Social
My kind

Louis en Lise se Wie is ek: Sosiale media en tieners

Hierdie week bespreek ons die rol en invloed van sosiale media en spesifiek hoe dit tieners raak. Ons gesels met leerders van Bloemhof Hoërskool en Paul Roos Gimasium om hulle opinies te kry.

LISE: Louis, baie volwassenes kla omdat tieners konstant op hulle selfone besig is, selfs al is hulle fisies by mekaar. Daarmee saam hoor mens van gevalle waar tieners deur middel van sosiale media te doen kry met mense en dinge wat hulle in die moeilikheid bring. Waarmee is hulle besig én wat is die gevare van sosiale media?

LOUIS:  Mens moet eerstens besef dat tegnologiese kommunikasie baie verander het.  As mens mooi kyk, doen tieners niks anders as wat volwassenes as tieners gedoen het nie – hulle gebruike net ander metodes. Ons het as tieners ook gereeld ons vriende gebel en vir hulle briefies gestuur. Moderne tegnologie maak dit net baie makliker en vinniger. Ons moet dus oppas om nie sommer vinnig te veroordeel wat ons nie verstaan nie. Selfone is net ’n ander manier van kommunikeer.

Dit gesê, daar is natuurlik ook nadele. Tegnologiese kommunikasie kan sosiale “afgestompdheid” veroorsaak as dit as enigste manier van kommunikasie gebruik word. Dit maak dit ook makliker vir mense met slegte bedoelinge om met tieners kontak te maak.  Dit gebeur ook al hoe meer dat “kuber-boelie” plaasvind, waar kinders op sosiale netwerke beledig en afgekraak word deur skoolmaats of vriende/vriendinne.

LISE VRA:  Dit is verstaanbaar dat ouers begaan is oor wanneer en met wie hulle kinders kommunikeer. Wat staan ouers dan te doen oor hulle tieners se selfoon-gedrag?

LOUIS ANTWOORD: Ek glo dat die antwoord in die vormingsjare lê, en dat die tiener teen dan voorbereid moet wees om enige vorm van kommunikasie te leer hanteer. Opvoeding is dus die goue sleutel, vóórdat die tienerjare aanbreek. Ek dink persoonlik nie dit sal help om die tegnologiese manier van kommunikeer te probeer verhoed nie, dit gaan inteendeel net meer word. Ouers het egter die reg om redelike reëls in hulle huis te verwag en toe te pas. Dit is dus heeltemal aanvaarbaar om byvoorbeeld selfone vir al die gesinslede tydens ete, of ’n gesinsgesprek te verbied. As regverdige straf kan selfoon-kommunikasie vir ’n tyd verbied word, maar doen dit maar slegs by uitsondering.

Ons moet probeer in gedagte te hou dat tienerjare ’n nodige eksperimentele fase is, tot meeste ouers se afgryse. Tieners het nodig om sosiaal hul voete te vind in hierdie tyd, en deesdae is tegnologie die manier hoe hulle dit doen.

LISE: Hoe beïnvloed die eksperimenterende tienerjare ouers se reg om te weet wat op hulle kinders se selfone aangaan?

LOUIS: Hierdie is ’n baie sensitiewe onderwerp.  Ek weet mense verskil in opinie hieroor, maar ek is nogal gesteld daarop dat ouers nie hulle reg moet gebruik om op hulle kinders se selfone te kyk nie. Natuurlik is daar uitsonderings en situasies waar dit genoodsaak word, maar tieners het tog ’n reg op privaatheid. Weereens lê die antwoord in kommunikasie en opvoeding, en op ’n stadium moet mens daarin vertrou. As jy jou tiener nie vertrou nie, het jy ook ’n aandeel in die rede daarvoor, en sal “spioenasie” om die tiener “uit te vang” dit waarskynlik net erger maak.

LISE: Ons neem hierdie gesprek, en nog advies verder in ons RSG-episodes Vrydae, net ná 12:00. Indien jy dit gemis het kan na die potgooi luister op RSG se webwerf: www.rsg.co.za, sleutelwoord “wie is ek”.

WAAR KAN EK VRAE VRA/MY STORIE VERTEL?Louis en Lise