John en Anesca de Witt SARIE leser
Verhoudings

Liefde op die web

Anesca de Witt, ’n administrasiebeampte van Benoni aan die Oos-Rand, en John, n besturende direkteur, albei veertigplussers, is in Mei 2013 verloof. Anesca vertel hoe hulle deur die internet ontmoet het. 

“Sterre in die oë is ek in 1989 getroud en 22 jaar later, in Januarie 2002, is ek geskei.

Daar is geen wenners in ’n egskeiding nie. Ek is net baie dankbaar oor my 23-jarige dogter … Ek het sowat ’n jaar later besluit ek wil weer my lewe met iemand deel. Ek wou nuwe gesinstradisies vestig, gesinsvakansies hou … Maar wáár sou ek iemand ontmoet?

Ek was nie meer sorgeloos en twintig nie. ’n Paar vriende het my aan mense voorgestel, maar dit het nie uitgewerk nie. Toe kry my nuuskierigheid die oorhand en ek besluit om ’n afspraak-webtuiste uit te probeer.

Ek het my profiel baie eerlik en deeglik ingevul. Wat het ek gehad om te verloor? Boonop wou ek mense buite my vriendekring ontmoet. Ek het ook besef baie mans, veral besige sakelui, het nie tyd om op konvensionele maniere mense te ontmoet nie. Ek sou deur die internet aan soveel meer mense blootgestel word. En dis boonop veilig. Jy bepaal wie jy wil sien. Jy stel ook nie jou kind bloot aan vreemdelinge nie.

Kort voor lank was daar 80 boodskappe van belangstellendes, maar ek het in daardie stadium nog nie my lidmaatskapgeld betaal nie, so ek kon nog nie terugskryf nie. Ek was ‘n bietjie oorweldig. Een boodskap wat my dadelik geprikkel het, was van ‘Family man’ (John) – jy gee nie jou regte naam op die afspraak-webtuiste  nie. Hy het gesê as ek aansluit, wil hy my beter leer ken. Dit het my gemotiveer om vinnig my lidmaatskapgeld te betaal. Ek het daarvan gehou dat hy ‘n voorstander is van sterk gesinswaardes. In ons vyf uur lange skriftelike boodskappe het hy my vertel hy is al jare daarop en wou my waarsku teen skurke. Toe word hy my ‘afspraak-mentor’. Ons het kort daarna een aand ontmoet by ’n plek van my keuse.

Ek het gedink ek is mal om te gaan, maar ’n ‘stemmetjie’ het my gerus gestel. Ek het ook gaan ‘navorsing’ doen oor hom op google en Facebook en het hom vertrou. Dit is die voordeel van aanlyn-afsprake. Wat interessant is, is dat John nét voor ons ‘ontmoet’ het, eintlik die internet-dating wou laat staan …

Ná ’n paar afsprake het my ware jintelman my gevra of ons eksklusief kan uitgaan. Dit het my selfbeeld goed gedoen. Op 45 is dié soort aandag te lekker. Hy is baie aantreklik, pret en hanteer my soos ’n vrou. Sy drie tieners kom goed met my dogter oor die weg. Ons het in Januarie vanjaar op die MSC Opera-plesierboot verloof geraak.

Anesca de Witt en John

John en Anesca

Daar is geen rede om alleen te wees nie. Ons was lank vriende voor ons romanties betrokke geraak het. Ek verkies dit so. Die internet is ’n baie goeie opsie vir geskeide vroue (en mans) om toekomstige liefdes te ontmoet. Maar jy moet ook bedag wees op die gevare …”

Wenke vir internet-dating

  • Moenie maande lank vir mekaar skryf nie. Ontmoet so gou as moontlik.
  • Vir veiligheid, vertel ‘n vriendin altyd wanneer en waarheen jy gaan. En ontmoet in ’n openbare plek.
  • Moenie jou profiel vir langer as ses maande op hou nie. Neem liefs ’n breek.
  • Betaal vir jou eie koffie of ete – dan skuld jy niemand iets nie.
  • Mans stel nie daarin belang om te luister hoe jy jou vorige kêrel haat nie. Beweeg aan.
  • Onthou, mans sien ’n desperate vrou op ’n myl raak.

INLIGTING: Anesca de Witt