FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

SARIE-blogs

Verhoudingsblog: As jy die moer in is

In dié blog gee Imago-terapeut Francois Esterhuizen van Stellenbosch ons ‘n interessante perspektief op ons woedebuie. Imago-terapie fokus op verhoudings en gee paartjies en gesinne hulpmiddels en perspektief tydens enige fase van die verhouding.

Indien jy vrae vir Francois het, stuur dit per e-pos na francois@vuurdoring.co.za of skakel hom by 082 444 183.

Die bron van frustrasies

Om ontsteld te wees is iets wat jy voel wanneer jy koffie op jou klere mors of as jy ‘n boete kry. Om die moer in te wees is iets wat jy voel teenoor die mense naaste aan jou. Jou partner kan met net een verkeerde sin of kyk maak dat jy van ‘n kalm en volwasse mens, wat goeie rasionele besluite neem, verander in ‘n demoonbesete kryger wat in staat is om slange te vang.

Of miskien is jy aan die ander kant van die spektrum en jy trek heeltemal in jou dop terug, sluk jou tong in en kry ernstige gehoorverlies. Of klim jy in die kar en ry? Of vertel jy vir jou kinders: “Nee, jou pa is weer …” of “Jou ma is mos …”

Die mense vir wie ons die meeste omgee, is dikwels ook die mense wat ons die meeste frustreer. Dit is dan maklik om te dink dat dit die ander persoon is wat moet verander. Dit is nie noodwendig so nie. Jou frustrasies is joune. Dit is nie iets wat almal frustreer nie, dit frustreer jou. Ek weet dit is nie lekker om te hoor nie, maar dit is waar – die bron van die meeste van ons frustrasies lê in onsself.

Daarom kan ons nie aandring daarop dat ons partners anders moet optree en dan vies raak vir hulle as dinge dieselfde bly nie. Ons moet bereid wees om te vra vir hulp met ons frustrasies.

Die moeiliker ding om te doen is om te vra: “Hoekom pla dit my?” Ek weet jy wil soos ek sê: “Want dit is nie reg nie!”. En ja, soms is iets nie reg nie, maar die meeste frustrasies kom nie op reg en verkeerd neer nie.

Hier is die wrede waarheid: Dit is nie jou partner se gedrag wat jou ontstel nie, maar jou opinie oor die gedrag wat jou ontstel.

Indien jy enige ander verhoudingsvrae het, stuur dit per e-pos na lucelle.hough@sarie.com

Vir vrae oor dié blog stuur vir Francois e-pos by francois@vuurdoring.co.za

Besoek ook gerus sy webtuiste of skakel hom by 082 444 183.