FOTO: Lisa Sciascia / Gallo Images / Getty Images

FOTO: Lisa Sciascia / Gallo Images / Getty Images

Verhoudings

Huweliksfoute wat vroue maak

Sê jy ja en amen op alles wat jou man wil hê? Of deel nie genoeg drukkies uit nie? Hier is algemene foute wat vroue in die huwelik maak – en hoe jy dit kan regmaak.

Wie onthou nog die gewilde Cremora-advertensie? Die man wat sy vrou se woorde sarkasties namaak terwyl hy die koffie-verromer ylings in die yskas soek: “It’s not inside, it’s onnn . . . top!”

En draai die wysers nog verder terug na ’n radio-advertensie toe TV ’n nuutjie was. Hy wat die beeld van sy Blaupunkt-TV liries besing: “Die wêreld is lieflik.” En sy wat met ’n skril, beskuldigende stem antwoord: “Wat bedoel jy die wêreld is lieflik?” Gereed vir baklei.

’n Weerspieëling van wat dikwels die werklikheid is?

Maar nou sê kenners ons stemtoon het ’n groot impak op ons verhoudings – en dikwels is ons nie eens bewus van die boodskappe wat ons só oordra nie.

1. JY IS TE INSKIKLIK

Talle vroue (en sommige mans) is geneig om té inskiklik te wees. Volgens Elise Fourie, voorligtingsielkundige van Pretoria, is daar verskeie redes hiervoor.

Selfs in hierdie moderne tyd van gelyke verhoudings gee jy dalk toe aan die tipiese patriargale manier. Jy aanvaar dus die man is in beheer en jy moet onderdanig wees. En dat dit jou plig as vrou is om inskiklik te wees.

Jy verkies dalk dat jou man in beheer is en gee toe omdat jy nie die leiding wil neem nie. Sommige vroue (en mans) se persoonlikheid is ook só dat hulle makliker toegee, omdat jy geleer het jy kan konflik só vermy.

As dit egter nie in jou aard is nie, is dit ’n teelaarde vir baie wrokkigheid, woede en frustrasie. Dalk bly jy al lank stil, gee toe en sluk al dié gevoelens. Maar jy kan op ’n dag ontplof en in woede uiting aan die opgekropte wrokkigheid en frustrasie gee, sê sy.

Die gevolge?

  • Jy kan voel dat jou behoeftes onbelangrik is, wat jou ongeliefd of ongewaardeer laat voel.
  • Jy kan heimlik rebels optree, deur byvoorbeeld baie geld uit te gee, of selfs ’n buite- egtelike verhouding aan te knoop.

Wat om te doen

  • Begryp en aanvaar jy het ook regte in die verhouding – en dat joune ook belangrik is.
  • Leer om jou behoeftes duidelik oor te dra sodat julle dit kan versoen as dit bots.
  • Dis dalk goed vir jou as jy leer om meer selfgeldend te wees, sê Elise. Daar is baie leesstof hieroor.

2. NIE DUIDELIK OOR JOU VERWAGTINGE

Die algemeenste oorsaak van konflik in ’n verhouding is onrealistiese en onuitgesproke verwagtinge, verduidelik Elizma van der Smit, sielkundige van Klerksdorp. Julle het albei jul eie verwagtinge, gegrond op ervarings en verhoudings uit die verlede. Moenie net aanvaar die ander een gaan soos jy dink en voel nie.

Jou verwagtinge is onrealisties wanneer jy dink jou maat “behoort” sus en so op te tree. En dan voel jy seergemaak, kwaad en verward as hy nie optree soos wat jy verwag nie. Onthou net: Hy kan nie jou gedagtes lees nie.

En al dink jy jy stel jou verwagtinge duidelik, is dit dalk nie so glashelder vir hom nie. Onrealistiese en onduidelike verwagtinge word dikwels uitgedruk met woorde soos: “Jy het my teleurgestel”; “Ek het dit nie van jou verwag nie”; of “Jy was die
laaste persoon wat ek gedink het so iets sou doen”.

Wat om te doen

  • Volgens Elizma moet jy leer om werklik te luister. Maak die “geraas” in jou kop stil en fokus op wat hy sê. Moenie reageer voordat hy klaar gepraat het nie. Herhaal wat hy gesê het in jou eie woorde en maak seker jy verstaan reg. Ook dat jou verwagtinge realisties is, sê sy.

Dié artikel kom uit die Februarie-uitgawe van SARIE. Dié uitgawe is nie meer op die rakke nie, maar jy kan dit steeds digitaal aflaai en op jou rekenaar, tabelet en slimfoon lees.

Lees die res van die artikel HIER.