Niemand hou van haar nuwe kêrel nie!
'n Baie goeie vriendin gaan uit met 'n man wat niemand in ons vriendekring kan verdra nie.
Sy was lank alleen ná haar egskeiding - ons gun haar geluk, maar nie met hóm nie. Sy is blind vir sy foute. (Ek vermoed hy's net agter haar geld aan, hy's een van daai wie se beursie altyd by die huis is.
Hy is selfsugtig en praat pal oor homself.) Ek dink sy is eintlik desperaat om iemand te hê. Sy is 'n oulike mens, en het nie nodig om met so iemand deurmekaar te wees nie.
Moet ek met haar daaroor praat en haar waarsku? Ons was nog altyd baie eerlik met mekaar. Ek wil nie ons vriendskap skade berokken nie, maar wil ook nie hê dat sy weer 'n fout maak met 'n verkeerde lewensmaat nie. Ek voel sy mors haar tyd. Wanneer mag ek intree en iets sê?
Dr. Cecile Gericke, sielkundige van Johannesburg antwoord
Aan watter maatstawwe meet jy jou vriendin se vriend?
Miskien is sy goed bewus van sy minder goeie eienskappe, maar dalk laat hy haar baie goed voel. Dalk kry sy haar krag by hom en blom sy weens die liefde wat sy by hom kry? Dit is dinge wat jy in ag moet neem voordat jy praat.
As jy direk met haar hieroor praat, mag sy dalk kwaad word, haar van jou en jul vriendekring distansieer en later te trots wees om terug te keer as die verhouding wel 'n mislukking is.
As jy werklik sterk voel dat jy haar wil "waarsku", kan dit goed werk om dit eerder indirek te doen.
Vertel van gebeure en mense (selfs fiktiewe stories) wat vir haar insig kan gee in haar eie situasie sonder dat jy die man direk betrek of beskuldig - praat dus altyd in die derde party: "Piet en Sannie is al jare getroud, hulle het so 'n goeie verhouding, hy is so ondersteunend . . ."
Ek sou net in ekstreme gevalle direk praat (en slegs as ek heeltemal oortuig is dat hy nie goed is vir haar nie). Stel dit dan só: "Is dit regtig hoe jy jou lewe wil lei? Is jy tevrede dat hy jou geld gebruik? Is dit vir jou genoeg van 'n gehaltelewe? Dis jou keuse." Moenie preek nie. Moenie oordeel nie, want die oomblik as jy dit doen, gaan sy verdedigend raak.
Jou vriendin mag dink dis al wat sy kan kry - sy is moontlik tevrede met die krummels.
Bou eerder aan haar selfbeeld en eiewaarde (vertel haar bv. hoe jy haar vriendskap en haar spontane, warm geaardheid waardeer) sodat sy op haar eie besef hy is nie die enigste een wat sy kan kry nie.
As julle nie kans sien om met hom uit te gaan nie, stel voor dat julle vroue saam alleen uitgaan - maak dit 'n girls night. Julle hoef nie haar vriendskap te verloor omdat julle nie van hom hou nie.
Elmarié du Plessis, kliniese sielkundige van Durbanville, antwoord
Wat sou 'n ware vriendin in hierdie situasie doen: Praat of stilbly?
Onthou: Dít wat jou van ander pla, het dikwels meer te doen met iets onaanvaarbaar binne jouself. Wat sien jy in hom raak en waarom pla dit jou soveel? Hoe goed ken jy hom werklik en is daar konkrete bewyse vir jou voorgevoel? Sou jy haar opinie wil hê as jy in dieselfde situasie was? Aan die ander kant: As jy stilbly en dit draai vir haar sleg uit, sal jy daarmee kan saamleef?
Vra jouself: Lyk sy gelukkig? Het sy verander sedert sy in die verhouding is? Laat jou hierdeur lei.
Dalk gaan dit nie oor of jy praat nie, maar eerder oor hóé. Eerlikheid en vertroue is die basis vir enige verhouding. Wees dus eerlik en praat eerder direk met haar as onder mekaar.
Doen dit as julle privaat is. Onthou, sy gaan dalk negatief reageer. Verseker haar van jou vriendskap en maak dit duidelik jy praat omdat jy besorgd is en omgee. Vra hoe sy oor die saak voel en of sy ongemaklik is met hoe hy optree.
As jy dink haar keuse volg 'n patroon wat ook in haar mislukte huwelik daar was, wys dit aan haar uit, sonder 'n waarde-oordeel of om vir haar voor te skryf wat sy moet doen.
As sy ten spyte van jou waarskuwing voortgaan met die verhouding...
verseker haar dat jy haar steeds ondersteun - en wees bereid om jou woorde te sluk as jy wel verkeerd was.
Of jy stilbly of praat, wees voorbereid daarop dat jou besorgdheid jou dalk jul vriendskap kan kos. Tree liefdevol op, volgens jou oortuiging en uit die hart van 'n ware vriendin.
VIR HULP • Cecile 011 787 3996 • Elmarié 021 975 7834
Verwante artikels
-
"My kêrel floreer op flankeer"
SARIE - Februarie 2010
-
Dilemma: Ek sukkel om myself te laat geld
SARIE Julie 2010
Dis vir my moeilik om selfgeldend op te tree. Dit voel asof my baas en kollegas bo-oor my loop en my nie eens raaksien nie.
-
Dilemma: Sy kinders behandel my stief
SARIE - Februarie 2010
"Ek en my man is nou al vier jaar getroud. Sy twee kinders wil my nie aanvaar nie. Hulle lag agteraf vir my..."
-
Dilemma: Verlief op die verkeerde mans
SARIE - Junie 2010
Ek val pal vir die verkeerde man. Eers voel dit soos die groot liefde, hy bederf my en laat my goed voel, maar kort voor lank is hy erg besitlik, knou hy my af of laat hy my in die steek.
-
Dilemma: Verlief op vriendin se eks
SARIE - April 2010 | Kommentaar: 4
"My beste vriendin het baie swaargekry toe sy en haar man geskei is en sy is nóú eers oor hom, sê sy. Ek en hy het mekaar toevallig raakgeloop en begin gesels en daar is regtig die moontlikheid van iets besonders tussen ons."
-
Dr. Eve-dilemma: "My vriend stel weke lank nie in seks belang nie."
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 3
Probleem: My vriend stel weke lank nie in seks belang nie. Dink jy hy het 'n affair?
-
My seun is gay
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 7
My seun (17) sê hy is gay. Hy was nog nooit ’n “tipiese” seun nie – hy is kunstig en help graag met binneversiering. Hy is nie vroulik of meisierig nie, en het baie seuns- en meisiemaats.
-
Nataniël se dilemma
SARIE KOS Herfs 2009
So ’n paar weke gelede het ek ophou kook, heeltemal.
-
Vriende geskei, wie se kant kies jy?
SARIE Januarie 2010
"Baie goeie vriende van ons is geskei. Dis vir ons 'n tameletjie, veral omdat ons as gesinne baie saamgedoen het. Ek mis hulle. Wie se kant kies ons?"

















Kommentaar