Verhoudings

Is jy veilig by jou geliefde? Vra jouself dié 13 vrae

Ons verhoudings bied nie altyd die liefde en vertroeteling wat ons toekom nie. In SA word een vrou elke agt uur deur haar maat vermoor. Maak seker jy sien enige gevare betyds raak.

Is jóú maat ’n gevaar?

Prof. Anni Hesselink van UNISA sê daar is gewoonlik ’n sneller wat ’n man daartoe dryf om sy maat te vermoor. “Dis gewoonlik iets wat hom bedreig laat voel, of hom laat voel hy verloor beheer of mag. In die meeste gevalle is dit wanneer jy gedreig het of besluit het om hom te los, of hom gelos het. Ander algemene snellers wat tot moord lei, sluit in jaloesie (oor jou finansies, intellek, sosiale status of die vermoede of wete dat jy ’n ander man ontmoet het), wraaksug, gevoelens van teleurstelling, agterdog en mislukking.”

As jy ja sê op meer as vyf van die volgende vrae, moet jy op jou hoede wees.

Vra jouself af

  • Verkleineer of beledig hy jou?

  • Het hy erge woedeuitbarstings?

  • Is hy aggressief?

  • Het julle seksuele probleme?

  • Stamp of slaan hy jou?

  • Verander jy jou gedrag, kleredrag, haarkleur, wat jy eet, vriende, ens. om hom gelukkig te maak?

  • Wil hy heeltyd in beheer wees en al die besluite neem?

  • Probeer hy jou heeltyd verander en aanvaar jou nie soos jy is nie?

  • Is hy baie jaloers en besitlik? (Kyk hy bv. na jou selfoon- of Facebook-boodskappe)

  • Is/was jy al ooit bang vir hom?

  • Voel jy geïsoleer? (Belet hy jou bv. om sekere dinge te doen/ mense te sien?)

  • Is jy die een wat altyd jammer sê of jou keuses prysgee ter wille van syne?

  • Het hy ’n obsessie met vuurwapens?

*Dié inligting kom uit die artikel “Is jy veilig by jou geliefde?” in jou Julie 2014-uitgawe. Dié uitgawe is nie meer op die rak nie, maar jy kan dit steeds digitaal aflaai – klik HIER.