FOTO: Tim Robberts / Getty Images / Gallo Images

FOTO: Tim Robberts / Getty Images / Gallo Images

Verhoudings

Hou op uitstel

“Procrastinate now, don’t put it off.”
Ellen DeGeneres

Van uitstel tot afstel? Gelukkig nie áltyd nie . . . maar dis nie lekker om herinner te word aan daardie dinge waarby jy toe nooit uitgekom het nie. Al was dit in hoofletters op jou doenlysie geskryf.

Daar is baie (en uiteenlopende) redes vir uitstel – dit kan wissel van vrees vir mislukking (of sukses) tot ’n amperse onvermoë om op dreef te kom totdat ’n sperdatum of krisis dreig.

Een van die meer komplekse oorsake is ’n onderliggende sielkundige patroon: As jy jou eie doelwit onbewustelik saboteer omdat jy eintlik wil bly waar jy is (vanweë die sekondêre wins wat dit vir jou inhou).

Jy wil byvoorbeeld gewig verloor, maar dit loop op niks uit nie. Dalk voel jy “veiliger” in jou oorgewig lyf, of is jy bang jy verloor die simpatie en aandag van jou vriende wat jou bejammer omdat jy so sukkel.

Ander redes kan bloot wees dat jy moeilik prioriteite bepaal, jy het te veel hooi op jou vurk en pleks daarvan dat jy afskaal en fokus op die belangrike, stel jy uit. (Dis nog erger as jy nie jou grense kan trek en nee sê nie.) ’n Negatiewe denkpatroon kan jou ook van koers gooi.

Ongeag die oorsaak (en of dit ’n emosionele of fisieke taak is wat jy op die lange baan skuif), begin eenvoudig héél voor. Want hoe langer jy uitstel, hoe groter word die “monster”.

Bepaal wat jy op jou eie kan vermag, en wat nie.

Doen dit só

* Vra: Wat is die eerste ding wat ek moet doen? Fokus net daarop. Die volgende stap sal duidelik word. Selfs al doen jy iets kleins, dit sal momentum kry. Dus: Maak daardie oproep, of kry hulp, of sit net en wees eerlik oor wat jy wil hê.

* Moenie alles op een slag probeer doen nie, want ’n week later is jy straks weer terug by die begin.

* Bepaal wat jy op jou eie kan vermag, en wat nie. Vra ’n vertroueling se hulp om jou te monitor; iemand aan wie jy rekenskap moet gee van jou vordering.

* Maak dit vir jouself makliker. Kyk wat is die struikelblokke. In watter omstandighede stel jy altyd uit? Watter verskonings maak jy? En watter oplossings is daar?

* Stel vir jouself doelwitte, maar moenie dit verwar met take nie. Mense het oneindige lyste met take wat hulle soms só oorweldig dat hulle voel hulle kom nêrens nie. Die doelwit moet jou motiveer as jy nie lus het vir die taak nie. Stel vir jouself ook klein doelwitte tussenin.

* Stel vir jouself ’n redelike sperdatum.

* Beloon jouself as jy die kleiner doelwitte langs die pad bereik.

* As jy nie die resultaat bereik waarvoor jy gemik het nie, beteken dit nie jy het misluk nie. Jy hoef ook nie oor te begin nie. Beoordeel jou vordering, gee jouself erkenning vir wat jy wel gedoen het en neem dit dan verder.

* Die projek wat jy die langste uitstel, is dikwels die een wat jou die meeste dreineer – en gewoonlik die een wat die grootste verskil sal maak as dit klaar is. Moenie jouself bluf deur heeltyd besig te bly met onbenullige takies wat nie veel beteken nie – kom uit by daardie belangrike taak.

* Gee jouself minder om te doen, en jy het ’n beter kans om dit klaar te maak. Jy gaan goed voel oor jouself omdat jy tot die einde volhard het.

Daardie lysie vir volgende jaar …

Verskraal vanjaar jou ellelange lys Nuwejaarsvoornemens. Vra jouself: Wat kan ek van my lysie afhaal en tot later in die jaar uitstel? (Ja, hier mag jy maar uitstel.)

Hou so aan totdat jy net drie goed oor het wat werklik vir jou belangrik is. As selfs drie vir jou te veel is, fokus op die heel belangrikste een. (Skryf die ander in jou dagboek neer vir later in die jaar.)

Fokus net op daardie een voorneme. Onthou, as die metode wat jy verlede jaar gebruik het om jou voorneme te bereik nie gewerk het nie, gaan dit vanjaar ook nie werk nie. Jy moet dit op ’n ander manier aanpak.

* Kate Emmerson is ’n meester-leefstylafrigter en bied ook ’n e-pos-kursus aan oor voorjaarskoonmaak (spring-cleaning), wat onder meer fokus op hoe om op te hou uitstel. Bel haar by 082 341 3143 of skryf aan kate@life.coaching.co.za.