858844_10151584110392257_1201211141_o
My kind

Isabella blog: “Om ’n ma te onthou”

Dis 22 Januarie van nog ’n jaar. Vroegoggend al is daar ’n storm van trane en emosies wat selfs vir my onverhoeds vang. Ek huil maklik, dit weet almal. Maar sjoe, so ’n stortvloed en sonder ophou. Mmm… so ’n vreemde hartseer.

Januarie die 22ste is my lief-Moedertjie, Isabella Johanna Maria Jansen van Vuuren se verjaardag. Nege en negentig sou sy gewees het. Sy was my aanneem-ma. Maar in my gedagtes steeds die sjiek vrou wat vroegoggend bakke vol wit rose pluk. Die vrou wat by haar groen tafeltjie in die spens staan en die mooiste jam-tertjies maak, elkeen ’n kleine meesterstuk. Die fyn vroutjie wat my vakansies ekstra Latynklasse laat neem het, wat elke week in ’n blou Bedford=trok ons by die skool in Thaba Nchu opgetel het, die groen cooler bag onder haar bene ingedruk .

Daar was net plek voor in die trok vir Shortie ons drywer, Dolf en Mamma. Ek het altyd op ma se skoot gesit. Uit die cooler bag het ons lunch gekom: Beesstert  of peri peri-hoender met rys in klein bakkies en ’n jammerlappie vir die mond. Soet tee in die fles.

Eerste stop in Waverley-woonbuurt vir Engelse spraaklesse by Mrs Wolffe. Dan met ’n ompad convent se kant toe vir my ballet klasse by Peggy Morice terwyl ma, Shortie en Dolf die week se groente vir die hospitaal optel, en al die ander draaie ry. Vyfuur kry hulle my buite op my navy vanity-tassie met my pienk balletkouse, leotard en alice band als in plek. Soms het ons by Lusitania reg naby The Friend-koerant gestop vir vis en chips. Anner dae moes ons net by die huis kom.

Vriendin Dolla Junius skryf nou die dag so mooi: Haar ma het haar geleer ’n lappie vir die bolyf en een vir die onderlyf. Ma Issie het dit ook vir my geleer. Spierwit onderklere net ingeval die dokter dalk in die nag uitgeroep moet word, lapservette, blomme oral in die huis. Áltyd ’n gedekte tafel, al is dit vir jou oatspap vroegoggend.

Jou skoene se hakke mag nie skeefgetrap wees nie, én jou skoene moet altyd skoon wees. Jy dra nie sykouse met lere wat met cutex gestop is nie. Jy sê dankie, al het jy nie lus nie. Jy stap die ekstra myl as dit moet… kaalvoet.

Heel oggend dreig die trane om die walle te oorstroom. Want skielik onthou ek soveel kosbare goed. Soveel waardes wat Moeder by ons vasgelê het. Die mooi stories oor hoe hulle gebid het vir kinders. Die reis om ons te gaan haal. My tassie met kleertjies. My naam JOAN wat voor in die tassie geskryf was. O jitte, we were chosen! Gekose kindertjies! Ooo, ek onthou my rokkies wat by Fichardts in Bloem gekoop is en die toonbank waar ek en Mamma altyd melkskommel en wafels geeet het, soos regte ladies! Ons huis was oorvol met wonderlike kuns, ons het die wonderlikste LP’s gehad, ons het elkeen ’n mooi swart Bybel gehad. Ek moes al my bybelkennis eksamens met lof slaag. Dolf was mamma se liefling-kind wat alles so in sy stride gevat het. Die stil sterk een. Ek dink hoe mamma vir Taro die eerste keer vasgehou het: “Jy moet vir die seuntjie vlerke gee dat hy kan vlieg,” het sy Ouma Issie ingedagte gesê. Hy vlieg, Ouma, hy vlieg!

Wat ’n dag van tob en onthou, ook van skuldig voel met al die hoekom-het-ek-nies.

Ek dink vreemd aan Tannie Mary, my biologiese ma. Dat ek nie happy birthday gesê het in Desember nie. Heeltemal te vasgevang in my eie jaareind-dramas het ek nie onthou nie.

Toe lui die foon laat middag op 22 Januarie. Tannie Mary is dood.

Dis ’n mengelmoes van gevoelens. Hartseer, kwaad, teleurstelling. Hartseer omdat ek nooit weer haar ‘Hello, Dear’ sal hoor nie. Die kwaad en teleurstelling omdat ek 34 jaar lank net ’n klein deeltjie in haar lewe wou wees. Kwaad omdat ek die laaste klompie jare van haar lewe dalk joy en happiness vir haar kon gee. As sy dit sou toelaat.

Die einde van ’n era. Hopelik het al die trane en hartseer my nou uiteindelik losgemaak van daardie fear of not belonging. Hopelik is ek los van gedagtes van nie goed genoeg wees, van alles doen vir aanvaarding. Ek kan net ’n skietgebed sê: “Laat ek nooit ooit weer so voel nie. Amen.”

O, dit is darem ’n ou sad blog so vroeg in die nuwejaar. Maar nou is dit ook verby.

Sondagoggend gooi Taro ’n curve ball. “Glo ma?” Ek is nog besig om al my seëvoels in ’n ry te kry met ’n antwoord toe hy alles wat hy glo in een sin opsom: “I believe in Life.” Voor ek nog kan antwoord kom die volgende sin.

“Ek mis my ma. My joyous happy ma. Vergeet van als negatief. Onthou ma belong by my. what more do you need?”

Amen, my kind! My missie? Om weer soos ’n kind die joy en al die klein wonderwerkies raak te sien. Just to be, not to try and be.

Bella.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Sondagmiddag terwyl ons wag die wind stormsterkte waai vir die adrenlien junkie in die huis,kom daar so ‘n skuins vraag/aantyging terwyl ek nog besig is om die vraag Glo ma te antwoord: waars ma se joy? Moenie dat ander dit steel nie….ma moet die vandag terugvat!!!