mood
Verhoudings

Jou man bederf jou – maar jy kyk rond!

Jou man doen alles vir jou: maak kos, kyk saam na jou gunstelingprogramme op TV, koop selfs vir jou klere waarvan jy hou. Hy aanbid die grond waarop jy loop. Tog voel jy aangetrokke tot ’n gewone ou wat hou van bier drink en sport kyk.

Corné Peach kliniese sielkundige, Kempton Park se raad

Wanneer jy rasioneel dink oor jou man wat so goed is vir jou, maak dit sin om by hom te bly. Hy gee dan werklik vir jou om, het ’n goeie karakter en stel jou behoeftes altyd eerste. Wanneer jy na jou hart luister, dink jy dalk jou lewe is vervelig en voorspelbaar. Jy wonder of hy jou nie dalk versmoor in jul verhouding nie. Jy voel skuldig dat hy so goed is vir jou, want jy kan nie met sy “goedheid” meeding nie.

Dalk is hy die soort mens wat sy eie behoeftes bevredig deur na jou behoeftes om te sien. Ongelukkig kan hy dan onbewus oorafhanklik van jou raak en selfs gee met die verwagting om iets terug te kry. Dan voel jy skuldig, want jy weet nie hoe om dieselfde vir hom te doen nie.

Skielik lyk die man wat TV kyk en bier drink vir jou aanlokliker, want hy is nie altyd so geredelik beskikbaar nie. Jy begin dink dit sou meer opwindend wees om so ’n man se aandag te kry.

Jy het dalk jou identiteit en vriendekring opgeoffer om vir jou man te wys jy fokus net op hom. Nou voel jy jy wil weer sosiaal wees en op jouself of ander mense fokus. Dan word die gewone ou by die werk (en meer vryheid) jou spreekwoordelike “ridder op die wit perd”, sonder dat jy eintlik realisties is oor die uitdagings van ’n verhouding met so ’n man.

Bespreek jou gevoelens met jou man. Verduidelik wat jou frustrasies is wanneer hy heeltyd alles vir jou doen. Hy moet selfondersoek doen, homself die vraag afvra hoekom hy jou so wil bederf. Miskien sukkel hy om sy eie behoeftes raak te sien, omdat hy dalk nog altyd ander mense gelukkig moes hou. (Dalk moes hy as kind baie op ’n ouer se behoeftes fokus.)

Wat kry hy daaruit wanneer hy jou so bederf en wat verwag hy in ruil? Moenie aanvallend wees as jy met hom gesels nie. Oorweeg ’n sielkundige wat in huweliksterapie spesialiseer, sodat julle makliker hieroor kan praat en dit kan oplos

Kobus van der Merwe, huweliksterapeut, Pretoria se raad

Goeie nuus! Daar’s niks fout met jou nie. Almal groei in ’n huwelik, jy ook. Wat dalk skielik vir jou na ’n “fout” voel, is dat jou goeie man jou nie meer opgewonde maak nie. Al probeer hy hard. Elke mens het ’n spesifieke manier waarop hy/sy bederf wil word.

Jou man dink dalk die dinge wat hy vir jou doen, is wat jy nodig het, en hy besef nie dis nie noodwendig wat jy wil hê nie. Julle móét praat hieroor. Jy moet leer om te vra wat jý wil hê en hy moet leer om vir jou te gee wat jy nodig het, nie wat hy dínk jy nodig het nie.

Jou man voel dalk hy wys sy liefde vir jou deur alles vir jou te doen. Hy bedoel dit waarskynlik goed, maar dit kan wees dat hy homself deur jou uitleef. Gevolglik leef hy nie sy eie lewe nie, en jy voel dat jy nie jou eie lewe kan leef nie.

Dalk is jou hunkering nie soseer dat jy ’n gewone ou wat bier drink en TV kyk in jou lewe wil hê nie (dus iemand met sy eie lewe). Dis moontlik dat jy graag jou eie lewe wil hê. Gaan dink na oor presies wat jy wil hê en bespreek dit met jou man, pleks daarvan om hom daaroor te verwyt of na ’n ander man te verlang.

Of wil jy graag eintlik so bederf word, maar as kind is jy nooit “toegelaat” om so spesiaal te voel nie? Mense stap dikwels uit ’n huwelik (deur byvoorbeeld verlief te raak op iemand anders) as hulle emosioneel iets begin beleef wat ontoelaatbaar was as kind. Het dit iets te make met jou verlede? Hoekom sou jy meer tuis voel by ’n man wat jou nie noodwendig so sal bederf soos jou man nie?

Miskien moet die seer van wonde uit jou kinderdae eers genees en jy moet die spreekwoordelike “toestemming” kry om spesiaal te voel en leer om liefde in oorvloed te ontvang. Kry hiervoor hulp by ’n kenner soos ’n huweliksberader of verhoudingsterapeut.

Nóg oor verhoudings