My kind: Só bou buitemuurse aktiwiteite jou kind se selfvertroue

Deur Riette Rust, SARIE - Maart 2011

My kind: Só bou buitemuurse aktiwiteite jou kind se selfvertroue Foto’s: Micky Hoyle

Buitemuurse aktiwiteite gee jou kind baie van die boublokke van selfvertroue. Hier's 'n paar.

* Leierseienskappe en om beter te kommunikeer.
Die student Deline van Ieperen sê: “My redenaar-ervaring het my die selfvertroue gegee om voor die hele skool ’n boodskap te lewer, wat ek gehoop het die leerders sou glo, selfs al was dit ’n ongewilde mening.”

* Integriteit.
Wanneer jou kind deelneem, verteenwoordig sy dikwels haar skool. Só ontwikkel sy integriteit, sê Riana Lighthart, opvoedkundige sielkundige.

* Sosiale vaardighede.
Sy oefen en verfyn daagliks haar interaktiewe vaardighede. Sy voel sy behoort tot ’n groep wat belangstellings deel en waarin sy haarself moet handhaaf, sê dr. Ronel Tarnow, opvoedkundige sielkundige. Sy leer negatiewe groepsdruk hanteer, wat veral vir tieners belangrik is. 

* Sukses én mislukking.
Jou kind leer albei hanteer en om op ’n gesonde manier mee te ding. Woedebuie is uit. Leer haar: ’n Mens wens die wenspan geluk en julle respekteer mekaar, sê Chrismari Herholdt, kliniese sielkundige. Sukses moet met nederigheid gepaard gaan, voeg Deline by. “Herinner jouself dat dit harde werk gekos het.”

Jou kind leer om ná mislukking op te staan, sê Mandie Wagner (29), fotografiese model van Kempton Park, Gauteng. “Sy moenie toelaat dat dit haar onderkry nie. As sy die aktiwiteit geniet, sal sy ook nie soos ’n mislukking voel nie.”

* Krisishantering.
Dis ’n aangeleerde vaardigheid, sê Ronel. Jou kind leer om op haar voete te dink. Cara Rust, student, beaam dit: “Jy moet ’n krisis op die verhoog oplos én dit vinnig doen sodat niemand dit agterkom nie. As jy jou woorde vergeet, moet jy iets opmaak, as jou kostuum skeur, moet jy dit deel van die toneel maak.”

* Waagmoed.
Jou kind leer berekende risiko’s neem. ’n Onvoorbereide toespraak verg byvoorbeeld dat sy buite die boks moet dink. Deline sê: “Daar is ander wat nes jy dink, maar hulle is dalk net te bang om dit te sê.”   

* Spanning.
Al is haar program dol, kan sy onder “vrugbare spanning” soos Ronel dit noem, take met sukses aanpak. Soms moet sy ook “nee” sê of van haar aktiwiteite verminder. “Hoe meer jy het om te doen, hoe beter is jou tydbestuur,” sê Cara. “Jy leer fokus. As jy vandag toets skryf, kan jy nie dink aan wat vanaand op die verhoog gaan gebeur nie.” 

* Uithouvermoë, toewyding, dissipline en harde werk is die grondslag vir werketiek.
Cara sê sy het geleer om nooit op te gee nie. Daar was ’n stadium dat sy net bronsmedaljes op kunstefeeste gewen het.

“Ek was later moedeloos, want dit was harde werk,” sê sy. Maar sy het vasgebyt totdat sy ’n jaar later goue medaljes en ere-kleure in drama gekry het. “Die deurdruk en selfdissipline – soos dat jy moet werk al is jy moeg – help my vandag steeds elke dag op universiteit.”

* Prioriteite.
As jou kind skoolwerk, ontspanning en ’n aktiwiteit soos modelwerk moet balanseer, leer sy prioritiseer, en om op te maak as sy een moes afskeep, sê Mandie.

LEES OOK: GEE JOU KIND SELFVERTROUE

Verwante artikels

  • Heling deur musiek ná my kind se ontvoering

    Heling deur musiek ná my kind se ontvoering

    SARIE - November 2009

    Dertien jaar gelede het die violis Adri Naudé-Scholtz haar pasgebore seun* opgegee vir aanneming. ’n Dramatiese tyd het gevolg. Nóú het haar grootste droom waar geword – sy speel vir hom viool op haar eerste CD

  • Jou kind en aspirien

    Jou kind en aspirien

    SARIE - Junie 2009

    Hoekom is aspirien gevaarlik vir jou kind? Lees ook oor vroue en hartsiektes, jou metaboliese spoed en menstruele siklus en 'n Afrikaanse gesondheidsgids vir vroue

  • My kind het depressie - leser se roerende brief

    My kind het depressie - leser se roerende brief

    SARIE Maart 2010 | Kommentaar: 7

    "Vir 'n hele paar jaar al is my kind depressief. Aanvanklik, as 'n tiener, was hy moeilik, en beslis moeiliker as wat 'n mens normaalweg van 'n tiener sou verwag..."

  • My kind wil van my skei

    My kind wil van my skei

    Dis ’n harde slag as jou kind haar rug op jou draai – en boonop uit die huis wil trek. Maar versoening is moontlik . . .

Kommentaar