FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Verhoudings

Praat meer, skei minder – sê ons prokureurs

Egskeidingsprokureurs, ’n ongewone bron van huweliksraad? Nee, want hulle het alles beleef – en wéét wat huwelike laat sneuwel. Daarom het hulle ook insig in wat dit laat werk.

Een uit drie huwelike beland in die skeihof. En ja, voor julle finaal ’n streep deur jul huwelik trek, het julle hopelik alles gedoen om dit te red. Soos om by ’n berader aan te klop.

Maar watter wenke het egskeidingsprokureurs, wat daagliks met die ruïnes van mislukte huwelike te doen kry? Wat beskou hulle as belangrik vir ’n gelukkige huwelik?

Nie dat daar een resep vir almal is nie – elke paartjie s’n is anders, sê Angelique Schoeman, egskeidingsprokureur van Pretoria. ‘‘Maar ons gooi te maklik tou op. Daardie beloftes voor die altaar beteken deesdae maar min.’’

Ons trou dikwels met die gesindheid dat ons altyd weer kan skei as dinge nie uitwerk nie, beaam Magdaleen de Klerk, egskeidingsprokureur van Polokwane. Hoekom dan nie, as die gemeenskap dit as alledaags beskou?

En dis so maklik. Vir ’n egskeidingsdagvaarding hoef jy net te sê die huwelik het onherstelbaar verbrokkel weens bv. ’n gebrek aan kommunikasie. En/of dat jy jou liefde en respek vir jou man/vrou verloor het, sê sy.

Besin voor julle begin, sê Lindi Wademan, egskeidingsprokureur van Kaapstad. Ons trou dikwels net te gou en ken mekaar nie goed nie. ’n Goeie idee is die voorhuwelikse kursusse wat deur baie kerke aangebied word.

Die volgende dinge kan jul huweliksbootjie in kalm water hou, sê die egskeidingsprokureurs met wie SARIE gesels het.

september corne crous corné kim 7de laan

Hier is van hul raad.  Vir nóg raad, koop gerus die September 2014-uitgawe vir die volledige artikel.

 

 

LIGLOOP VIR FACEBOOK

Sosiale media soos Facebook, Twitter, BBM of WhatsApp het toenemend ’n invloed op ons privaatheid en familieinteraksies, sê Bertus Preller van Kaapstad, egskeidingsprokureur en skrywer van Everyone’s Guide to Divorce and Separation (Zebra Press, 2013).

Die aard daarvan moedig jou aan om, soms gedagteloos, inligting te deel. As jy ure op sosiale netwerke deurbring, dikwels ten koste van gesinstyd, kan dit ’n breuk veroorsaak wat tot ’n egskeiding kan lei.

Wat jy in die kuberruim sê, is dikwels ook nie so privaat soos wat jy dalk dink nie. En flirtasies daar duik al hoe meer as ’n rede vir egskeidings op. Want met talle interessante profiele net ’n klik ver is dit maklik om die groener gras oorkant die draad raak te sien.

SLAAPKAMER-SAKE

Daar is verskeie redes waarom paartjies nie gereeld seks het nie, sê Carol von Molendorff, egskeidingsprokureur van Krugersdorp. Ja, ons is almal besig, maar julle moet aan jul fisieke verhouding werk. Die cliché blyk waar te wees: Mans gee dikwels liefde in ruil vir seks, en vroue seks in ruil vir liefde. Seks word dikwels as wapen in die huwelik gebruik. Dis ’n snelweg na die egskeidingshof toe.

Jul seksuele verhouding is een manier om jul liefde en begeerte vir mekaar te wys, aldus Bertus. Gaan dinge daar maar sukkelrig, kan jy verwerp, kwaad, gefrustreerd en teleurgesteld voel. Dit kan ’n onbevredigende seksuele verhouding nog verder knou. Wat na die res van jul verhouding kan deursypel.

MOENIE ’N ANDER VROU SE MAN BEGEER

Affairs is dikwels die rede waarom Suid-Afrikaners skei. Dit is egter baie keer net ’n simptoom van ’n huwelik wat lankal reeds begin wankel het, waarsku Magdaleen. ‘‘Dit is altyd skrikwekkend as ’n huwelik ná veertig jaar op die rotse loop, bloot omdat hy/sy groener weivelde opgesoek het. Onthou: Groen gras verdor ook maar. Die nuwe verhouding wat nou jou maag so lekker laat kriewel, gaan ná ’n ruk ook maar alledaags raak.’’

september corne crous corné kim 7de laan

*Die inligting kom uit die artikel “Praat meer, skei minder” in die September 2014-uitgawe van SARIE. Laai dié uitgawe HIER digitaal af.

 

 

 

KONTAK

Angelique: 012 346 0810 | www.aschoemanattorneys.co.za | www.legalfix.co.za
Magdaleen: 015 297 3310 | www.ddkk.co.za
Lindi: 021 464 4700 | www.haroldgie.co.za
Bertus: 021 422 1323 | www.divorceattorney.co.za | www.divorcelaws.co.za |
bertus@divorceattorney.co.za
Ceri: 011 245 8777 | www.familylegal.co.za
Carol: 011 039 8944/8945 | cvm@neomail.co.za