Selma Albasini en haar "nuwe" gesin FOTO: Facebook

Verhoudings

Gesin in ’n kits

Jy het jou droomman ontmoet en jou hart sing … Maar saam met hom kom sy kinders. Die paartjie is nou ’n gesin. Is jy opgewasse hiervoor?

Selma Albasini, kunstenaar van Somerset-Wes vertel: “Ek geniet my twee ‘kitskinders'”

As klein dogtertjie het ek naïef gehoop dat ek ses kinders gaan hê. My eerste man het ’n paar jaar ná ons huwelik gesê hy wil nie kinders hê nie. Ons verhouding was belangrik genoeg om die idee te laat vaar. Hy is sowat vyf jaar gelede oorlede. In 2008 het ek, danksy die internet, weer nader gegroei aan ’n ou universiteitsvriend. Ek en my sielsgenoot, Bertus van Niekerk, ’n gekwalifiseerde predikant en wynmaker, is in 2010 getroud.

Eintlik het ek sy kinders, Hendrik (nou 19) en Renée (nou 12), al voor hul geboorte ‘geken’ toe hul ma, Ronél, destyds ’n vriendin van die universiteitskoor van Pretoria, hulle verwag het.

Aanvanklik het die kinders net Julie- en Desembervakansies by ons gekuier. Hendrik, ’n opkomende jong digter, het in 2011 Kaap toe getrek. Hy wou naby sy pa wees. Dit is egter nie ideaal dat die kinders van mekaar geskei is nie.

Bertus en ek probeer hulle ’n veilige ruimte gee om hulself en die wêreld in te verken. Hulle noem my Sellie, en ek probeer nie hul ma wees nie. Albei is intens, emosioneel en kreatief. Ons geniet dit by mekaar.

Ek besef ek moet my ego teen die tuinhekkie vasspyker, en seker maak om nét wanneer dit régtig nodig is my kitskinders oor iets aan te vat.

Hendrik is sensitief vir konflik, en probeer almal tevrede stel. Dit maak dit ook maklik om met hom oor die weg te kom. Ek stel basiese huisreëls vas en Bertus ondersteun my honderd persent.

Bertus het die kinders wel van kleintyd af soos volwassenes behandel. Hulle ken begrippe soos ’kompromie’ en ‘billike versoek’. Ons het rou, eerlike gesprekke oor die kinders. Hy leer my om hulle as individue te behandel. Ek kom uit die ‘want-ek-sê-so’-era. Hý glo as ouers altyd glo hulle is rég, maak hulle gewoonlik droog. ’n Kitsgesin werk bietjie soos die reënboognasie. Jy moet respek hê vir uiteenlopende gelowe, waardesisteme en sienings, veral met tieners.’’

Nina Swart Feb 2014

 

Lees nóg stories oor kitsgesinne in die Februarie van SARIE – Aktrise Mary-Anne Barlow van Johannesburg, Helene Rautenbach-Behrens, Johannesburgse handelaar in Persiese tapyte en Lise Swart, TV- en radio-aanbieder van Riebeeck-Kasteel.