IMG_6421
Gesondheidstories

Louis & Lise se Wie is ek: Saamleef met ’n alkoholis

LISE: In dié week se RSG (Radio Sonder Grense)-episode (Vrydag 12h05) bespreek ons wat mense deurmaak as hulle saam met ’n alkoholverslaafde leef. Ons ontmoet Ingrid (63), wat vir ons haar verhaal vertel. Sy is ná 33 jaar se getroude lewe geskei en haar eksman is verlede jaar aan alkoholverwante probleme oorlede. Baie mens dink dat hul lewensmaat ’n “alkoholis” is, maar wat presies is ’n alkoholis?

LOUIS:  Die antwoord op die vraag is nie so eenvoudig nie. “Te veel” alkohol verskil van mens tot mens. Dit hang baie af van ’n persoon se lewenstyl en werk (en gevolglike “sosiale kuier”), ouderdom, gewig en kapasiteit. Oor die algemeen begin ons praat van alkoholisme as iemand se lewe negatief beïnvloed word deur die gebruik van alkohol, en as dit jou gesondheid, werk, en/of persoonlike verhoudings begin aantas.  Alkoholisme behels twee areas: 1) Fisieke afhanklikheid, waar ’n persoon MOET drink omdat daar liggaamlike onttrekkingsimptome is, en/of 2) Emosionele afhanklikheid, waar die persoon voel hy of sy kan nie situasies hanteer sonder die hulp van alkohol nie. In die geval van fisieke afhanklikheid ontwikkel iemand gewoonlik ’n vorm van toleransie, en moet gevolglik al hoe meer drink om dieselfde effek te kry.

Om met alkoholisme gediagnoseer te word beteken dus nie noodwendig dat jy elke dag groot hoeveelhede alkohol drink nie, of “dronk op straat lê” nie.  Sommige mense wat verslaaf is, gebruik soms vir dae aaneen geen alkohol nie. Maar as dit dan gebeur, word daar gewoonlik in oormaat gedrink (“binge drinking”).

LISE VRA: Wat moet jy doen as jy vermoed dat jou lewensmaat in die greep van alkohol is? Moet jy iemand enigsins konfronteer?

LOUIS ANTWOORD: Daar is geen reël wat sê jy MOET iemand konfronteer nie, maar as jy dit nie doen nie, gaan dit gewoonlik nie vanself regkom nie. As jy dit moeilik vind om saam met iemand te leef as gevolg van sy/haar drankgebruik, is daar seker geen ander manier as om dit direk aan te spreek nie. Die probleem kom in by HOE jy dit doen, aangesien dit baie maklik tot konflik kan lei. Maak ook seker dat jy darem redelik is. Iemand wat drie drankies ’n aand drink is nie noodwendig ’n alkoholis nie, al lyk dit vir jou so omdat jy dalk geen alkohol gebruik nie.

Ek stel voor dat jy jou vrees op ’n mooi manier uitspreek, sonder om die persoon net te beskuldig. Verduidelik dat jy ongelukkig voel, en dat jy ook graag wil hoor wat jy doen wat jou lewensmaat ongelukkig maak. ’n Saak het maar altyd twee kante en dikwels is dit nie so eenvoudig dat net die één persoon die “vark in die verhaal is nie”. Dit is nie te sê dat dit sal werk nie, maar dit is darem ’n regverdige begin. Niemand hou daarvan om aangeval of direk beskuldig te word nie.

LISE:  Wat doen jy as mooipraat nie help nie? Dit gebeur tog nie net dat mense ná ’n eerste gesprek ophou drink nie.

LOUIS: Jy is heeltemal reg, gewoonlik is dit nie genoeg nie. Jy moet besef dat dinge nie vanself verander nie, en jy sal meer druk moet begin uitoefen om jou lewensmaat tot aksie aan te spoor. Jy sal dit baie duidelik moet maak dat jy nie onbeperk so wil leef nie en dat jou lewensmaat die risiko loop om jou te verloor (of sy/haar werk, kinders, wat die geval ook al mag wees). Jy moet oppas om nie dag in en dag uit op dieselfde toon aan te hou “neul” of “karring” nie, want jy kry selde beter resultate deur dieselfde ding oor en oor te doen.

LISE VRA: En as dit nie werk nie?  Baie mense kla dat hulle al ALLES probeer het, en raadop is.

LOUIS ANTWOORD: Dan kom jy gevaarlik naby aan ’n keuse. Ek sou sê dat as jy op die punt is waar jy nie veel het om te verloor nie, jy ’n laaste massiewe poging aanwend. Kry vriende en familielede bymekaar en vra hulp om jou lewensmaat te help oorreed om vir hulp te gaan. Dit is moontlik om van alkoholisme te genees, maar dit is nie ’n maklike pad nie. As jou lewensmaat ten spyte van al hierdie pogings nog nie wil besgee nie, raak dit eintlik ’n eenvoudige maar baie moeilike keuse: Leef daarmee saam, of verwyder jouself uit die situasie. Dit is maklik om dit sommer net so te sê, en natuurlik is dit nie so maklik nie, maar dit is eintlik waarop dit dan neerkom. Maar hou altyd moed, selfs al moet jy van ’n afstand probeer, daar is altyd hoop!

LISE: Ons neem hierdie gesprek en nog advies verder in ons RSG-episode Vrydag 18 Oktober 2013, net ná 12:00. Indien jy dit gemis het, kan jy na die potgooi luister op RSG se webwerf: www.rsg.co.za, sleutelwoord ‘wie is ek’.

Louis en LiseWAAR KAN EK VRAE VRA/MY STORIE VERTEL?

  • Anoniem

    As dit nie vir my man was wat ten spyte van alles by my gestaan het nie sou ek nie alkolisme kon oorwin nie. Moenie net loop nie, die alkholis het hoop nodig, iets om voor te herstel. Ongelukkig is die herstel net so selfsugtig soos die siekte, jy kan dit net vir jouself doen en niemand anders nie.