Die wêreld was geskok oor die nuus dat dié paartjie gaan skei

SARIE-blogs

Nuwe verhoudingsblog: “My verhouding is in ‘n doodloopstraat” (Deel 1)

In dié nuwe blog gaan Grete Becker, ’n terapeut van Kaapstad, weekliks oor verhoudings skryf en spesifieke onderwerpe bespreek.

Grete is ’n Imago-terapeut van Kaapstad. Imago-terapie fokus op verhoudings en gee paartjies en gesinne hulpmiddels en perspektief tydens enige fase van die verhouding.

Indien jy vrae vir Grete het, stuur dit op e-pos na louann.stone@sarie.com (met Verhoudingsblog in die onderwerpveld).

In haar eerste blog bespreek sy paartjies wat hulself in ’n doodloopstraat bevind. In Hollywood kyk ons na paartjies soos Chris Martin en Gwyneth Paltrow, of Catherine Zeta-Jones en Michael Douglas, wat hul nou hier bevind. Hoe gemaak?

LEES DEEL II HIER

“My verhouding is in ’n doodloopstraat!”

En wie het dit besluit? En op watter stadium? Na hoeveel jare ? En na hoeveel sakke sout?

Wanneer iemand by my aanklop met die stelling, “my verhouding is in ’n doodloopstraat”of “ek kan nou nie verder nie”, klop my hart warm. Vir Imago-terapeute is dit musiek in ons ore. Want sien, doodloopstrate is ’n plek van omdraai en  ’n nuwe begin. Dit is soos die metafoor van die half vol, half leë glas. Dit is die implisiete wyse waarop ons situasies interpreteer wat bepaal of iets swart of wit, goed of sleg, die einde of nuwe begin is.

Alle verhoudings gaan voorspelbare en onvermydelike fases: ’n Romantiese fase gevolg deur ’n magstryd-fase. Die biologiese antropoloog Dr Helen Fisher skryf in haar boek Why We Love (klik om dit op Kalahari.com te koop) dat romantiese liefde en kokaïne dieselfde areas in die brein aktiveer. Vandag weet ons ook dat paartjies wat die skoot hoog deur het inderdaad hoog is as gevolg van die verhoogde vlakke van testosteroon, estrogeen, dopamien, norepinefrien, serotonien en oksitosin.

Hoë serotonienvlakke dra by tot obsessief-kompulsiewe gedrag. Nou kan ons verstaan waarom verliefdes elke minuut aan die ander een dink en moet kontak maak. Helen Fisher voel dat antidepressante wat serotonienvlakke verlaag, verliefdheid en die vermoë om liefde te voel, onderdruk. Sy skryf en ek haal haar aan: “I know of one couple on the edge of divorce. The wife was on an antidepressant. Then she went off it, started having orgasms and once more felt the renewal of sexual attraction to her husband and they are now in love all over again.” ( Bron: Wikipedia)

Estrogeen en testosteroon is die begeerliklikheidshormoon. ’n Kollega verwys na die romantiese fase as die “vreet-mekaar-op”-fase danksy estrogeen en testosteroon.

Dopamien in die brein is die motiveringshormoon, die feelgood-hormoon.

G’n wonder dat daar nie veel nugter denke rondom die objek van ons liefde is gedurende die verliefdheidsfase nie. Ma’s kan maar waarsku tot hulle blou word in die gesig. Hulle mors hul asem want verliefdes is onder narkose – Moeder Natuur se narkose.

Toe ek en Len 40 jaar gelede in hierdie romantiese fase was, het ek my Matie-status prysgegee om my studies by die destydse Universiteit van Port Elizabeth voort te sit. My ma het ’n ou familievriend, Ds. D vanaf Bellville na Nerina dameskoshuis opgekommandeer om logika in my kop te kry. Dié poging het nie geslaag nie, want wie kan met mens wat op ’n chemiese hormoon geïnduseerde high is, redeneer ?

Net soos ’n chirurg sy pasiënt nie vir altyd onder narkose kan hou nie, hou die natuur se narkose ook nie vir altyd nie. Ons vind dat om en by ná 24 maande die hormoonstelsel weer terugkeer na normaal. En dit is net mooi die tyd wat die paartjie commit tot mekaar. Hulle trek saam in of raak verloof en beplan die troue.

Dit is net hier waar paartjies die volgende fase bereik. Hulle betreë die kopstampfase. Hierdie oorgang kan geleidelik óf byna onmiddellik wees. Die huweliksonthaal is ’n teël-aarde vir ontnugtering. Die dominee het so pragtig gepreek van twee mense wat nou een word, en as hulle by die kerkdeur uitstap, begin die gestoei oor wie is die één.

Wanneer die kommunikasie en konneksie in die verhouding begin platval, begin mense voel die verhouding is in ’n doodloopstraat. Daar is ’n impasse want ons weet nie hoe om die vlammetjie van passie te land brand nie.

Te midde van verantwoordelikheid van beroep, ma-wees, pa-wees, broodwinner en versorger beleef ons frustrasie en word ons teleurgestel. En soms is ons woedend, want dit is nie die prentjie van happily ever after nie.

En dan begin ons weer soek na die passie van die romantiese fase.

Want sien, die mens, ek en jy, ons almal wil ten volle lewendig voel. Ons wil onvoorwaardelik liefgehê word, warts and all.

Wanneer ons dít, die liefde, nie kry nie, gaan dit voel asof jy in ’n doodloopstraat is. Maar, daar is goeie nuus en dít gee ek volgende keer.

Tot dan,

Grete

LEES DEEL II HIER

**KOOP Why We Love op Kalahari.com 

20140614_100623

Grete Becker, Imago-terapeut