dat dit ’n bietjie stiller rondom hom word om weer by homself uit te kom.
Julle moet empatie vir mekaar se behoeftes hê en bereid wees om toe te gee. ’n Aanvaarbare toegewing is om soms “skiet te gee”, maar nie die kern van wie jy is in die proses prys te gee nie, want op die lange duur is dit ongesond.
Jou man kan nie altyd saam met jou gaan kuier en heeltyd voel die klomp mense is een te veel nie. Hy sal later voel hy moet jou altyd met ander deel. Dit kan maak dat hy ’n wrok teenoor jou, jul vriende en selfs teenoor homself ontwikkel omdat hy nie vir sy eie behoeftes opkom nie.
Aan die ander kant kan jy ook nie wegbly van sosiale geleenthede nie, anders gaan jy voel jy moet ’n ander mens wees in jul verhouding. Jul behoeftes is ewe belangrik.
Dit beteken julle sal albei moet opofferings maak.
Dit beteken julle sal albei moet opofferings maak."
’n Goeie toegewing van jou man se kant af is om te sê hy sal een naweek ’n maand saam met jou uitgaan en dit geniet. En hy sal ook nie omgee as jy soms alleen uitgaan nie. Jy sal moet aanvaar dit gaan soms die geval wees. Omdat hy ’n bly-by-die-huis-ou is, sal hy dalk vir jou vra om twee naweke in ’n maand net saam met hom te kuier. Die goue reël is om eerlik met mekaar te gesels oor jul behoeftes, werklik te luister, begrip te hê en toegewings te maak wat aanvaarbaar vir julle albei is.
Elma Bartlett huweliks- en gesinsterapeut van Johannesburg
Dis juis in die verskille tussen jou en joumaat waar die potensiaal lê om te groei. Die verskil tussen ’n ekstrovert en ’n introvert is dat ’n ekstrovert sy energie kry deur tussen mense te wees. Dis byvoorbeeld uitmergelend vir jou om heeldag alleen agter ’n rekenaar te sit.
’n Introvert, daarteenoor, kry juis sy energie deur alleentyd en stilte. As jy die verskil verstaan en aanvaar, kan julle die probleem oplos deur tot ’n vergelyk te kom. Eerstens moet jy vrede maak met jou man. Jy kan hom nie verander nie.Werk eerder daaraan om mekaar onvoorwaardelik te aanvaar.
Soos met enige konfliksituasie moet julle saam aan die probleem werk en nie in ’n wen-verloor-toutrekkery betrokke raak nie. As julle dit besef, kan julle nader beweeg aan ’n oplossing.
Maak toegewings wat vir julle albei werk.
Oorweeg die volgende:
• Bly vir korter tye by ’n partytjie.
• Ry met verskillende motors sodat jou man huis toe kan gaan as hy moeg is.
• Kom ooreen oor hoe gereeld julle sosiaal gaan verkeer.
• Besluit om een aand van die naweek tuis te bly en die ander een uit te gaan.
• Jy kan soms alleen uitgaan en jou man kan by die huis bly.
Dis nie verkeerd om ’n ekstrovert of ’n introvert te wees nie. Julle moet jul eie balans vind tussen sosiaal en rustig op jul eie wees en nie ’n onbuigsame houding daaroor hê nie.
Praat eerlik met jou man en sê hoe dit jou laat voel as hy nie saam met jou wil kuier nie. Sê byvoorbeeld: “As jy huiwerig is om saam met ons vriende te kuier, voel ek jy gee nie regtig om vir my nie. Ek sal dit waardeer as jy minstens twee keer ’n maand saam met my uitgaan.”
Praat eerlik met jou man en sê hoe dit jou laat voel."
Gesels ook met jul vriende hieroor, sodat hulle dit verstaan en nie dink julle skeep hulle af nie. Werk saam aan ’n oplossing. In die proses gaan julle ontwikkel en leer om meer verdraagsaam te wees.
VIR HULP
• Wilmé 018 293 0962, info@feelwell.co.za
• Elma 082 920 0437, elma@barnau.co.za
Verwante artikels
-
5 Boekminute met André le Roux oor sy nuutste boek: Kan ek maar aan jou selluliet vat? + VIDEO-ONDERHOUD
SARIE - Oktober 2010
Kyk net wat raak hy kwyt!
-
5 Boekminute met Marinda Engelbrecht, Rosalind Stockhall, Nataniël, John-Henry Opperman en Jak de Priester
SARIE September 2010
Ek is betower deur die bundel kinderstories, Rondomtalie, Stories deur Afrikaanse kunstenaars (Human & Rousseau, R180). Nie net is die verhale pragtig geïllustreer deur Rosalind Stockhall nie, maar die stories is almal baie vermaaklik.
-
5 Minute met Fanie Cronjé, SARIE se glans-man
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 1
Fanie Cronjé is SARIE se styl- en sosiale redakteur en dit beteken hy is die een wat byna elke glansryke geleentheid bywoon en SARIE dan daar verteenwoordig. Hy maak ook seker dat SARIE se voorblaaie so pragtig en stylvol is.
-
Nataniël: Kaalkop Job
SARIE September 2010
In my lewe gebeur alles op ’n Dinsdag.
-
Uittreksel uit Jurie Els se outobiografie
SARIE September 2010
'Dit moet my kinders eendag weet'
-
Verloor gewig sonder dieet - Rêrig! (Wenk 6 - 15)
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 8
Dis winter en tyd vir tuisgemaakte bredies, cappuccino en lepellê. En sowaar, dís dinge wat jou kan help gewig verloor
















Kommentaar
Pieter het gesê:
Ek hou nie van mense nie en raak baie senuagtig as ek teveel mense om my het of vreemde mense moet ontmoet. My vrou is weer baie sosiaal en mal oor kuier en nuwe mense ontmoet. Om dinge te laat werk het ons altwee opofferings gemaak. Ek sal beyvoorbeeld naweke na die kinders kyk sodat sy saam met vriende of familie kan uitgaan, van haar kant af hou sy die groep mense wat by ons huis kom kuier/braai so klein as moontlik. As sy nuwe mense ontmoet sal sy ook kyk of ek gemaklik sal voel saam met hulle voor sy n kuier reel wat my insluit. Dit werk goed vir ons.
28ste Mar. 2011, 10:05