ys4f6439
Verhoudings

“My man is ‘n narsis” – SARIE-leser vertel

Suiwer hel . . . dis ál manier hoe ek 33 jaar van my 35 jaar lange huwelik kan beskryf. Dis nou maar twee jaar dat ek weet wat met my slim, suksesvolle, hoogs gerespekteerde ingenieurman skort. Twee jaar sedert die grootste probleem in my lewe ’n naam gekry het, heel toevallig, danksy ’n radio-praatjie.

My man is ’n narsis.

Wat ’n openbaring. Dit was asof tien berge se gewig van my skouers af is. Ek het soos ’n besetene begin oplees, boeke van oorsee bestel en ’n diepte-studie begin doen. Ek kon dit nie glo nie . . . Daar was ander, soos ek, wat met so ’n man getroud is. Dit was nie my skuld of weens my ontoereikendheid nie.

Ek het altyd geweet my man is ongebalanseerd, of pleinweg mal, soos ek in my gedagtes aan hom gedink het. Hy is briljant, maar kon die domste dinge aanvang. Sy kop het by tye eenvoudig uitgehaak, veral as hy baie moeg was of te veel gedrink het. Ek het geleer die narsis het ’n hoë dunk van homself en dink hy is baie intelligenter en belangriker as ander. Hy het ook die prestasies om dit te boekstaaf, soos my man my menigmaal herinner het. Ander is sy mindere. (En hy meng ook net met ander suksesvolles.)

Sy firma en ander kringe waar sy kollegas en invloedryke vriende beweeg, is ’n voedingsbron vir sy groot ego. Hy teer op bewondering. Hy moet almal en alles om hom beheer, anders voel hy bedreig en ontplof hy. Niemand durf hom ooit teëgaan of uitdaag nie. Hy weet die beste. Finish en klaar.

Dié verskriklike woede-uitbarstings het altyd gebeur wanneer ander nie by was nie. Ek moes veral dán op eiers loop. Ek kon hom nie verlaat nie, hy sou my vernietig en het dit gesê ook. Hy sou almal teen my opmaak en my finansieel op my knieë dwing. Die narsis se hele lewe is ’n front. Hy gee voor dat alles aan hom van die beste en hoogstaande gehalte is. Hy tree altyd korrek op en niemand kan ’n vinger na hom wys nie. Dit het my klaargemaak, want dit was so ’n valse beeld. Ek het sy slegte kant so goed geken, maar nooit met enigiemand daaroor gepraat nie. Ek is te lojaal en Christelik grootgemaak. Hy het goed vir ons gesorg en het gedurig vir my gesê ek kan koop wat ek wil, ‘so wat is jou probleem?’, as ek ooit ets sou opper.

Ek en ons vier kinders het nie sy liefde geken nie. Hy het nooit met ons gekommunikeer oor gewone dingetjies nie. Ek het ons kinders alleen grootgemaak; hy was nie by oueraande of sportwedstryde nie. Hy het besluit wanneer ek mag goed voel en het ’n intense behae daarin geskep om my neer te trek in ‘n put van ellende. Sou ek die dag opgewonde wees, sou hy dadelik iets doen of sê om my bui en dag te bederf. Lojaliteit was daar nie. As ek of die kinders in ’n dispuut betrokke geraak het, sou hy dadelik die ander persoon se kant kies, sonder om eers te luister na die storie. Ek moes my eie battles veg en trane of ’n gekla het hy nie geduld nie. ’n Narsis verafsku swakhede. Ek en die kinders mag nie siek of ‘af ’ gevoel het nie. Hy hou net van sterk mense wat hul man kan staan.

Uit my navorsing het ek geleer die narsis het ’n diepgaande, onderliggende afsku in homself. Tydens die jare dat sy persoonlikheid vorm (‘persoonlikheidsvormingsjare’), het dit as ’t ware verdeel en het sy alter ego ontwikkel sodat hy homself kon laat geld. Dit is ál hoe hy aandag of emosionele aanvaarding kon kry. Van kleins af leer die narsis om iemand blitssnel op te som en tot sy eie voordeel nader te trek. Nadat hy by hulle gekry het wat hy wou hê, word ulle net so eenkant toe gestoot. Hy het nie werklik empatie met andere nie, hoewel hy ’n meester daarin is om emosies na te maak.

Die ergste was toe ek hom sien huil op ’n familielid se begrafnis, terwyl hy nooit by daardie persoon wou gaan kuier nie. Hy het altyd gekla die familielid spog tog net heeltyd oor al sy besittings en sy kinders se prestasies. Dit was vir my as sy vrou die toppunt van ironie. Hy het in hierdie meer as drie dekades van getroude lewe nog nie een keer vir my gesê dat hy lief is vir my of verskoning gevra oor iets nie. Vir niemand nie. Dit is nie oordrywing nie. As ek hom uitgevra het daaroor, was sy antwoord: ‘Hoe kan ’n mens verskoning vra as jy altyd reg is?’

En hy bedoel dit.

Sy woord was wet: Wat, hoe en hoekom ons dinge koop, waar ons vakansie hou . . . Enige voorstel van my is summier van die tafel gevee, behalwe as dit hom sou pas. Ek mag nooit geregte op my manier maak nie. Ek moes kos maak soos dit in sy ouerhuis gemaak is, ek moes stryk, mop, tafel dek, tuinmaak . . . soos hy dit wou hê.

Ek het eenkeer twee stoele vir ons huis gekoop en moes dit verleë terugvat en die winkelvrou smeek om dit terug te neem, want die stoele was ‘aaklig’ in sy oë en ‘sulke *** staan nie in my huis nie’. My man het ook altyd die duurste en mooiste karre en grootste huis gekoop, want dit beïndruk ander. Met die koop van ons eerste huis het ek so bitter skaam gekry toe hy weier om uit die agent se kar te klim om na gewone drieslaapkamerhuise te kyk soos ander jong mense van ons ouderdom. Hy wou dadelik ’n groot huis en tuin hê. Of ons dit kon bekostig of nie. My man beskou gewone, hardwerkende mense as lui en sleg. Sy maatstaf daaroor is verwronge en sy standaarde is ver bo die gemiddelde. Hy is freneties en dryf homself ook geweldig.

’n Ander kenmerk van die narsis is dat hy onmiddellik ’n argument teen hom omdraai en terugprojekteer. Hy verbreek sy beloftes maklik en draai sy stories om soos dit hom pas. As jy hom daaroor uitvra, sal hy net sê: ‘Wel, ek verbreek my belofte nou en dis hoe dit nou is.’

Hoe meer ek nagelees het oor narsisme, hoe meer het ek gevoel hoe ek myself bemagtig . . . Ek het sommer openlik boeke oor die onderwerp in die huis laat lê. Die probleem was in hom, nie in my nie. Ek het baie diskreet hier en daar met ’n vriendin hieroor begin praat en my genesing het begin. Ek het lig begin voel en wou vlieg van vreugde en bevryding. My kinders (nou al uit die huis) is ingelig dat daar ’n ‘probleempie’ met Pa is, maar dit is ál. Hy bly hul pa en hulle is lief vir hom. Ek wil hom nie afkraak voor hulle of enigiemand anders nie, maar dis ook nie reg dat hy skotvry daarvan afkom nie. Die heel belangrikste is dat ander slagoffers bemagtig moet word. Dit is hoekom ek my storie deel.

Op ’n dag het ek krag by die Heilige Gees gekry, ek is oortuig daarvan. Ek het ná werk op die stoep gaan sit en met my man begin praat. Voor die tyd het ek gebid dat ek asseblief nie sal begin huil sodat hy geïrriteerd met my raak nie. Toe ek praat, het hy sy oë een of twee keer gerol, maar nie kwaad geword of ’n woord gesê nie. Ek kon enduit praat. Ek het ’n innerlike krag en vrede ervaar wat ek werklik nie kan beskryf nie. Ek was glad nie angstig of bevrees nie. Ek het in elk geval by die point of no return gekom.

Ek het nie die moed gehad om die woord narsisme te gebruik nie, maar ek het dit duidelik gestel ons weet albei dat hy al baie jare ’n groot probleem het – waaroor ons nooit praat nie. Ek het vir hom verduidelik wat sy manipulasie, alewige beheer en veral sy verskriklike woedeuitbarstings aan my doen. My boodskap was min of meer: Jou kritiek op my onvermoë as mens (volgens jou) gaan my nou verby. Ek het lief geword vir myself en weet ek is ook menswaardig, al dink jy wat.

Ek stel nie ’n ultimatum aan jou nie, ek weet jy kan hierdie probleem nie verhelp nie. Jy moes duidelik heeltyd as kind veg om liefde en aanvaarding te kry. Ek het niks meer oor nie, behalwe my God. Dink na oor wat ek vir jou gesê het. Ek het stadig en veerlig weggeloop.

Hy het tot vandag nie weer ’n woord daaroor gepraat nie, maar ek kan sien hy probeer om sy bose alter ego te beveg. Hy kry dit nie altyd reg nie, soos as hy moeg is of ’n wyntjie te veel in het, maar ek kan in alle eerlikheid sê hy wend ’n bo-menslike poging aan. Hy het in al hierdie maande nog nie weer ’n woede-uitbarsting gehad nie. Ek het wel voorgestel dat ons meer dikwels apart vakansie hou, want dis wanneer die meeste van sy uitbarstings plaasvind; as hy buite sy magsfeer is, waar hy nie heeldag gevlei en ’n ophef oor hom gemaak word nie, en waar hy dan nie meer in beheer voel nie.

Ek was aanvanklik geweldig wrokkig, hatig, verbitter, sinies en aanvallend. Dit was later so erg dat hy oplaas op ’n dag moedeloos uitgeroep het: ‘Hoe lank gaan jy nog so verskriklik wrokkig bly?’ Ek het besef ek moet aanbeweeg en begin vergewe. Dit was en is steeds soms uiters moeilik. Nie net omdat hy my hele lewe opgemors het nie, maar daar is ook die verskriklike teleurstelling in myself, omdat ek dit toegelaat het. Hoe kon ek myself so willens en wetens toelaat om ’n slagoffer te wees? Ek was sekerlik self ook maar skuldig, want ek het ook ’n vals front van ‘gelukkig en suksesvol’ voorgehou.

Maar ek kan getuig daar is ’n God. My raad aan ander slagoffers is: As jy die dag besef dis narsisme, stap weg. Dit is nie die moeite werd om te bly nie. As ek kon kies, sal ek nie weer só kies nie. Dit is hel. Jy is ewig en altyd in ’n klein tronksel, sonder enige vryheid.

  • Marié Strydom

    Dankie Sarie vir die artikel oor n narsis, uiteindelik het my oe oopgegaan na amper 5 jaar saam met so n mens. Dit voel of die artikel presies oor hom geskryf is.

    Alles was altyd my skuld, uiteindelik besef ek die fout le by hom nie by my. Hierdie artikel gee my krag om vorentoe te stoot en aan te gaan met my lewe. Ek is vry van hierdie las en valse beskuldigings!!

  • Annie de Wee

    Ek ken dit so goed, elke stukkie beskrywing hierbo het ek ondervind en kan ek boekstaaf. Dit is louter hel, maar ek het die ander besluit geneem, ek konnie meer nie, my selfbeeld is na 10jaar nog steeds aan skerwe.

    Ek was met ‘n mediese dokter getroud en die eie ek was waarom die lewe gedraai het, my kinders kry die beste en duurste, nie omdat dit altyd beskostigbaar is nie, maar dit gaan oor sy ego. Na ons egskeiding was hy half verlig om sy verantwoordelikhede teenoor my af te staan en het net op homself gefokus. Of ek swaarkry of nie was nie meer sy probleem nie, die kinders kry motors van die duurste en name wat jy kan aan dink en die karretjie waarmee ek ry val uitmekaar, maar my sal hy nie help nie, want ek het hom mos gelos.

    Ek het geleer om self reg te kom met die min wat ek het.

  • Harrick Snow

    Wow Mnr J ….. Wat kan ek se ….. Well done! Harrick

  • Wilma

    toe ek die brief lees het dit virmy gevoel of dit ek is wat dit skryf ….. Ek was ook vasgeval vir 19jaar in so huwelik en dit nie eens geweet nie! Die ergste was dat ek nooit geweet het van sy "affairs" nie want so iemand is mos die stilte van self. Gelukkig is ek nou vry en bid dat ek nooit ooit weer in so verhouding mag kom nie. Ek wonder net hoe ondervind my gewese narsisman se nuwe vrou hom? Of verander sulke mense ooit?

  • Madsie

    Ek het vir so ‘n baas gewerk en alhoewel ek ‘n redelike sterk persoonlikheid het, het hy my geestelik afgebreuk. Die mense in ons maatskappy het elke dag hulle koppe in ongeloof geskud vir die volgende onredelike vereistes wat hy gestel het. Ons is beheer soos ‘n "puppet on a string" en hy het die toutjies getrek. Sy vrou het my eendag bewus gemaak van die benaming "narsisme" met die hoop dat ek hom beter sou verstaan. Ek verstaan vandag nog nie hoekom sy by hom bly nie, want haar lewe is hel.

  • Sarah

    Dankie, ek het ook so stel afgetrap met ‘n narsis man. Die ander benaming wat gewoonlik om ‘n vrou gehang word maar daar is baie mans is ‘Jezebel”. Google dit gerus. ‘n Narsis is ‘n Jezebel en daar is baie sulke mans.

  • Emmerentia

    Sjoe, wat n eye opener!!

  • Anna

    Ekself is ook deur hierdie hel …… slegs ‘n persoon wat met so ‘n mens saamgeleef het sal weet hoe erg dit werklik is!! Ek het ook maar altyd die blaam moes vat vir alles want alles was, en is steeds! my skuld, totdat ek tydens ons egskeiding deur hom gedwing was om vir sielkundige evaluering te gaan omdat hy wou beheer en toesig kry het oor ons 2 jarige seun. Tydens die evaluasie het dit na vore gekom dat HY eintlik die een met die probleem is!! Hy wou toe die Sielkundige, wat deur die Hof aangewys was, dagvaar oor haar diagnose en nodeloos om te sê sy aansoek om beheer en toesig het nie geslaag nie. Ek het ‘n boek nodig om alles uit te lig maar die heel beste is dat hy my al die jare fisies aangerand het en STEEDS tot vandag toe glo hoe ek HOM al die jare aangerand het, en ja, hy glo dit werklik ….. Mense hierdie is baie siek mense, ek kan hulle beskryf as mense met langtermyn abnormale denke en agter daardie maskers skuil ‘n monster waarmee jy nie kan of wil assosieer nie!! Na so ‘n ondervinding met ‘n narsis is jy nooit weer dieselfde nie en vermoed ek ons almal kyk met nuwe oë na mans, dis jammer want daar is tog goeie mans. Daar IS NIE woorde om hierdie mense mee raak te beskryf nie, jy stry ‘n verlore stryd en die beste is om so mens heeltemal uit jou lewe te skuif, maar ongelukkig weet hulle hoe om te manipuleer en mense afhanklik van hulle te hou, want hulle het JOU nodig!!

  • Belinda Hawes

    ‘n Wonderlike artikel. Ek was ook met so person getroud. Gaan soms hand-in-hand met ‘n "physically, mentally and emotionally abusive" man. As ek enige iemand kan raad gee gaan koop of bestel ‘online’ die volgende boek: ‘Why does he do that? Inside the minds of angry and controlling men’ by Lundy Bancroft. Dit was my redding en my ‘bybel’ en ek werk met vrouens elke dag wat in "Domestic Violence" situaties is. Soveel het vir my kom dankie se oor die boek. Na episode 1 het ek die skuld voel afrol van my skouers en beset dit was nie ek nie, dit was hy. Red julleself dames!

  • Sommer Sarie

    Dit kon ek gewees het wat hierdie brief geskryf het… Ek was vir 12 jaar dieselfde hel deur.. Jy bevraagteken jouself en dink later regtig die fout is by jou… Totdat daar kinders was, en ek nie kon toelaat dat hy die kinders so manupuleer en hulle aan dit blootgestel moet word elke dag van hul lewe nie…

    Ongelukkig het die manupulasie nie gestop na die egskeiding nie.. dis nou 12 jaar na die egskeiding en hy het tot die kinders en situasies gemanupuleer dat die kinders by hom moes gaan bly na ‘n paar jaar.. Want hy is elke dag van sy lewe daarop uit om sy ex-vrou te ‘spite’, en te verwoes, want hoe kon sy die besluit maak om dit nie langer meer te verdra nie!! (Die nuwe vroue in sy lewe word ook mooi oortuig hoe al die fout by die ma van die kinders lê… dit vat hulle gewoonlik so 3 jaar om deur hom te sien, en hom dan ook skei, want in daardie tyd het hy reeds weer ‘n ander vrou (slagoffer) op ‘geline’…

    Die kinders is emosioneel mishandel (maar vergoed met finansieele en materialistiese goed.. daarmee is hy mos baie goed).. maar hulle het ouer geword en altwee al uit sy huis getrek.. maar die letsels is daar.. hulle moes elke dag hoor hoe hulle ma jok en hoe sleg sy is.. En die vroue in sy lewe, op elke stadium, beaam dit teenoor die kinders, want dis dan al wat sy ook heeldag hoor van die ‘ma’ van die kinders.

    My kinders se tienerjare is weggegooi, hy het hulle verniel. Maar, dis hulle bloed, en hulle bly nogsteeds lief vir hom. En hy glo natuurlik hy doen niks verkeerd nie. Daardie woede buie, waar hy sy 17 jarige dogter met ‘n belt slaan, oral oor haar lyf, .. dis mos alles normaal.. sy het dan daarvoor gesoek, sy is verkeerd…

    Hy is ‘n baie suksesvolle sakeman. Volgens hom kyk almal op na hom.. Maar niemand weet wat vanaand agter daardie toe deure by die huis gebeur nie.

    Almal om hom loop met letsels rond, maar hy is te ‘powerful’ om enige iets raak te sien.

    Dankie Sarie vir hierdie Artikel, ek hoop die dames wat met ‘n narsis getroud is, sien dit raak en kom uit daardie omstandighede, want hy sal nooit verander nie.

  • P Smith

    Wat ek nie kan verstaan nie hoekom kan een persoon al die mense om hom so ongelukkig maak en hartseer? Maar die probleem is almal is so afhanklik van die persoon dat jy geen keuse het om alles net te aanvaar nie. The Human Pin code van David is uitstekend ek maak altyd seker om te weet met wie ek deel om uit te vind wanneer die persoon gebore is, niks met sterretekens te doen nie. Gewoonlik is die soort persoon ‘n persoon om uit te deel maar die ontvang terug kan hul nie hanteer nie. Doen julle self die guns en kry vir julle die boek dit help om enige persoon beter te verstaan dit werk op jou dag, maand, en jaar waarin jy gebore is. Daar kan jy sien wie die persoon is in persoonlikheid ens en hoe die persoon reageer as dinge vir hom of haar te veel raak (verkeerd is) dis ongelooflik dan weet jy presies wat die persoon se probleem en te kortkomme is. Sterkte.

  • Katriena

    Kry mens narsisme in verskillende grade? Of het my man iets anders? Ons is 37 jaar getroud en was ‘n skoolkys. Ek het ‘n wonderlike man, wat vir my en ons kinders baie lief is. Hy gee ons alles wat ons nodig het en bederf ook die kinders. Ons lewe goed en hy is suksesvol. Ons werk albei hard en gun onsself byna nie die luukse van vakansies nie, behalwe as iemand anders met ‘n voorstel kom, dan word dit aangegryp en gaan ons saam met hulle oorsee, kampeer in Afrika of toer sommer net.

    Tot…. My man nie sy sin kry nie of iets kleins hom irriteer. Dan gooi hy ‘n "vloermoer". Hy word verbaal aggressief en alles om hom en naby hom word vervloek en is sleg!. Ons kinders het al gedreig om nie weer na ons huis te kom nie, maar hulle sal nie waag om dit vir hom te sê nie, hulle dreig my net. Ek ignoreer hulle dan, want ek is nie van plan om my man te los nie en ek het ook nie die moed om dit met hom te bespreek nie, want dit sal net weer die volgende aanval veroorsaak. Hy tree so op by sy werkplek ook en ek is so skaam namens hom voor sy werksmense. Sy aanvalle duur so 5 minute en 10 minute daarna is hy weer die liefdevolste goeie mens. Hy gee ook nie om voor wie dit gebeur en of daar kinders in die geselskap is nie!

    Hierdie "duiwelse" aanvalle hom al van sy tienerjare af aan en ek skryf dit toe aan onderdrukte woede wat hy met hom saamdra. Volgens hom is hy nie verkeerd nie en doen ons dinge verkeerd om hom te tart. As almal om hom net perfek kon wees!

  • Anna

    JA Wat is die ergste ! Die goeie tye saam (ook net waar ander by is ) of die gebeure agter geslote
    deure. Jy wat geswoeg het is natuurlik die slegste maar ons is so n trotse spesie ,niemand moet
    weet nie.As die nuwe ene kom is dit natuurlik erger.

    Vandag 10 jaar later voer ek nog steeds n stryd . Ek ontmoet graag nuwe mense maar die bang
    van as die regte mens sy ware kleure wys – wanneer ,hoe,ek is nie reg aangetrek nie ens wil nie wyk nie.
    Kortom jou selfvertroue het n knou gekry.Die woorde kom terug en terug.

    Gelukkig vir sulke artikels dat ander vinnig kan hardloop want as hy jou het ,is dit verlore jare my vriendin!

  • Jaycee

    Ek is verheug oor die Sarie-artikel oor die Narsis. In Engels: NPD – Narcissistic Personality Disorder. Ek hoop dit sal baie mense help; mans ook, want die teenoorgestelde is ook van toepassing, die Narsis-vrou.

    Ek wil aanbeveel, indien daar van die lesers is wat hulle kennis oor hierdie tema wil uitbrei, dat hulle Melanie Tonia Evans en Dr Irene opsoek dmv Google. Baie insiggewend en baie briewe van verskeie mense wat ook hierdie ‘narsis-hel’ moes deurmaak.

    Ek gaan wegloop, na 39 jaar. Ja, ek is skrikkerig…selfs bang vir die toekoms – bekommerd oor die geldelike aspekte, MAAR om so voort te gaan, kan ek nie en WIL ek nie.

    Ek het ‘n boek nodig om hierdie nagmerrie te deel. Dalk skryf ek nog een.

    Vir ander wat ook sit met ‘die gebakte pere’ wil ek net troos: ‘Voor in die wapad brand ‘n lig!’

    Laat staan die ge-vasbyt en sterk bly. Vir wie eintlik? Moenie meer tyd mors op iemand wat nooit sal verander nie want die Narsis is ‘n siel sonder voetspoor.

  • Martie

    Ek was vasgevang in so ‘n huwelik. ‘n Tweede huwelik bygese, wat al reeds moeilik is met beide se kinders. Ek is vir 7 jaar afgekraak, opgebou net om weer verskreeu, gevloek en mens weet hoeveel keer uit die huis gejaag. Daar bly so te se niks van jou selfbeeld, jou mens-wees, vrou-wees en ma-wees oor nie. Hy manupileer so erg dat jy later glo die fout le by jou. Niks wat jy doen, se of maak is ooit reg nie, die doelpale word telkemale verskuif. In argumente verdraai hy die feite dat hy onskuldig is en y die probleem het en te sensitief is. Geen berader of sielkundige kon help nie, want sien hyself is ‘n dokter en weet beter en daar word fout gevind met elkeen. Almal is verkeerd en het foute behalwe hy. Hy glo sy eie leuns later so dat hy nie tussen die leun en waarheid kan onderskei nie. Die valse beeld wat uitgedra word is uitputtend. Jy mag net praat as daar met jou gepraat word, jy mag net ‘n opinie lewer as daar vir jou opinie gevra word………. en hy se dit maklik vir jou voor ander mense. Hy hou van die aandag, almal moet na sy grappies luister, neem gesprekke oor. Hy mag enige iemand in die rede val maar niemand mag dit waag om hom in die rede te val nie, jy mag ook nie van hom verskil nie. Indien dit wel gebeur, kuier ons net nie weer saam by hulle of hulle by ons nie. Hy het weer vriende gekies waar hy die een met die graad is, die ander is pleppe wat nie nagraads gaan studeer het nie of op intelligensie vlak net nie by hom kom nie. Hy het selfs ‘n nommerplaat op sy bakkie wat se "DOC BEN"! As hy alles uit jou getap het, spoeg hy jou uit en vervangingsterapie word toegepas en die volgende slagoffer word ingekatrol. Dit is ‘n patroon wat homself harhaal……..Alkohol misbruik is aan die orde van die dag, verbale teistering en erge woede uitbarstings raak meer gereeld en meer intens. Dit ruk hande uit, jy kan nie glo hy is so vals nie, charming die een oomblik en monster die volgende. Duur geskenke en materialistiese "omkoop" werk vir die kinders, maar net tot ‘n punt. Hy hou van vroulike aandag en as daar 6000 pasiente is wat van hom hou en dink hy is great hoekom nie jy nie? Een slukkie wyn te veel en hy praat uit die spreekamr! En dan kan hy nie verstaan as die inligting wat hy deel onnodig en ontstellend is nie. Hy is dan so profesioneel! Genadiglik het hy net een keer my te veel gevloek, net een keer te veel uit die huis gejaag en nou kan ek elke aand rustig by my eie rustige plekkie na ‘n harde dag by die huis kom.Trek jou tekkies aan en hardloop girl, so vinnig en so ver moontlik want hy gaan nie verander nie. Wens net mens kan hul stop dat hul nie ander vrouens se lewens vernietig nie. En natuurlik, in die ouderdom vase is daar gewoonlik ook kinders betrokke wat net so seerkry!

  • Petronella Jansen

    Dankie vir hierdie artikel. Ek het per toeval hierop afgekom. Ek is 38 jaar getroud en besef nou dat ek met so ‘n man getroud is. My selfbeeld is so afgebreek dat ek nie uit die situasie kan uitkom nie. Ek het geen selfvertroue nie. Die woede uitbarstings raak al hoe erger. Die verbale aftakeling is erg en die fisieke aanrandings begin al erger word. My seun was aan dwelms verslaaf vandat hy 13 jaar oud is en is nou 30 jaar oud. Hy was in verskeie rehabilitasie sentrums deur die jare en bly op die oomblik by ons. Hy probeer baie hard om sy lewe reg te kry en is jammer oor die verlore geleenthede. Ongelukkig takel sy pa sy selfbeeld geweldig af. Hy moet elke dag hoor dat hy sleg is en niks in die lewe bereik het nie en dat hy ‘n dief en ‘n gemors is en dat hy homself in die swembad moet gaan verdrink. Hy kry geen aanmoediging van sy pa af nie. My hart breek vir my kind en as ek hom verdedig, moet ek hoor dat ek gemors kinders in die wereld gebring het. Die situasie is baie erg en my verstand se vir my om hier uit te kom maar ek raak angsbevalle as ek daaraan dink. Ek weet ek moes al jare terug uit hierdie situasie uitgekom het en kan myself nie verstaan nie. My kinders het almal letsels en nou dat hulle volwasse is blameer hulle my omdat ek niks aan die saak gedoen het nie. Hy het reguit gese hy hou nie van sy kinders nie en stel ook nie belang in wat hulle doen nie. Hy sal ook nooit om verskoning vra vir sy liederlike gedrag nie. Hy raak meer aggressief as hy gedrink het en die geringste ding maak hom van sy kop af. Ek se elke jaar ek kan nie meer so leef nie en ek gaan iets positief doen – ek bid dat hierdie die jaar gaan wees.

  • Mini Muis

    Sjoe Katarina, jy kon net sowel my storie geskryf het. En ek het ook al baie gewonder oor wat aangaan. Hy is die liefdevolste mens wanneer dit kom by my en die kinders en selfs die hond ook, maar oo wee, die aggresiewe aanvalle. My kinders is nog relatief klein en hulle maak net hulle kamerdeure toe want die aanvalle is nooit op ons persoonlik gerig nie maar miskien ‘n deur wat toegeklap word of die hond wat ‘n skoen opge-eet het. Hy kan ook nie goed soos bekers/koppies/messe en vurke net mooi ordentlik neersit nie, dit word gegooi en dit skaap so ‘n ongelukkig stemming in die huis. Ander mense dink ek is die gelukkigste persoon in die hele wêreld, want ek het mos ‘n ryk, aantreklike en besonderse slim man…hy weet mos alles. Hy kraak my nie af nie, ek kan net nie ‘n argument wen nie….Maar soos al die ander dames bly ek maar want hoe summeer mens so ‘n probleem? Ek word nie geslaan nie, ek word nie ge-verbal abuse nie, hy is lief vir my, hy sorg goed vir ons….so wat is dan nou eintlik die probleem? Wat ek in die toekoms gaan doen weet ek nie maar baie baie dankie vir hierdie artikel, ek sal dit oor en oor lees. En ek sal seker vir altyd wonder hoe dit is in ‘n huwelik waar daar kalmte is….