Verhoudings

Geskei maar steeds vriende: “Ons verstaan mekaar weer”

Net einde verlede jaar het die akteur Orlando Bloom en sy modelvrou Miranda Kerr aangekondig hulle gaan as “beste vriende” uiteen ná ’n huwelik van drie jaar, en by hul woord gehou toe hulle glimlaggend en ingehaak by mekaar met hul babaseun in die openbaar verskyn het. Hulle het dit nie net vir die skyn (en die kameras) gedoen nie – vriende vertel die twee is vasbeslote om dié vriendskap te laat werk.

Dis egter nie net beroemdes wat dit regkry nie. Kenners meen dis inderdaad vir party van ons moontlik, maar dit verg die regte ingesteldheid, ’n sterk karakter en goeie insig om bo ’n egskeiding se uitdagings uit te styg en werklik vriende te wees.

“Ons het mekaar weer begin verstaan”

Riva Schoeman, radio-omroeper by GROOTFM (90.5), en haar voormalige man, Bancroft Metcalfe, is nie net die beste vriende nie, maar ook goeie bure wat langs mekaar in Pretoria woon.

Hul resep is behulpsaamheid, vergifnis en begrip. Sy en Bancroft is ná ’n huwelik van tien jaar geskei nadat “ons sommer net moed opgegee het dat dit langer kan werk”. Riva het daarna in Bloemfontein agtergebly met hul twee seuns, Ruben (nou 20) en Samuel (nou 17), toe Bancroft na Johannesburg verhuis. Vir ’n jaar het hulle nie veel kontak gehad nie.

Dit was ongemaklik, want ons wou nie werklik met mekaar praat nie. Ek het hom vermy omdat ek net nie geweet het hoe om oor sekere aangeleenthede, soos sy suster se dood net voor ons egskeiding, te praat nie. As hy die kinders moes kom haal, het ek hulle by my ma gelos. Maar tyd het ’n manier om probleme uit te sorteer. Op ’n dag het ek net gedink ek móét met hom praat. Jy besef jy kan nie as ouer jou eie frustrasies deel maak van jou kinders se lewe nie. Ek kon nie vir altyd weghardloop nie.”

Hierdie gaping van ’n jaar het haar in staat gestel om haar gevoelens te verwerk. Toe Bancroft daarna aanbied om meer betrokke te wees by die seuns se lewe, het sy die kans aangegryp.

Die seuns het my óp gehad. ’n Ma weet nie altyd presies wat om met seuns te doen nie, maar ek wou nie een van daardie ma’s wees wat uit moedeloosheid net die seuns vir die pa aangee nie. Ons het dit bespreek en hy het gesê: ‘Ek dink die seuns het ’n pa nodig.’ Toe het ek geweet ons ongemaklike verhouding het verander. Ons kon saam verantwoordelikheid neem. Ek het besef ek moet verhuis en klaarkry, al verg dit opoffering.”

Riva was bereid om haar geliefde omroeperspos by Radio Oranje (nou OFM) op te gee. Bancroft het haar gehelp om haar in Johannesburg te vestig. Dit was die eerste tree na ’n nuwe kode vir hul vriendskap.

Ek dink vriendskap ná ’n egskeiding begin by onselfsugtige bereidwilligheid om mekaar te help.” As paartjie het hulle mekaar emosioneel verstaan en sy glo dit het die speelveld vir vriendskap gelyk gemaak.

Die begrip wat ons voorheen vir mekaar gehad het in moeilike tye, het weer teruggekom. Ons het mekaar weer goed genoeg verstaan om te vra: ‘Wat gaan aan? Waarmee kan ek help?’”

Toe die gesin later Pretoria toe verhuis het, het Riva eers by Jacaranda FM uitgesaai, dikwels tot laataand. Bancroft het dan gehelp om die kinders te versorg en aandete te maak. “En dan het ek sommer saamgeëet as ek tuiskom!” Dit het ’n goeie patroon vir die toekoms gevestig. By GROOTFM werk sy dikwels ook lang skofte. Tuis wag daar saans ’n lekker bord kos en die kans om te gesels.

DSCF6269 (4)

Riva Schoeman en haar seuns Ruben (links) en Samuel (regs)

“Ons praat meestal oor besluite oor die kinders se toekoms en wie van ons twee troos en wie dissiplineer.”

Die vriendskapsbande gaan ook dieper. Omdat hulle mekaar so lank ken, is hulle ’n emosionele vangnet vir mekaar. “Ons weet hoe om mekaar se stresvolle situasies te ontlont. Dis mos wat vriende doen.”

Riva laat dit maklik genoeg klink, maar is daar ’n geheime bestanddeel wat dit laat werk?

Gretha Heymans, ’n pastorale terapeut van Bloemfontein, glo volwasse mense wat weet hoe om te vergeet en te vergewe, wat nie ou koeie uit die sloot haal nie, kwessies oor onderhoud en versorging uitgesorteer het en hul oog op ’n groter saak soos die kinders se toekoms het, het ’n goeie kans om ná die egskeiding vriende te word.

Onthou net, daar is ’n belangrike verskil tussen vriendelik met mekaar wees en vriende wees. “Vriende weet hoe om innig te kommunikeer en maak mekaar se lewe betekenisvol. As julle net vriendelik met mekaar wil wees, beteken dit beleefdheid oor dinge soos reëlings rakende die kinders. Dit beteken nie julle gaan mekaar emosioneel ondersteun nie.”