phyllis_122_rz
Verhoudings

“Ek wens ek’t myself toegelaat om gelukkiger te wees”

Ek wens ek het myself tóégelaat om gelukkiger te wees. Let wel, nie “ek wens ek wás gelukkiger” nie. Die soeke na geluk is bo alle twyfel ’n proaktiewe benadering. Dis my ervaring dat ons dikwels in ons gewoontes vasval. En vreemd genoeg is dit ook van toepassing op ons buie en emosies.

So baie dinge in die lewe laat ons ontevrede en onvergenoeg voel, dit raak later onafskeidbaar deel van ons gewoontes en gedrag. Ons dink ook skynbaar as dinge eendag beter gaan, net dán sal ons onsself toelaat om gelukkig te wees. As ek meer geld het, of die oortollige gewig verloor het, of die liefde van my lewe gevind het …

Dié eindpunt is net ’n illusie en jy mors jare van jou lewe terwyl jy wag om gelukkiger te word. Omdat jy
dikwels voel jy is nie goed genoeg nie, vermors jy baie energie. Om nie te praat van jou kanse op tevredenheid (contentment) nie. Leer liefs by mense op hul sterfbed dat jy jouself maar kan toelaat om goed te voel. En kies om elke dag gelukkig te wees.

Linda se wenke

  • Moenie wag dat geluk aan jou deur klop nie. Kies ’n positiewe houding. Besluit elke dag om iets te doen wat jou sal laat glimlag. En nog meer: Iemand anders laat glimlag.Maak oefening deel van jou lewe.
  • Daaglikse oefening of flink stap net 30 minute lank 3 keer per week lig jou gemoed en laat jou meer energiek en geesdriftig voel.
  • Span harmonie se krag in. Luister na musiek, dans en sing. Sing en dans is ’n kragtige tegniek om jou gelukkiger te laat voel.