FOTO 
Pressfoto - Freepik.com

FOTO Pressfoto - Freepik.com

Verhoudings

Moenie dat geldsake jou verhouding bederf nie

Dis nie net die petrolprys wat styg, vakansiedorpe wat skielik stiller word en werk wat skaars raak nie – verhoudings is ook in gevaar.

Dit is omdat geld een van die grootste twispunte vir paartjies is, sê Ilze Alberts, ’n gesinsgedragspesialis en welvaartsielkundige van Johannesburg. “Geld is ’n sensitiewe onderwerp. Iets wat paartjies dikwels sukkel om oor te praat – soms uit vrees vir die toekoms, of omdat hulle skuldig of skaam voel oor hul besteding of oor skuld.”

Geld hoef egter nie ’n struikelblok in jul verhouding te wees nie. Inteendeel, as julle jul geldsake reg bestuur, kan dit julle nader aan mekaar bring en as ’n span laat saamwerk.

1) Wees emosioneel voorbereid

Vir enige verhouding om te werk, moet julle albei weet wie julle is, sê Veronique Breugelmans, ’n lewensafrigter en eienaar van Just Be Coaching & Consulting in Johannesburg.

“As jy jouself ken, ontwikkel jy selfvertroue en eiewaarde en dít laat jou meer doeltreffend met die wêreld en ander mense omgaan. “Jy kan nie die lewe beheer nie, maar jy kan die manier wat jy daarop reageer, verander. As jy ’n gevoel van eiewaarde het, is jy minder geneig om mense of toestande om jou te blameer, en meer geneig om jou wêreld en jou mense te waardeer en empatie te hê. Maar wanneer jy onseker is van jouself, soek jy makliker fout by jou geliefde of die mense om jou.”

2) Stel ’n deeglike begroting op

’n Begroting is noodsaaklik – nie net wanneer dit moeilik gaan nie, maar in goeie tye ook, sê Esmé. Stel só ’n goeie een op:

• Maak ’n lys van jul albei se inkomste en uitgawes per maand. Wees eerlik en deeglik, en onthou die “verskuilde” uitgawes soos bankkoste.

• Gee julself nou elk 10% sakgeld indien moontlik. ’n Begroting moenie soos ’n straf voel nie. Sit dan spaargeld weg (sien “Kry ’n Plan B”). Mik vir 10%, maar enigiets is beter as niks.

• Maak ook voorsiening vir aftrede, deur byvoorbeeld ’n annuïteit uit te neem.

• Sorg dat julle jul duurste skuld (dié met die hoogste rentekoers – gewoonlik kredietkaartskuld) eerste afbetaal.

• Hersien jul uitgawes en probeer sny waar julle te veel uitgee.

• Stel nou finansiële doelwitte op. Deel dit op in doelwitte op kort termyn (bederfies, soos ’n wegbreek), medium termyn (dalk wil jy oor ’n jaar of twee jou motor inruil vir ’n nuwe een), en lang termyn (om dalk jou kind se studies en jou aftrede te kan bekostig).Hersien jou begroting en doelwitte jaarliks om jou vordering te bepaal.

• Kyk elke week of julle by die begroting hou en pas dit aan waar nodig. As julle dit te lank los en dán besef die begroting is ongebalanseerd, gaan julle net hulpeloos voel.

3) Wees ’n span

In moeilike tye is intimiteit tussen paartjies een van die eerste dinge wat daaronder ly, want as jy gespanne en oorweldig voel, is jy bloot nie in die bui vir intiem wees nie, sê Ilze.

“In die meeste verhoudings is daar gewoonlik ook een mens wat maklik geld uitgee en een wat eerder terughou. In ’n resessie kan dít afkeer, bitterheid en selfs wrokkigheid veroorsaak, want die een persoon verwag van die ander om sy/haar geld beter te bestuur. Wanneer dié blaam begin opbou, affekteer dit ook intimiteit.”

Ongelukkig is dit nie eenvoudig om op te los nie, want deur bloot tyd te skep vir intimiteit gaan daardie gevoelens nie laat verdwyn nie. Dis eerder belangrik om oop kaarte te speel, sê Ilze. “Moenie mekaar blameer nie – werk eerder saam daaraan om ’n oplossing te vind. As dit ’n stryery afgee, kan julle saam ’n sielkundige of finansiële beplanner gaan sien.”

Een strategie wat op ’n oplossing eerder as op blaam fokus, is om jul langtermyn-visie in gedagte te hou. “Om geld uit te gee op dinge wat onmiddellike bevrediging bring is ongelukkig ’n groot versoeking wanneer dit sleg gaan, want jy soek dinge wat jou beter sal laat voel. Stel ’n lys van tot 30 redes saam hoekom julle jul geld op lang termyn beter moet bestuur. Wees spesifiek – dit kan enigiets van vakansieplanne tot beleggings insluit. Dit sal jul houding teenoor geld begin verander en sal jou motiveer om daardie onmiddellike bevrediging uit te stel.”

Lees die volledige artikel in die Februarie 2016-uitgawe van SARIE. 

Kontak 

Veronique Breugelmans: 082 451 3180 | www.just-be.co.za
Ilze Alberts: 060 743 4143 | www.ilzealberts.com
Esmé Theron: 082 386 1588 | esme.theron@tefinops.co.za

Lees nou

  • Riana

    Die ideaal is om finansies as ‘n span te hanteer. Dis reg so. Dis egter nie so maklik nie. Ons dink op verskillende maniere daaroor, het ons eie begeertes, en bestedingspatrone, het verskillend grootgeword, ens. Daarom kan dit nogal help as julle iemand (‘n huweliksberader) kan kry om te help om reëls op te stel (spelreëls!) vir hoe julle twee saam die spel gaan speel. EN julle af te rig om dit te doen. Want dis juis deel van die werk van ‘nhuweliksberader.
    En as jy nie seker is dat dit sy/haar werk is nie, loer gerus hoe ‘n huweliksberader se werk omskryf word by http://www.huweliksberader.co.za