SARIE-blogs

Verhoudingsblog: Om weer te trou – die noodsaaklikheid van ‘poligamie’

In dié blog skryf Imago-terapeut Francois Esterhuizen van Stellenbosch oor hoe verandering van die min konstantes in verhoudings is. Imago-terapie fokus op verhoudings en gee paartjies en gesinne hulpmiddels en perspektief tydens enige fase van die verhouding.

Indien jy vrae vir Francois het, stuur dit per e-pos na francois@vuurdoring.co.za

Mense wat gelukkig getroud is, trou nie net een keer nie. Hulle trou weer en weer. Hulle trou nie net met die partner wat maklik is om mee saam te leef nie, maar ook met die een wat soms vol nonsens is en die een wat eers sigbaar word ná jaar drie. Hulle trou nie net met die persoon op wie hulle verlief geraak het nie, maar ook met die een wat soms hul liefde verwerp. Hulle trou met die dapper een en met die lafaard. Soms is hierdie troues jare uitmekaar.

Die skrywer W. Somerset Maugham stel dit so mooi:

Ons is nie dié jaar dieselfde mense as verlede jaar nie; ook nie dié wat ons liefhet nie. Dis gelukkig as ons, wat self verander, voortgaan om ’n ander persoon wat verander, lief te hê.

Hierdie mense wat kies om weer en weer te trou en oor en oor nuwe commitments met die nuwe partner aangaan, is ook diep bewus dat hul partners dieselfde moet doen. By die tweede, derde en twintigste troue is daar nie noodwendig ‘n groep gaste om die seremonie waar te neem nie. Dit word nie deur iemand anders gefasiliteer nie. Dit gebeur sommer in die kombuis of in ‘n tent – dit het nie ‘n mooi venue nodig nie. Dit kos nie so baie geld nie, maar dit is baie duur in terme van die inspanning wat dit dikwels vra.

Ou beloftes moet gebreek word om nuwes te kan maak. Onrealistiese verwagtinge moet aangepas word om plek te maak vir die werklikheid. Daar moet konstant aangepas word om te kan leer saamleef met die verandering.

Ek weet Charles Darwin, die vader van die evolusie-teorie, het nie huwelike in gedagte gehad nie, maar die volgende aanhaling is baie relevant: “Dit is nie die sterkste of intelligentste spesie wat oorleef nie. Dit is die een wat die maklikste aanpas by verandering.”

So, vat ‘n oomblik en dink terug aan wie julle was toe julle getrou het. Kyk na ‘n foto en onthou daardie man of daardie vrou. Dink aan al die ‘ander mense’ wat jy intussen in jou partner ontdek het en vra jouself of jy al getrou het met die spesifieke een. Dis nog nie te laat nie … maak nie saak waar julle nou is nie.

Indien jy enige vrae vir ons verhoudingsblog het, stuur dit per e-pos na lucelle.hough@sarie.com

Vir vrae oor dié blog, kontak Francois by francois@vuurdoring.co.za

Besoek ook gerus sy webtuiste.

Lees ook