mood
Verhoudings

Nuwe navorsing oor middelkinders

Jou denkwyse en leefwyse is anders as jy ’n middelkind is, het sielkundige navorsing al bewys. Ons kyk na die interessantste en nuutste bevindings oor die sogenaamde middelkind-sindroom.

Navorsers die wêreld oor glo dat die volgorde waarin kinders gebore word hul persoonlikheid, ambisies en verhoudings reg deur hul lewe beïnvloed.

Dr. Alfred Adler het reeds in die 1930’s gesê dat middelkinders maklik uitgesluit en onsigbaar in die gesin voel, omdat die eerste en laaste kinders ál die aandag kry. (Lees meer oor middelkind-sindroom op Everyday Family.)

Verdere studies het gevolg en hier is ’n paar van die interessante bevindings …

Geheimsinnig

Volgens Dr. Kevin Leman, skrywer van The Birth Order Bookis middelkinders geneig om geheimsinnig te wees, omdat hulle maklik geïsoleerd voel binne hul gesin. Maar dít is juis wat middelkinders goeie luisteraars maak en ook ’n talent vir onderhandeling kweek.

Diplomaties

Ben Dattner het sy doktorsgraad oor dié onderwerp gedoen en bevestig Kevin se navorsing. Hy bevind ook dat middelkinders baie diplomaties is. Verder is hulle baie die een in die gesin wat vrede maak en geneig is om nader aan hul vriende as hul familie te wees.

Sy bevindings is gepubliseer in die artikel Birth Order and Personality in the Workplace.

Langtermyn-verhoudings

’n Artikel wat in die Journal of Individual Psychology gepubliseer is, bevind dat middelkinders meer geneig is om langtermyn-verhoudings te vorm, moontlik omdat hulle geïsoleerd voel in hul gesinne.

Hulle sal na hul vriende of geliefdes draai vir troos eerder as na hul gesin.

Nuwe navorsing

’n Meer onlangse “studie” is dalk nie so wetenskaplik nie, maar net so interessant. Die Amerikaanse webtuiste Plenty of Fish, waar mense aanlyn kan ontmoet, het gekyk na watter kind (jongste, middel, oudste of enkel) die grootste waarskynlikheid het om ’n liefdesverhouding op dié platform te vind.

Die resultate is op Huffington Post gepubliseer en dit lyk asof middelkinders weereens aan die kortste ent trek.

Dis meer waarskynlik dat die oudste kind ’n verhouding op die kuberruim sal aanknoop. Enkelkinders het die tweede grootste kans, en daarna jongste kinders. Die waarskynlikheid van middelkinders om liefde om dié manier te vind, is die kleinste.

Is jy ’n middelkind en is enige van hierdie stellings van toepassing op jou? Lewer kommentaar hieronder of gesels saam op ons Facebook- of Twitter-blad.

Bronne: Everyday Family, Birth Order and Personality in the WorkplaceJournal of Individual Psychology, Huffington Post