FOTO Neville Lockhart

FOTO Neville Lockhart

Verhoudings

‘Rituele skep stilte om te herlaai’

Hannelore Olivier (35) is lektrise in musiek-produksie by die Campus of Performing Art (COPA) en klankingenieurswese by City Varsity in Kaapstad, en vryskut-komponis van Tamboerskloof. Sy beskou rituele as ’n moet vir ’n skeppende mens.

Rituele maak sin

“Ek het soms baie wêreldvreemd gevoel terwyl ek studeer het vir my meestersgraad in musiek-tegnologie aan die Universiteit Stellenbosch. Voorgraads het ek klassieke musiek studeer, maar eintlik wou ek iets meer kommersieels doen. Ek moes noodgedwonge rituele skep om sin van die lewe te maak en minder gefrustreerd te voel.”

Beelde van klank

‘‘Só het ek begin om elke aand op my klawerbord-instrument klanke te improviseer wat nie aan ritme of styl gekoppel is nie. Dit het my gekalmeer. Dis asof ek kon speel met klankbeelde. Die klanke is soortgelyk aan dié van die Estoniese eietydse komponis Arvo Pärt se musiek. Dikwels vreemde klank-trosse. “Ek is ook gek na die see. As ek ‘af ’ voel, gaan stap ek dikwels op die strand, of skryf poësie om my gedagtes te fokus. Dis ’n soort vryvloei van woorde. Daarna sal ek dikwels branderplank ry en luister na die klank van die golwe, die see ruik en na die kleur daarvan kyk – en myself net oorgee aan die golwe. “Ek vroetel ook elke middag ná werk in my kruietuin op die stoep, dikwels met ’n drankie of een van my eie kruietee-mengsels. Terwyl die sonnetjie so geel-oranje teen Leeukop skyn, rangskik ek klippe wat ek in die natuur optel om my kruiepotjies. Die potjies is gevul met onder meer roosmaryn, tiemie, jalapeno’s, Italiaanse pietersielie, vinkel, suring, grasuie, basiliekruid. Ek kook graag hiermee. Dis ’n lekker gevoel om te dink jy eet jou eie kruie en groente.”

Oosterse rustigheid

‘‘Ek is ’n Christen, maar ná sowat twaalf reise die afgelope dekade of wat na Suidoos-Asië (Bali, Indonesië, Thailand, Indië,Taiwan, Maleisië, Kambodja) loop die Oosterse invloede soos ’n rustige goue draad deur my lewe. En ja, dit het vir seker ook ’n invloed op my gewoontes. “Terwyl ek kerse verryk met olies brand en die wierook in die lug hang, dink ek terug aan Oosterse tempels. As ek my kruie, gegeurde kerse en olies ruik, dink ek terug aan die spesery-markte van die Ooste. As ek poësie skryf, sien ek soms die groenblou kleure van die Himalajas en die malse kleure van die vrugte in Bali. Saam met die rituele kom dus kreatiewe vervulling.Want ek voel spiritueel verryk.”

Wat ek nou weet

• Rituele gee balans in my lewe.

• Dit verg dissipline, anders gaan jy nie die vrugte pluk nie.

• Gun jouself die koestering van sulke gebare – hoe ouer jy raak, hoe sagter raak jy met jouself.

• As jy dinge op jou eie doen, leer jy jóú geselskap waardeer.

• Danksy rituele leer ons hoe om die lewe op ánder maniere te waardeer en te ervaar.

• Rituele daag jou uit om sekere kreatiewe grense oor te steek – jy kan jou eie reëls maak. Moenie bang wees om te waag nie.

* Dié artikel het oorspronklik in SARIE, Desember 2011 verskyn.