sr08moodsgreen01rz
Verhoudings

My man se eks maak my mal

Hoe gemaak as jou man se eks jou mal maak? Die SARIE-span het by ’n paar kundiges gaan raad vra. 

’n SARIE-leser het die volgende gevra: “Ek het die perfekte man ontmoet – my trouman. Hy dra my op die hande, is ’n jintelman, ons het dieselfde belangstellings. Hy is dol op sy oulike seun uit sy eerste huwelik. My probleem is nie dat ek skielik ma is nie. Eerder dat sy eksvrou my mal maak. Sy wil hul kind gebruik om mý tyd te beheer. Sy bel, SMS of vra voortdurend wat ons doen, of hy die regte kos kry… Ek wil nie my nuwe kêrel ontstel of die goeie verhouding tussen hom en sy vorige vrou belemmer nie. Dit is belangrik dat die verhouding werk, want ek is lief vir hom. Wat moet ek doen?”

DR. SUSAN ROETS: kliniese sielkundige van Pretoria

Dit is ’n baie algemene dilemma wat suksesvol opgelos kan word, mits jy dit reg bestuur. Jou situasie kan met dié van ’n ruiter op ’n perd vergelyk word. Jy moet die leisels (sy eksvrou) styf vasvat en die perd (jul verhouding) in die regte rigting stuur. As jy toelaat dat sy jou gek maak, vat jy nie die leisels sterk genoeg vas nie. Jy gee haar dus die mag om jou vreugde en geluk te steel.

Volg gerus dié wenke

  • Vertel jouself gereeld hoe lief jy jou vriend het en hoe kosbaar jul verhouding is. Dít sal jou help fokus daarop om die verhouding met sy eksvrou reg te bestuur.
  • Aanvaar dat jou vriend se vorige vrou nie uit jul lewe gaan verdwyn nie. Jý sal moet leer hoe om met haar oor die weg te kom.
  • Moenie jou kêrel aanvanklik daarmee bemoei nie. Probeer dit eers tussen julle twee uitwerk. Later, as dinge ernstiger raak, kan julle ook met hom praat.
  • Maak ’n afspraak en nooi haar byvoorbeeld vir koffie en koek. Sê ferm vir haar dat hoewel jy nie jou eie kinders het nie, jy beheer neem oor haar kind wanneer hy by julle kuier. Jy kan vir haar sê jy verstaan dis vir haar moeilik om hom vir die naweek te laat weggaan,
    maar dat haar oproepe en SMS’e inbreuk op jul privaatheid maak.Vra haar om dit tot noodgevalle te beperk. Julle kan selfs ’n kompromis tref en op ’n tyd besluit wanneer sy wél kan bel.
  • Behandel haar altyd met respek, al is dit ook soms moeilik. Hoe meer wedersydse vertroue groei, hoe meer sal sy julle ook in ag neem.
  • Dit is belangrik om tegemoetkomend te wees. So kan probleme gewoonlik opgelos word. Sy gaan altyd deel van jullewe wees.

SANDRA HITCHCOCK: gesinsfasiliteerder en bemiddelaar van Panorama Psigiatrie- en Geheuesentrum, Bellville

Jou houding is reg: jy het besluit dit is die man vir wie jy lief is, jy wil hom behou en sy kind akkommodeer, want hy is gék oor die mannetjie.

Dit is tot jul almal se voordeel dat die verhouding tussen jou vriend en sy eksvrou goed bly. Navorsing het immers bewys dat aanhoudende konflik ná ’n egskeiding tussen ma en pa die kinders kwaai kan benadeel.

Plaas jou dus in haar skoene. Dalk wil sy jou nie soseer beheer nie, sy wil net seker maak dat haar kind gemaklik is.Vra jouself af hoe jý sal voel om jou kind in ’n ander vrou se sorg te laat.

Jy kan haar gerusstel deur byvoorbeeld vooraf vir haar te vra wat haar seun se eetvoorkeure is, of watter aktiwiteite hom gelukkig en/of rustig maak. Doen dit per e-pos of ontmoet mekaar vir middagete. Om mekaar van aangesig tot aangesig te sien is eintlik die beter keuse.

Die seun sal verlig wees as hy weet die twee vrouefigure in sy lewe kom só goed oor die weg dat hulle selfs sosiaal verkeer en altyd sy belange op die hart dra.

Met dié ontmoeting kan julle dalk besluit hy kan tydens besoeke foto’s aan haar SMS van waar hy byvoorbeeld met die kat speel. Sy ma kan weer foto’s SMS waar sy kosmaak of met haar hond in die tuin speel. Dan weet albei hoe dit met die ander een gaan en almal is ontspanne.

As dít nie werk nie, kry hulp by kundiges. Elke egskeidingsooreenkoms bevat ’n ouerskapsplan wat voorsiening maak vir die aanstel van ’n fasiliteerder wat ouers help met probleme wat hulle nie self kan baasraak nie – in die kinders se beste belang.

VIR HULP

Lees ook