FOTO: Instagram s_lamprell

FOTO: Instagram s_lamprell

Verhoudings

Jou wegsteekgeldjie: plesier of probleem?

Ons giggel oor daardie geldjie – dié wat ons elke maand afknyp en wegsteek. Hoekom doen vroue dit, en is daar ’n ander, dalk beter manier?

’n Onskuldige geheimpie 

Antoinette* sê sy en haar man gesels maklik oor geld en beplan saam vir die toekoms, maar sy het nog altyd ’n spaarfonds wat sy vir hom wegsteek.

“Ek het dit nog altyd só gedoen. As student het ek in ’n restaurant gewerk en my fooitjies kontant gekry. Ek sou dan die meeste van die geld in ’n bankrekening sit, maar het ook van die kontant agter in ’n boek gebêre. Dan sou ek dit gebruik om klere te koop as ek die dag lus het, sonder om my te bekommer of ek dit daardie maand kan bekostig.”

Deesdae haal sy elke paar weke kontant uit haar beursie en bêre dit agter in haar Bybel. “Dis nooit vreeslik baie nie – so R50 of R100 per maand. Maar dis steeds vir my lekker om te weet ek kan myself bederf as ek wil.”

Sy dink nie haar man sal kwaad wees as hy sou uitvind nie, want dis nooit baie geld nie. “Ek vermoed eintlik hy weet daarvan, want hy lag as ek ’n duur rok of iets koop en sê dan iets soos: ‘Ek sien die inkopies was goedkoop dié maand’.

“Dis eintlik net iets wat ek graag vir myself doen. Ek dink daaraan op dieselfde manier as wat ek aan ’n lang bad dink – ek knyp daardie bietjie ekstra tyd, of geld, vir myself af. Daarna is ek in ’n beter bui!”

’n Dieper probleem 

Welmoet Bok, ’n kliniese sielkundige en gesinsbemiddelaar van Kaapstad, sê as jou man eintlik daarvan weet en dis so ’n bietjie van ’n grap tussen julle, is dit moontlik onskadelik, maar dit kán dui op ’n probleem in die verhouding. “Enige geheime of onderwerpe wat jy voel jy nie met jou maat kan bespreek nie, kan jul verhouding vergiftig – veral as dit ’n gewoonte is waarmee jy gaan aanhou.”

Geldsake is een van die grootste en algemeenste probleme in verhoudings, sê sy, omdat dit so ’n belangrike deel van jul albei se lewe is.

“Jy kan nie hoop op ’n intieme, betekenisvolle verhouding met jou man as jy jou finansies van hom weerhou nie. Julle kan dan ook nie ingeligte besluite oor jul toekoms saam neem nie.

“Verhoudings word op vertroue gebou. As jou geheim sou uitkom, al was dit onskuldig, kan dit jul vertroue skend. Dit wys jy is nie jou ware self in die verhouding nie, dat julle dalk kommunikasieprobleme het, daar nie genoeg intimiteit is nie of dat julle mekaar nie genoeg vertrou nie.”

Vroue wat geld wegsteek, voel dalk of hulle nie beheer het in die verhouding nie, en glo dít kan nie verander nie. Maar vir jou verhouding om te groei, moet julle albei voel julle het ’n invloed, sê Welmoet. Dit kan ook beteken sy vermy moeilike onderwerpe (soos jou ma met haar duur skoene, en die gevolglike stryery daaroor) en sy moet dus werk daaraan om selfgeldend te wees.

Vra jouself af hoekom jy dié geld ’n geheim wil hou. Lê die probleem by jou, of in jul verhouding? In ’n gesonde verhouding kan julle openlik oor geld praat, sê Welmoet, en is julle op dieselfde bladsy oor hoe julle as paartjie finansies hanteer.

Lees ook