187438075 MOOD getty
Verhoudings

Minder seks? Dis (dalk) goed vir jou!

Voor jy al die paartjies beny wat oënskynlik so baie intiem is … onthou, minder seks kan vir jou werk en meer opwindend wees. Dis bewys!

Slaan jy ’n koerant oop of kyk jy televisie, lyk dit vir jou asof die hele wêreld meer seks het as jy en jou maat. Jy wonder dalk of iets verkeerd is met jou of jul verhouding, want julle het dan (net) drie keer ’n maand seks. Maar nou is daar goeie nuus: ’n Studie het bewys dat paartjies minder seks het én dat minder seks goed kan wees vir jou.

Jy is inderdaad nie al vrou wat (net) enkele kere per maand seks het nie. In ’n splinternuwe Britse studie, die National Survey of Sexual Attitudes and Lifestyles (Natsal), is bevind dat ons veel minder seks het as ooit tevore. Maar, ons eksperimenteer meer en die seks is daarom beter. Die stigma aan verskillende soorte seks (bv. orale of tantriese seks) het boonop afge- neem en vroue praat meer openlik daaroor, wys die studie ook.

Paartjies het beslis minder seks as voorheen: In 1990 was dit gemid- deld vyf keer ’n maand, in 2001 vier keer, en in 2012 drie keer ’n maand, lui die studie. Amerikaanse en Franse navorsing ondersteun hierdie tendens, wat onder meer toegeskryf word aan die finansiële druk wat ons noodsaak om langer en harder te werk, en aan die tegnologie: iPads en selfone word selfs slaapkamer toe gedra.

Voor jy met jou maat oor seksuele frekwensie gesels, behoort jy jouself te vra wat met seks bedoel word. “Dis soveel meer as penis-vagina-kontak,” sê Elmari Mulder Craig, seksuoloog van Pretoria. As julle aflei dat julle minder kere as ander pare seks het, behoort jul verhouding steeds gesond te wees: Julle behoort fisieke en emosionele intimiteit te hê, reken sy. Soos om by mekaar te sit, hande vas te hou, lank te soen of om sommer net by mekaar te wil wees. Emosioneel behoort julle waarlik vir mekaar om te gee; mekaar te wil bystaan en te wil help. Indien nie, behoort jy jouself te vra: Hou ek nog van my maat?

“Minder seks gaan net vir julle werk indien julle baie goed daaroor kan kommunikeer en intimiteit in jul verhouding het,” beklemtoon Elmari.

As julle seker is dat julle steeds lief is vir mekaar en geen ander seksuele probleme, soos vaginale droogheid, impotensie of ’n te lae testosteroon- vlak (ja, vroue het ook dié hormoon) het nie, kan minder seks selfs goed wees vir jul ver- houding. Trouens, dit kan verskeie voordele inhou:

  • Julle sal meer geneig wees om ’n afspraak-aand met mekaar te reël,
    sê Leandie Buys, seksuoloog van Port Elizabeth. Dit kan beteken dat julle na jul gunsteling-restaurant gaan en sonder onderbreking gesels. Só verbind (connect) julle weer met mekaar. Omdat julle lekker gesels en intimiteit deel, is die kanse veel groter dat julle in die bui vir seks sal wees.
  • Omdat julle minder seks het, besef julle die belangrikheid daarvan wan- neer julle wél intiem verkeer. Julle sal julself ook meer beweegruimte gee om dit anders te doen. Dit kan beteken dat julle die standaard-sendeling-posisie vir iets meer opwindends kan verruil, of dat julle sal lees oor nuwe tegnieke. Jy lees ook dalk oor presiés waar jou maat se erotiese sones lê.
  • Julle begin opsies oorweeg waaraan julle dalk nie vantevore gedink het nie: Minder kan inderdaad vernuwende seks beteken. Soos Elmari sê, daar is verskillende maniere om seks te hê. Soms is julle in die bui en het julle tyd vir ’n lang sessie, ander kere kan ’n quickie lekker en baie passievol wees. Partykeer sien julle dalk kans vir “alternatiewe” seks: As julle gewoond was aan net intiem wees in die slaap- kamer, probeer julle dit dalk nou in die swembad of tuin of op die motor se enjinkap. Dalk probeer julle vir die eerste keer orale seks of sien julle kans om te eksperimenteer met seksspeel- goed of rolspel. Omdat julle nie elke tweede aand intiem is nie, het julle dalk meer energie en is die seksuele ervaring daarom meer intens.
  • Omdat julle dit doen wanneer albei in die bui is, het julle meer kere seks wat regtig saak maak. Dit sluit in passievolle soene en ’n lang voor- spel – alles bestanddele vir beter (en dalk meer) orgasmes. Omdat dit dan so bevredigend was, sal julle altyd aan seks dink as ’n positiewe, heerlike ervaring.
  • Minder seks dwing julle om oor jul sekslewe na te dink en daaroor te praat. Julle maak dalk saam die afleiding dat dit op die oomblik ’n noodwendigheid is omdat die kinders teruggetrek het huis toe of omdat julle albei deur ’n stresvolle tyd gaan.
  • As daar nie druk op julle is om aan ’n sekere aantal kere per week te voldoen nie, sal seks meer spontaan wees en sal nie een van julle die druk voel om te moet presteer nie.

En as jou man meer verkies?

Uiteraard is dit wonderlik as julle al- bei hierdie voordele kan geniet. Maar hoe gemaak as jou man se libido hoër is as joune en hy eenvoudig meer seks as jy verkies?

Leandie stel voor dat julle praat oor jul seksuele verwagtinge. Indien nodig, onderhan- del daaroor. As jy weet dat hy dit twee maal per week verkies, maar jy minder kere, sê vir hom dat een keer per week met penetrasie vir jou genoeg is, maar dat jy die ander aand met graagte “sal hand bysit”, of vir hom ’n massering sal gee.

As julle ’n goeie, mooi verhouding het, behoort julle mekaar se behoeftes te respekteer, sê Elmari. Dit sal net gebeur indien julle openlik gesels.

Seks is tog nie losstaande van jul verhouding of van jou nie.

- Elmari Mulder Craig, seksuoloog

Werk daarom daaraan om die seksuele spanning tussen julle te behou. Al beteken dit net ’n sexy SMS aan jou maat in die middel van die dag of ’n drukkie van hom in die gang.

Verduidelik aan mekaar hoe jul koppe werk: Sê vir hom dis in jou aard dat jou seksuele begeerte gesneller moet word. “Seks in die aand begin reeds met ’n soen (of vriendelikheid) in die oggend,” sê Elmari. En as jy die dag nie lus het vir seks nie, kan emosionele en fisieke nabyheid, soos liefdevolle gesels en aanraking, jou altyd in die bui daarvoor sit. Moet daarom nie summier nee sê nie. Maar, jou maat behoort beslis ook nie druk op jou te plaas nie. Dis waar respek inkom, sê Leandie. Hoe meer hy oor die gebrekkige seks kla (eerder as openlik praat), hoe meer sal jy onttrek.

Verduidelik aan mekaar hoe jul lywe werk: Jou maat moet weet dat jy veel minder testosteroon as hy het en daarom gewoonlik nie ’n ewe sterk libido nie. Hy behoort ook te weet dat jy tydens ovulasie meer lus het daarvoor, sê Leandie.

Jy behoort weer te weet dat jou maat daarvan sal hou as jy soms dinge inisieer. “Want dit gee vir hom die boodskap ‘dat sy my begeerlik vind’ of ‘dat sy lief is vir my’,” sê Lean- die. “Dít beteken baie meer vir hom as dat jy seks het net om hom gelukkig te hou.”

Sy reken ook dat gebrekkige kommuni- kasie tydens ’n tydperk waarin julle minder seks het, kan veroorsaak dat een of albei van julle die gehalte van jul verhou- ding aan die frekwensie van jul seks sal meet. Julle sal dalk aflei dat jul verhouding problematies is, terwyl dit nie so is nie. Gesels daarom openhar- tig, sonder verwyte. En nie in die bed nie! Dit sal jul bui demp.

“As julle wél seks het, behoort dit mindful te wees,” waarsku Elmari. Dit beteken dat julle in die oomblik sal wees; dat jy nie net daar sal lê en dink aan die wasgoed wat nog opgehang moet word nie.

Hoeveel is genoeg?

Moenie bekommerd wees nie. Daar is nie ’n reël vir die aantal kere nie. “Dis glad nie van belang nie en verskil in elk geval van verhouding tot verhouding. Solank albei gelukkig is met die frekwensie en julle deurentyd goed oor jul sekslewe kan kommuni- keer,” sê Leandie Buys, seksuoloog.

Daar sal noodwendig tye wees dat julle minder seks het, soos wanneer julle ’n baba het, een van julle siek is, tydens stresvolle periodes of wanneer daar ’n seksuele probleem is. Ander kere sal julle weer meer dikwels seks hê, soos tydens ’n weg- breeknaweek, vakansie of wanneer jul kinders die huis verlaat het. Want dan het julle meer tyd en is julle meer ontspanne.

Moet julle nie met ander paartjies of met wat in die media voor- gegee word, vergelyk nie.

- Leandie Buys, seksuoloog

“Want dan kry julle die boodskap dat iets fout is, terwyl dit dikwels glad nie so is nie,” sê Leandie.

Dis belangrik dat jul sekslewe vir albei van julle werk, beaam Elmari Mulder Craig, seksuoloog. “Onthou, met minder seks word nie géén seks bedoel nie.” Want dis dan dat die gevaarligte begin flikker.

’n Lae Libido

As jou libido laer as gewoonlik is, vra jouself dié vrae

1 Is ek gelukkig in my verhouding?

2 Is ek self gelukkig of ly ek aan depressie, stres of ’n lae selfbeeld?

3 Hoe kan ek ons sekslewe verbeter?

4 Het ek ’n dokter of seks- terapeut nodig vir ’n moontlike mediese of sielkundige probleem?

*Bron: www.muswellhilltherapy.co.uk