Verhoudings

‘n Ingewikkelde verlede

‘Ek is al 10 jaar geskei en het nou ’n verhouding met ’n man met ’n ingewikkelde verlede. Hy was in die tronk. Hoeveel keer hy getroud was, en of hy ooit geskei is, weet ek nie.

Ons is mal oor mekaar, maar ek weet nie of daar ’n toekoms vir ons saam is nie. Hy het nie kontak met sy kinders nie. Myne hou nie van hom nie. So nou en dan bel sy eerste vrou hom, maar hy weier om met haar te praat. Hy het niks nie, ook nie ’n motor nie. Hy sê hy het alles verloor.

Hoe kan ek uitvind of hy geskei is? Ek het sy ID-nommer.’

Terry de Vries Nel
Energieterapeut van Stellenbosch

ANTWOORD
    •    Mense raak verlief of betrokke in ’n verhouding omdat hulle nie alleen kan wees nie, het die Zen-meester Osjo gesê. Hy het verduidelik alles wat jy doen, doen jy omdat jy bang is om alleen te wees. Niemand, nie jou huidige maat of jou droom van ’n ridder op ’n wit perd, kan daardie alleenheid uitvee of jou gelukkig maak nie. Dis alles net ’n fantasie.

Geluk lê nie buite jou nie: Dit lê binne jou en wag om ontdek te word. Net so lê die antwoord op alleenheid nie buite jou nie, maar binne. Dis tyd dat jy op ’n innerlike reis gaan, stil word en jouself beter leer ken. Skryf elke oggend minstens twee bladsye van wat in jou kop aangaan. Skryf tot jou kop skoon is. Teken en kleur mandalas in – dis die vinnigste manier om by jou onderbewuste uit te kom. Bestee tyd saam met jou kinders – lag, dans en sing saam. Begin ’n stokperdjie – maak tuin, neem foto’s of verf borde – enigiets wat jou kreatiwiteit sal laat blom. Word wakker! As jy nie die man kan vertrou nie, hoekom jou tyd mors?

Truida Heymann
Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis


ANTWOORD

    •    Rooi ligte flikker vir my, en jy is self skepties. Maar jy het waarskynlik die warmte en emosionele en fisieke intimiteit nodig – jy was lank alleen.

    •    Liefde is blind en verliefdheid kan mens se intuïtiewe aanvoeling oorskadu, veral as die man boonop ’n goeie minnaar is. Iemand wat in ’n tronk was, het soms ’n skadukant waaroor hy nie beheer het nie. Dis in skrille kontras met sy sjarme, warmte en sagtheid, wat hy gebruik om jou te manipuleer. Jou kinders is dalk reg.

Kinders se intuïsie is fyn ontwikkel en hulle voel dalk die narsistiese aard van sy liefde aan. Jy wil hom nie direk oor sy verlede uitvra nie, dalk omdat jy sy reaksie vrees – sy woede of verontwaardiging. Natuurlik dui sy gebrek aan kontak met sy kinders op ’n mens wat eenvoudig dele van sy lewe kan uitsny. Iemand met ’n gesonde gewete sal nie sy kinders verwerp nie.

    •    Dié man het waarskynlik tog ’n rol in jou lewe gespeel – dalk om jou minnares-energie weer wakker te maak en jou selfbeeld as vrou te herstel. Hy het jou dalk voorberei vir die regte persoon wat nog moet kom. Gaan sien ’n terapeut wat jou kan help om die verhouding op die beste manier moontlik te beëindig. En jou deur ’n onafwendbare rou-proses kan begelei. As jy dapper genoeg is om deur dié donker stroom te swem, skep jy vrugbare grond vir ’n nuwe en meer konstruktiewe verhouding.

James de Villiers
Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid


ANTWOORD

    •    Sonder om lighartig te klink: Ek kan verstaan dat jy “mal” oor hom is. Want dit moet ’n baie sterk emosie wees wat jou só sterk na hom aantrek. Al is daar soveel flikkerende rooi ligte: die onsekerheid, wantroue, gebrek aan openhartige kommunikasie, innerlike konflik, teenkanting van jou kinders, sy swak verhouding met sy kinders en sy gebrek aan materiële sekuriteit. Ek hoor nogal iets van die law of attraction (“soort soek soort”). Is dit dalk in julle geval die vrees vir alleenheid en verwerping weens onverwerkte trauma?

Dit kan lei tot ’n soeke na iemand wat vergoed vir dié gemis aan liefde. Maar terselfdertyd vrees jy dat jy weer kan seerkry, daarom is jy wantrouig en versigtig. Tog verbreek jy nie die verhouding nie. Jy het rede om versigtig te wees. Die “mal-wees” oor mekaar is ’n tydelike “verdowing”. Dit sal egter nie vir altyd vergoed vir jou behoefte aan intimiteit en sekuriteit nie. Soek professionele hulp en ontdek eers dat jy in jouself gelukkig kan wees. Dan sal jy ’n man kan aantrek wat ook gelukkig in homself is, iemand by wie jou kinders veilig kan voel.
Marieke Brand
SARIE-leser

ANTWOORD
    •    Vra jy of ’n verhouding met dié man ’n goeie ding is? Die antwoord is tog voor die hand liggend: Net as jy jouself en die mense wat vir jou omgee baie leed wil aandoen. Jy kan sekerlik by die departement van binnelandse sake vasstel of hy getroud is. Maar as jy hom nie vertrou om eerlik daaroor te wees nie, sinspeel jy daarop dat hy onbetroubaar is. Wil jy regtig ’n verhouding met ’n man hê wat jou niks kan bied nie, wat jy nie vertrou nie en wat jou van jou kinders gaan vervreem? Maar belangriker: Waarom oorweeg jy dit enigsins? Dink jy dalk dat jy nie iets beters verdien nie? Wil jy jouself, of iemand wat vir jou omgee, daardeur straf? Kom jy teen iets in opstand? Ek wonder ook waarom jy dié brief geskryf het. Jy het tog geweet wat die antwoord gaan wees – geen regdenkende mens gaan jou aanmoedig om met die verhouding voort te gaan nie. ’n Dreigement om jouself leed aan te doen (wat dié brief op ’n manier is), is dikwels ’n noodkreet. Kry liewer professionele hulp en probeer vasstel waarom jy só ’n selfvernietigende koers oorweeg. Leer om in jouself te glo – en dat jy verdien om gelukkig te wees. En as daar dan ’n goeie man oor jou pad kom, is dit ’n bonus.