Verhoudings

Kersfees sonder die klein jakkalsies

Die feestyd is familietyd. Jy is lief vir hulle, ja. Maar elke jaar is daar ook dinge wat opnuut knaag …

Dis altyd lekker om oor Kersfees weer familie en vriende te sien. Dis vir baie van ons ’n heerlike tyd van saamkuier ná ’n besige jaar. Maar dié tyd kan ook sy eie onderstrominge en spanning meebring, veral daardie krapperighede waaroor daar nie altyd hardop gepraat word nie. As dit jou raak, doen iets daaraan, sodat jy dit regtig bedoel as jy vanjaar sê: “Ek kan nie wag om julle weer volgende Desember te sien nie!” Hier’s raad.

SARIE-leser:

‘Ek glip in my ou rol’

“Hoekom word ek weer soos ’n kind die oomblik dat ek saam met my familie
is? Ek is weer die staatmaker-ousus wat alles vir almal moet doen. Terwyl my broers en susters hulle soos tieners gedra. En almal aanvaar dis hoe dit is.”

Wirika Field – Sielkundige, Pretoria

Jou ouers het jou waarskynlik meer verantwoordelikhede as jou jonger broers en susters gegee. Jy het jou so goed van jou taak gekwyt, jou gesin het geleer hulle kan op jou staatmaak. Jy weet nie hoe om die verwagtinge op ’n nuwe manier te hanteer nie en voel elke keer uitgebuit en gegrief. Solank as wat jy alles doen, gaan hulle niks doen nie. Hulle bly dus afhanklik van jou en jou “kindrol”. Dit weerhou hulle daarvan om verantwoordelikheid vir hul eie gedrag te aanvaar. Tog klink dit asof jy gemotiveerd is om dit te verander. Jy wil dalk nie jou staatmaker-rol heeltemal opgee nie, maar wel ’n keuse hê oor wanneer en hoe jy dit doen. Praat met jou gesin. Sê dis nie meer lekker om alles te moet doen nie. Vra hulle om jou daarvan bewus te maak as jy eerste inspring om iets te doen. Of ander se verpligtinge wil oorneem omdat hulle dit nie doen nie. Maak dit duidelik dat jy nie elke keer gaan “ja” sê as iets van jou verwag word nie. Die grootste uitdaging gaan dalk wees om nie in te gryp as hulle hul plig versuim nie. Dit neem tyd om aangeleerde gedrag te verander. Sê grappenderwys as jy per ongeluk in jou rol glip, “Hier doen ek dit al weer!” En doen dan iets anders.

Elizma van der Smit – Sielkundige, Klerksdorp
Ons het sekere rolle binne ons gesin. Die rebel of swartskaap wat vir alles
geblameer word, of die fokus van ander mense en probleme aflei. Of die grapmaker wat die gesin se pyn/ spanning probeer verlig. Daar is die een wat onsigbaar probeer wees, nooit betrokke wil raak nie en dikwels nie huis toe kom nie. Of, soos jy, die versorger wat altyd die “regte ding” probeer doen, hard werk, presteer, na almal omsien en hulle ondersteun. Dis diep in jou psige gegraveer en jy hang weer daardie mantel om die oomblik dat jy by jou gesin is. Sien jou rol binne die gesin raak, asook die gevolge daarvan. Hou op om perfek te probeer wees, of om jou familie perfek te probeer maak. Besef jy kan nie ander mense verander nie, net jou eie gedrag en denke. Moenie altyd gereed wees om alles vir almal te doen nie. Leer om “nee” te sê en stel duidelike grense. Begin stelselmatig verantwoordelikhede aan die ander gesinslede teruggee. Ja, hulle gáán teenskop. Moenie bang wees vir konflik nie. Gee aandag aan jou eie behoeftes en hartseer. Dié rol is dikwels net ’n manier om jou aandag van jou eie probleme af te lei.

SARIE-leser:

‘My kinders & syne baklei’

“Ek is verlede jaar vir die tweede keer getroud. Sy kinders kom elke tweede Kersfees na ons toe. Dis óns beurt vanjaar. My tieners en syne kom nie goed oor die weg nie. Dis asof hulle mekaar net nie kan vind nie. Kersfees is tog ’n tyd wat jy vrede wil hê.”

Kobus van der Merwe – Verhoudingsterapeut, Pretoria
Moenie die fout maak om jul kinders al die aandag te gee, ten koste van jul huwelik nie. Of om selfs saam met die kinders in vyandige kampe teenoor mekaar te staan te kom nie. Dan word dit ons teen julle. Dis belangrik dat julle, die ouers, die volwassenes bly. Julle kan dus nie deel word van die kinders se konflik nie. Los die kinders, al is dit moeilik. Hulle hoef nie van mekaar te hou nie, selfs al is dit Kersfees. Dit is nie ’n krisis as jy nie van iemand hou nie. Ook nie om nog seer te wees oor dit wat verby is nie. Jul kinders het nou julle ondersteuning en begrip nodig, pleks van nog ’n geveg. Natuurlik sal die kinders se
ongelukkigheid met mekaar julle, hul ouers, raak. Praat reguit met mekaar daaroor, en net met mekaar, maar moenie toelaat dat die kinders se ongelukkigheid verwydering tussen julle bring nie. Hoe gesonder jul huwelik is, hoe beter die kans dat jul kinders mekaar gaan vind. Die gehalte van jul huwelik het ’n groot impak op hulle. ’n Stewige huwelik sal die kinders die sekuriteit gee om hul probleme met mekaar op hul eie tyd deur te werk. En elke Kersfees kan ’n treetjie nader wees aan ’n hegte, gelukkige gesin.

Dr. Madeleine Nolte – Verhoudingsterapeut, Universiteit van Pretoria

Dis belangrik dat jy en jou man uiteen mond praat. Ruim onderlinge geskille tussen julle so gou moontlik uit die weg. Met ’n tweede huwelik voel tieners dikwels afgeskeep, of hulle sien die ander man/vrou en sy/haar kinders as indringers. Hou gereeld ’n gesinsvergadering. Nie lank nie, aanvanklik net sowat tien minute. Laat almal saam aan ’n gepaste naam dink en kies ’n oorspronklike woord vir sulke ontmoetings. Elkeen kry dan ’n beurt om hul sê te sê. Een van die kinders kan vooraf ’n “agenda” opstel – dié taak word afgewissel. Kies ’n spesifieke tyd oor die naweek wat vir almal gerieflik is. Praat oor knelpunte, oplossings en ook lekker dinge, soos vakansies en die Kersete en -versierings. Moenie moedeloos raak as die gesels nie dadelik vlot nie. Sommige tieners praat makliker as ander. Skep ’n gesellige stemming en laat elkeen belangrik voel. Leer hulle om “ek-boodskappe” te gebruik om hul gevoelens en behoeftes oor te dra. “Ek voel …”, “ek dink …” Teenoor “jy-boodskappe”, wat aanvallend en aggressief kan klink. Bring ook alleentyd saam met jou eie kinders deur. Fokus op elkeen se belangstellings. Moedig hulle aan om te gesels oor die hoogte- en laagtepunte van die week. Dit laat tieners makliker uit hul dop kruip.

SARIE-leser

‘Skoonma piep hom op’

My skoonma tree op asof sy die beste weet wat my man se behoeftes is. Op
Kersdag, wanneer ons almal heeldag saam is, kan jy dit nie miskyk nie – sy skarrel agter hom aan met iets te drinke of beduie aan my van watter “vleisies hy nou eintlik hou” en laat my onbekwaam voel. Goed, hy gaan seker daarvan hou as sy klere opgevou en sy koffie aangedra word, maar hy is ’n volwasse man en ek is nie sy ma nie. Sy probeer my seuns net so bederf. Ek wil nie hê hulle moet eendag van hul vrou verwag om alles vir hulle aan te dra nie.

Elizma van der Smit – Sielkundige, Klerksdorp

Besef jou skoonma se gedrag is ’n natuurlike deel van moederskap. Al is haar kind groot, hou sy nooit op om te voel sy moet hom (en sy seuns) versorg nie. Om te verwag sy moet dit opgee sodat jy die enigste invloedryke vrou in hul lewe is, is om die onmoontlike te verwag. Moenie met haar probeer meeding nie. Jou rol is om ’n vrou vir hom te wees, nie ’n ma nie. Al verwar sy dan ook die twee rolle. Aanvaar en respekteer haar “voorskrifte” met ’n glimlag. Dit beteken mos nie jy gaan dit so doen nie. By jou huis is jy die koningin en jy bepaal hoe jou huishouding verloop. Besef haar bedoelings is nie negatief nie en sy wil waarskynlik niemand seermaak nie. Moenie haar opmerkings persoonlik opneem nie. Jou man het jou gekies en hy het goeie redes daarvoor gehad. Jy het vir seker jou eie styl en sterk punte. Weet sy stel waarskynlik opreg in jou kinders belang. Bederf is waarskynlik die enigste manier wat sy ken om haar liefde te wys. Moenie bekommerd wees dit gaan hul siening van vroue beïnvloed nie. Jy is mos ’n veel sterker voorbeeld.
Onthou, jy gaan dalk ook eendag ’n skoonma wees wat jou seuns moet “opgee”. Hoe sou jy dit hanteer het? Wanneer jy regtig nie saamstem nie, wees ferm en duidelik, maar altyd met respek. Fokus op die dinge wat sy goed doen, eerder as haar swak punte (nes jy verwag sy moet doen).

Kobus van der Merwe – Verhoudingsterapeut, Pretoria

Dit lyk so eenvoudig. Jý dink jou skoonma moet besef haar seuntjie is nou groot. Jou man voel sy ma wys maar net sy is lief vir hom. Maar wat broei dieper? As jy as kind “oorversorg” was, raak jy dikwels op iemand verlief wat “onderversorg” was. Dus: As jy vreeslik opgepiep is, of moes oorpresteer of heeltyd ’n voorbeeld stel, gaan jy op iemand verlief raak wat min ondersteuning gehad het, of nooit raakgesien is nie, of daar is ’n groter ophef van sy broers en susters gemaak. As jy “oorversorg” was, is jy versigtig vir te veel “kontak”. Jy onttrek, raak stil. As jy “onderversorg” was, is jy oorsensitief dat jy afgeskeep of verlaat gaan word. Jy is geneig om te klou. Jou man is waarskynlik as kind
“oorversorg”. Sy ma doen dit nou nog. Sy ken nie haar grense nie. Dit wek waarskynlik vrese uit jóú kinderjare: Ander mense kry meer aandag, of dat jy jou geliefdes gaan verloor. Nou probeer jy jou man en kinders behou, veral jou man. (Jy raak afhanklik, klouerig, manipulerend.) Hy voel jy versmoor hom, nes sy ma. En hy onttrek. Vertel jou man hoe jy voel, eerder as om hom te vertel hoe hy moet optree. Soos: “As jou ma spog sy weet eintlik hoe jy van jou vleis hou, voel dit ek is nie goed genoeg nie.” Hy sal dan makliker na jou luister en jou ondersteun. Dit gaan op sy beurt die seerkry uit jou kinderjare help genees.

SARIE-leser:

‘My familie het troukoors’

Ek sien op na vanjaar se familiesaamtrek. Ek is ongetroud en daar is druk
dat ek tog net ’n man moet kry. Kon ek vanjaar maar oorsee gegaan het. Maar
daar is altyd die verwagting dat ek dit moet bywoon, veral omdat ek boonop mos nie verpligtinge soos ’n man en kinders het nie.

Wirika Field – Sielkundige, Pretoria
Probeer familie-verhoudinge as ’nvoorreg eerder as ’n plig sien. Só raakjy ontslae van die persepsie dat jy aan jou familie se verwagtinge moet voldoen. As volwassene is jy ook geregtig daarop om jou eie besluite te neem. Oor jou intieme verhoudings, maar ook of jy die jaarlikse familiesaamtrek wil bywoon. Sien ook jou familie se navrae oor jou enkelstatus as ’n weerspieëling van hul eie behoeftes en nie soseer as kommentaar op jou keuses en besluite nie. Hulle wil byvoorbeeld dalk so graag hê jy moet trou omdat hulle regtig omgee. Dit sal dan vir jou makliker wees om navrae op ’n speelse wyse te hanteer. Soos: “Nee wat, ek is nog lank nie gereed om my aan ’n man te verbind nie!” Dieselfde geld moontlike verwyte indien jy sou kies om Kersfees oorsee te gaan. Sien dit eerder as ’n refleksie van jou familie se teleurstelling om jou nie te sien nie. En nie as kritiek nie. “Ek verstaan dat julle teleurgesteld is dat ek besluit het om oorsee te gaan. Ek is steeds lief vir julle en kuier graag weer in die toekoms saam met julle.” Woon dus die familie-saamtrek met ’n nuwe perspektief en ander benadering by. Of beplan jou oorsese vakansie met die wete dat jou familie se reaksie hierop nie definieer wie jy is nie. Dis jou keuse.

Dr. Madeleine Nolte – Verhoudingsterapeut, Universiteit van Pretoria
Die situasie kan dikwels met humor ontlont word. Visualiseer vooraf ’n paar moontlike vrae en jou antwoorde: “Het jy al ’n kêrel?” “Jou biologiese klok tik …” “Weet jy nie hoe ’n groot vangs jy is nie?” As jy voorbereid is, kan jy baie beter op jou voete dink. Bedank jou familie vir hul besorgdheid en belangstelling. Sê tong in die kies hulle sal eerste wees om te hoor as daar ’n ridder op sy perd opdaag. Praat ook vooraf met jou ma. Gee haar die versekering dat jy graag iemand in jou lewe wil hê. Jy het spesifieke behoeftes en verwagtinge van ’n toekomstige lewensmaat en tot dusver het die regte een nog nie opgedaag nie. Gee haar ook die versekering dat jy jouself nie afsonder nie, maar genoeg vriende het. ’n Ander uitweg is om die familiesaamtrek te vermy en juis jou eie ding te doen. Gaan hou saam met vriende vakansie of beplan een op jou eie. Sommige mense doen ook gemeenskapsdiens op Kersdag, soos in hospitale en tehuise vir bejaardes, sodat die gewone verpleërs/versorgers die dag kan afneem. Daar is ook ’n derde keuse: Neem ’n mansvriend saam en vertel hom wat die situasie is. Stel hom as ’n vriend voor, nie ’n kêrel nie. Miskien sal dit hul monde snoer, of hul nuuskierigheid aanwakker. Onthou, jy sal altyd nuuskierige, bemoeisieke mense teëkom. Hanteer hulle met ’n knippie sout. Wei uit oor die voordele van alleenwees. Wie weet, dalk beny van hulle jou in die stilligheid.

KONTAK

  • Kobus van der Merwe: kobus@huwelike.co.za, www.huwelike.co.za
  • Elizma van der Smit 018 468 5365, gvdsmit@lantic.net
  • Wirika Field 012 548 0274, www.wix.com/wfield/practice
  • Dr. Madeleine Nolte 082 490 1804, madeleine.nolte@up.ac.za.