Verhoudings

Proefskeiding: kan dit werk?

Hulle was op die oog af ’n model-egpaar: Jonty Rhodes, een van SA se mees geliefde kriekethelde, en sy universiteitsliefde, die mooie Kate.

In die sestien jaar dat hulle getroud is, het hulle die kollig vermy, maar wanneer die publiek wel ’n kykie in hul private lewe gekry het, was dit van ’n toegewyde gesinsman en ’n gelukkige gesin.

Jonty was nog altyd ’n sportster met onkreukbare integriteit en nes Kate ’n uitgesproke Christen. Daarom was dit so hartseer toe dit in Januarie bekend raak dat hulle uitmekaar is en Jonty nou ’n huis in Kaapstad met sy nuwe liefde, die modefotograaf Caroline McClelland, deel.

Hy pendel deesdae tussen die Kaap en Durban, waar hul kinders, Daniella (10) en Ross (5), by Kate woon.

“As dit met Jonty kan gebeur, watter kans het ons sterflike mense?” was die reaksie van een bewonderaar op die internet-forum MyBroadband.co.za.

Tog het koerantberigte mense laat hoop alles is nog nie verby nie en is berig dat Jonty-hulle eers ’n proefskeiding gaan probeer en nie dadelik egskeidingsprokureurs gaanbetrek nie (Beeld, 14 Januarie 2010 en Sunday Times, 17 Januarie 2010).

Die “pynlike” besluit om uitmekaar te gaan het “ná baie sielsondersoek” gekom, is al wat Jonty in dié stadium deur sy woordvoerder aan SARIE wil sê.

“Dis ’n private aangeleentheid wat ek nie in die media wil bespreek nie.”

Die tyd sal leer wat die uiteinde is, maar die vraag ontstaan: Is ’n proefskeiding wenslik? Rek dit nie net die hartseer uit nie?

Vir Marietjie en Chris Nell, ouers van die Survivor-deelnemer en voormalige Mej. SA, Cindy Nell Roberts, het dit voordelig uitgewerk.

Hulle het destyds ná ’n huwelik van dertien jaar ses maande apart gewoon. Vandag is hulle weer “’n gelukkige en gesonde gesin”. (Marietjie se verhaal verskyn onder Cindy se foto).

Die gholflegende Tiger Woods, wat na bewering vir seksverslawing behandel is, en sy vrou, Elin Nordegren, is glo ook besig met ’n proefskeiding nadat sy vele affairs op die lappe gekom het.

’n Maklike plan van aksie is dit nie.

Marlize Heppell, verhoudingsterapeut en sielkundige van Klerksdorp, sê paartjies wat boonop in die kollig beweeg, beleef baie sosiale druk en dit bemoeilik die proses verder.

“’n Proefskeiding gaan nie die probleme oplos nie, maar dit kan moontlik aan huweliksmaats die geleentheid gee om sake weer in perspektief te sien,” sê sy.

“Ek sal dit net aanbeveel waar een of albei voel hulle het afstand nodig.” Sy meen dit verg groot verdraagsaamheid, veral van die maat wat by die huis agterbly.

“As daar ’n ander man of vrou ter sprake is, is die risiko vir permanente skeiding soveel groter, en die huweliksmaat wat agterbly, moet geseënd wees met besondere gawes van vergifnis en lankmoedigheid.

“Proefskeidings kan nie onbepaald voortduur nie, omdat albei partye moet aangaan met hul lewe.”

Die egpaar moet ook reëls neerlê vir dié tydperk: Gaan hulle mekaar sien, hoe gaan die geldsake en toegang tot die kinders werk en gaan hulle huweliksterapie kry?

“Kinders voel gewoonlik baie onseker in sulke situasies,” sê Marlize. “Die ouers moet dit eerlik met hulle bespreek.”

Sê vir jou kinders dat julle ’n ruk uitmekaar moet gaan om alles te oordink. “Verduidelik vir hulle dat dit nie oor húlle gaan nie, maar oor die huweliksverhouding. Verseker hulle ook dat julle in die geval van ’n egskeiding ’n reëling sal tref wat prakties haalbaar is en die minste ontwrigting vir almal sal meebring.”

“Dis dikwels mense wat konflik wil vermy wat geneig is om proefskeidings te probeer,” sê prof. Kobus van der Merwe, ’n verhoudingsterapeut van Pretoria.

“Dis nie die beste opsie vir huweliksprobleme nie. Albei maats moet aan die verhouding werk, en om dit te doen moet julle bymekaar wees.”

Dit gebeur klaarblyklik meer gereeld dat pare skei ná ’n proefskeiding as dat hulle weer bymekaar kom.

Navorsing aan die Universiteit van Newcastle in Engeland het ’n paar jaar gelede gewys net ’n kwart van egpare wat vir berading gekom het tydens ’n proefskeiding, was ses maande daarna nog bymekaar (volgens ’n artikel in The Guardian).

“Tog gebeur dit soms dat mense te vinnig skei en ná ’n tydperk spyt is hulle het nie langer aan hul probleme gewerk nie. ’n Proefskeiding gee mense juis die geleentheid om nog te werk aan die moontlikheid van versoening,” sê Marlize.

Sy beveel aan dat paartjies voor die proefskeiding ’n lys opstel oor hoe hulle ’n ideale verhouding sien en dít dan met mekaar bespreek voor hulle met die proefskeiding begin. Dan is so ’n skeiding dalk ’n nuwe begin, eerder as die begin van die einde.


Baie gebede …

Marietjie Nell is haar dogter, Cindy Nell Roberts (hierbo), voormalige Mej. SA en Survivor-deelnemer, se bestuurder en werk ook as rekenmeester by ’n skoonheidsmaatskappy in Pretoria. Sy en Chris is getroud toe hulle onderskeidelik 19 en 24 was. Hulle het in 1993, ná 13 jaar se getroude lewe, vir ses maande ’n proefskeiding probeer.


Marietjie vertel:

“Ons het albei sterk persoonlikhede en is baie jonk getroud. Toe ons huwelik in die moeilikheid beland, het ek besluit om op my eie te gaan bly met Cindy (toe 12) en Chris jr. (toe 11).

“Ek sal aanbeveel dat ouers probeer om die kinders in dieselfde skool en omgewing te laat bly, anders ontwrig dit hulle te veel. Ek het vir die kinders verduidelik dat ons baie jonk was toe ons getroud is en dat ons moes besluit of ons vir altyd bymekaar wil wees. Hulle het dit aanvaar en verstaan ons wou albei net die beste vir hulle hê.

“Ek het uiteindelik besef dis die beste om by my kinders se pa te bly, want ons het almal foute. As ’n mens dit nie met een mens kan laat werk nie, sal jy dit ook nie met iemand anders kan laat werk nie.

“Ek is baie bly ons het vasgebyt, want ons is vandag ’n gelukkige en gesonde gesin. Dit is belangrik om naby God te lewe. Ons het geleer om meer met mekaar te praat, want dis so maklik om toe te laat dat misverstande jou huwelik laat misluk.

“Ek dink ’n proefskeiding kan beslis werk as albei partye dit nugter benader, oop kaarte speel en eerlik is met die kinders. Jy het soms perspektief nodig oor jou situasie – weg van mekaar – om wyser besluite te neem.

“Ons het geen terapie ontvang tydens die proefskeiding nie. Dit het vir ons gewerk om minstens twee maande lank geen kontak met mekaar te maak nie. En om nie weer na mekaar terug te gaan voor ons werklik rég was om die pad te stap nie.

“Om as ’n gelukkige gesin te funksioneer moet julle saans om die tafel eet en gereeld gesels. Dis belangrik om komplimente te gee om jou waardering te wys.”

Cindy sê:

“Die proefskeiding was nie vir my so erg nie. Dit was erger om in ’n huis te bly waar mense die hele tyd baklei. Dit was ook onaangenaam om van skool

te verander, nuwe maats te maak en van vooraf nuwe werk te leer toe ek en my broer en ma op ’n ander plek gaan woon het. Dít het my nogal ontwrig.

“Ná die proefskeiding, toe my ouers weer bymekaar ingetrek het, was dinge beter tussen hulle. Ek is gebore toe my ma maar twintig was en ek het besef dis baie jonk.

’n Mens ontwikkel baie daarna – mans en vroue – en dis sekerlik maklik om keelvol vir mekaar te raak as ’n mens só jonk trou en kinders het.

“My ouers het gelukkig alles mooi aan ons verduidelik, so ons het verstaan dit is die beste wat hulle onder die omstandighede kon doen. Ek het besef ’n mens moet nooit te vroeg trou nie.”

’18 maande uitmekaar het ons huwelik gered’

Sandra* (50), ’n skakelbeampte van Bloemfontein, en Frikkie* (54), ’n prokureur, het twee dogters wat albei al uit die huis is. Tien jaar gelede het Frikkie ’n affair gehad en het hulle ’n ruk uitmekaar gewoon.

Sandravertel:

“Frikkie het in 1999 ’n middeljare-krisis beleef. Hy het baie geld gemaak, oorsee gereis, ’n nuwe bril gekoop en sy hele voorkoms verander . . .

“Op ’n dag het hy my om ’n egskeiding gedagvaar. Hy het ’n affair met sy jong sekretaresse aangeknoop en was moeg om ’n dubbele lewe te lei. Ek was twee weke lank in ’n toestand van skok en kon kwalik die inkopie-trollie in die winkel stoot.

“Hy het gesê hy het ons albei lief en ons het toe besluit om nie dadelik te skei nie. Ek het hom gevra om uit die huis te trek en hy het in ’n woonstel gaan bly. Die ‘ander vrou’ het intussen besef hy gaan nie met haar trou nie en sy het kort daarna bedank en in Londen gaan werk.

“Die kinders was aanvanklik woedend vir hom. Hy het in dié tydperk steeds goed vir ons gesorg en die kinders selfs nog soggens skool toe geneem. Naweke het hy hulle soms op lekker uitstappies weggeneem.

“Aanvanklik wou ek níks met hom te doen hê nie. Ons het vir een sessie saam ’n huweliksterapeut besoek, maar dit het nie vir ons gewerk nie. Daarna het elkeen van ons afsonderlik ’n sielkundige gaan sien. Die kinders is ook vir sielkundige berading.

“My oudste dogter het haar pa aanbid. Toe raak sy ewe skielik wild en begin by haar kêrel slaap en rook. En toe begin sy vreeslik bid en Christelik raak. Sy glo tot vandag toe sy het haar pa ‘teruggebid’.

My jonger dogter wou skielik net maats wees met kinders uit gebroke huisgesinne. “Ek het Frikkie baie liefgehad en geweet ek sou hom nie onder my vel uitkry nie. Ek het hom toe reeds sedert my universiteitsdae geken. Al die dinge wat ons saam deurgemaak het – hoe laat jy dit net gaan?

“Ná sowat agt maande, toe ons albei meer insig by die sielkundiges gekry het, het ons beter begin kommunikeer. En toe begin hy my sowaar date. Een aand toe ons gaan uiteet, het hy gesê hy is nog lief vir my en wil weer terugkom. Ek was nog baie seer en het voorwaardes gestel.

“Hy moes minder werk en álles saam met my doen. Vroeër het ons meestal ons eie lewens gelei – ek het brug en tennis gespeel, aan twee boekklubs behoort; hy het baie alleen gereis en sy kliënte onthaal. Ek wou finansieel onafhanklik wees en werk (’n mens voel baie weerloos as jy nie jou eie geld verdien nie). Ek het hom ook gedwing om vir ’n vigs-toets te gaan.

“Hy het gedink ek gaan hom sommer maklik terugneem! Hy het kort hierna ’n week lank met depressie in die hospitaal beland. Voor hy ná 18 maande weer teruggetrek het na ons toe, het hy ons ‘omgekoop’ met ’n oorsese vakansie. Dit was wonderlik romanties. Ons gesin het closure oor alles gekry. Toe het ek ook weer by hom geslaap.

“Ons verhouding het sedertdien báie gegroei. Aanvanklik het ek gesukkel om hom weer te vertrou, maar ná ’n paar jaar kon ek. En ons is liewer vir mekaar as tevore. Ek glo nou ’n mens moet luister na jou hart en oopkop wees.”

Ons is ná ses maande geskei

Vir Ina* (35), ’n stilis van Gauteng, en Werner* (40), ’n onderwyser van Kaapstad, het die proefskeiding nie gewerk nie. Ina vertel:

“Die proefskeiding was die laaste uitweg ná etlike jare van berading by ’n verhoudingsterapeut. Dit was ’n doelbewuste besluit om te kyk of ons meer  perspektief op ons verhouding kan kry. En of ons sou kon bepaal wát dit is wat ons uit die huwelik wou hê.

“Teen die tyd dat ons dit probeer het, het ons teen mekaar bly vaspraat. Die idee was dat ons mekaar van nuuts af sou date om te sien of dit nie weer ons gevoelens van verliefdheid kon terugbring nie.

“Die reëls was dat ons apart woon vir ses maande. Ons het daagliks met mekaar gesels of ’n SMS gestuur en mekaar twee keer per week gesien vir ’n fliek, of ons het gaan uiteet of kuier by vriende. Ons mag net nie oor probleme in die verhouding gesels het nie.

“My eksman het in ons huis gebly en ek by familie. Ek was aanvanklik verlig om uit die spanningsvolle situasie te ontsnap van ’n verhouding wat nie meer werk nie.Maar ek het daagliks deur ’n mallemeule van emosies gegaan: enigiets van hartseer, woede, skaamte, ’n gevoel van verlies tot vryheid. Dit was emosioneel dreinerend.

“Ek het eers later besef ek was in dié tyd uiters depressief en erken nou eers dat ek dikwels selfmoordgedagtes gehad het. In daardie stadium het ek dit vir niemand gesê nie. Met genade het ek heel ander kant uitgekom.

“Ons het die berader twee keer per maand vir gesamentlike sessies gesien, maar ook vir individuele sessies. Ek verstaan myself vandag baie beter, deels danksy dié noodgedwonge terapie.

“Maar uiteindelik het ons albei besef ons het ons passievolle eerste liefde ontgroei en hoewel ons altyd lief sou wees vir mekaar, was dit meer soos ’n broer en suster. Dit was ’n pynlike maar noodsaaklike breuk vir ons albei om as individue te groei.”

 *Skuilname.

Wat sê die Wet?

Yumna Mookrey, ’n familiereg-prokureur van Kaapstad:

Daar bestaan nie ’n regsbegrip soos ’n proefskeiding nie. Pare is óf getroud óf geskei. Tydens die proefskeiding behoort hulle reeds oor basiese onderhoudbegrippe ooreen te kom, soos die huishoudelike begroting, die kinders se skoolgeld, mediese uitgawes, toegang tot bankrekeninge en kredietkaarte. Dit is ook raadsaam om ’n ooreenkoms te bereik oor die aangaan van skuld, onttrekkings uit verbandrekeninge, die verkoop van eiendomme en ander bates.

Bernhard van der Hoven, egskeidingsprokureur van Pretoria:

“In die praktyk eindig ’n proefskeiding gewoonlik in ’n egskeiding en ek sou voorstel dat pare só ’n ooreenkoms baie sorgvuldig oorweeg.” Tipiese reëlings sal wees wie in die gemeenskaplike huis bly en wie vir watter ouerlike pligte verantwoordelik is.

Besoek ook www.huwelike.co.za