sr1112selfhoof04
Verhoudings

Rituele waar rus is

Wilma Enslin-Geyser: ‘’n Labirint is ’n metafoor van die lewe’

Wilma (41), medepredikant by die In Via-gemeente in Kaapstad en Somerset-Wes, ontlaai as sy ’n labirint stap. Sy is getroud met Theo Geyser (49), hoof-predikant by dié gemeente. Hulle het ’n seuntjie Lucca (3) en twee kinders uit Theo se vorige huwelik, Carissa (25), en Milan (23).

Van waar die labirint?

“Ek het ’n teologiegraad verwerf aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou Universiteit van Johannesburg, UJ) en in ’n Christelike huis grootgeword. Sowat vier jaar gelede het ek ’n plato in my geestelike reis ervaar. Dis asof ek nie genoeg verandering in myself en almal om my ervaar het nie. Pleks dat ons mekaar en die Skepping meer lief het, lyk dit of die teenoorgestelde eerder gebeur. En ek was ’n bietjie ontgogel.

“Toe begin ek allerlei boeke lees, soos Everything belongs deur Richard Rohr, ’n Amerikaanse priester van die Franciskaanse orde. Hy lê klem daarop dat jy minder moet dóén en meer moet wéés. Dit het my kop oopgemaak. Jy moet leer om dinge te laat gaan, te mediteer. Labirinte is een van die rituele wat jou daarmee help.

“Die Christene het in die antieke tye labirinte gebou en gestap as ’n simboliese geestelike reis na Jerusalem. Nes Moslems deesdae die spirituele pelgrimstog Mekka toe aanpak.”

Die reis begin

“Sowat ’n jaar gelede het ek my begin toespits op die stap van labirinte. Anders as ’n doolhof, waar daar verskillende roetes is en jy moet dínk waar jy loop, is daar net een pad in ’n labirint. Dis ’n regterbrein-, ontspannende aktiwiteit. As jy instap, ‘laat jy gaan’. In die middelpunt van die labirint vind jy jou eie waarheid, of as jy ’n gelowige is, God. Jy kan dáár bly solank jy wil. As jy uitstap, moet jy besluit hóé jy dit wat jy in die sentrum beleef het, gaan toepas. Jy hoef nie tradisioneel gelowig te wees om dié meditasie-ritueel toe te pas nie.

“Ek het al die labirint by die St. George-katedraal in Kaapstad gestap en besoek minstens twee keer per week die labirint by die Jan Maraisnatuurreservaat in Stellenbosch. Dit maak nie saak wáár jy stap nie. Die labirint is bloot die ‘vaartuig’ wat jou gedagtes fokus en orden.

“Ek het al tydens kerkkampe naby Wellington vir lidmate gewys hoe jy jou eie labirint kan bou met klippe en stokke wat jy in die veld optel. Dis so maklik. Soveel mense het ná die tyd gesê hulle besef hoe waardevol dit is om net al daardie malende gedagtes tot stilstand te bring.

“Dié ritueel is goedkoop (dis gewoonlik by ’n kerk of in ’n park), jý kan besluit wanneer jy dit wil doen. En ook hoeveel tyd jy daaraan wil bestee. Jy kan dit ook in ’n groep doen.”

WAT EK NOU WEET

  • Die labirint help my om beter te “sien” en ek voel God nou méér as ooit ín my.
  • In my gejaagde lewe van ma-, vrou- en predikant-wees bied labirinte ’n wonderlike ontlading. Dit maak my bewus van die “nou”
  • Soms is dit goed vir geestelike verryking om nuwe (maar eintlik baie ou) tradisies en gebruike te probeer.
  • Rituele verbeter jou fokus.
  • As jy by God en jou ware self uitkom, kring dit uit na alles in jou lewe – jou verhoudings met jou kinders, man, vriende en die natuur.
  • ’n Labirint is ’n metafoor van die lewe. Dis ’n reis. Dit beteken nie jou lewe is skielik uitgesorteer nie. Jy neem klein stappies om tot by die sentrum (liefde) uit te kom, maar jy moet telkens terugkeer en dit wéér doen.

Joan van Zyl: ‘Rituele laat kinders veilig voel’

Joan van Zyl en haar seun Wynand

Joan (51), hoof van redaksionele projekte van Huisgenoot, en haar seun, Wynand (13), van Wynberg, Kaapstad, berei deur Advent voor op Kersfees.

Die Advent-tradisie

“Advent begin tradisioneel die vierde Sondag voor Kersfees. Dis ’n tyd van wag en voorberei op die Kersviering.

Dit word deur heelparty Christelike kerke gevier, onder meer deur die Lutherse Kerk waarvan ek en Wynand lidmate is. Die opbou na Kersfees is só opwindend vir ’n kind.

“Ek het die Advent-tradisie by my skoonma,’n Duitser, geleer. Ek bestel vooraf ’n Adventkrans van dennenaalde by ’n bloemiste. Ons steek vier kerse daarin en versier dit met rooi appels omdat ek en Wynand hou van dié vrolike kleurkombinasie. Die Adventskleur is eintlik blou.”

Ons steek die kerse aan

“Op die vierde Sondag voor Kersfees steek ons die eerste kers aan en gesels dan rustig. Die derde Sondag word ’n tweede een saam met die oue gebrand. En só hou jy aan tot die laaste Sondag,
wanneer al vier kerse brand. Ons steek dit ook aan op Oukersaand, wanneer die familie saamkuier.

Die kersies is verskillende lengtes en lyk soos orrelpypies. Ná Kersfees brand ek dit tot dit uitgebrand is. Ons hou al die Kersversierings tot Twaalfde Nag (6 Januarie), soos ek ook grootgeword het. Eers dan pak ons dit op.”

Die afwagting tot Kersdag

“Ons maak ook ’n kalender waarop ons daagliks die dae tot 25 Desember aftel.

“Elke dag maak jy ’n datum-blokkie oop en dan kruip daar ’n sjokoladetjie of geskenkie weg. Ek het ook ’n groot stuk vilt waarop ’n Kersboom geborduur is. (My skoonsus, Sandra van Zyl, het dit jare gelede vir Wynand gemaak.) Ons hang dit op met allerlei lekkertjies daaraan. Wynand en sy maatjies kan dit dan ‘afpluk’.

“Ons bak ook Adventskoekies – veral ’n speserykoekie wat familie is van die Duitse Lebkuchen, ’n tradisionele koekie wat baie soos gemmerbrood smaak. Ons gee dit as geskenkies vir die juffrouens en terapeute by Wynand se skool. Hy was vanjaar in graad 4 aan die Vista Nova-skool in Rondebosch.”

WONDERLIKE ONTLADING

“Dit maak my baie gelukkig om dié jaarlikse ritueel saam met Wynand mee te maak. Hy is soos ’n klein seuntjie en glo nog aan Kersvader. Hy is in 1998 drie weke voor Kersfees gebore – sowat 16 weke te vroeg weens ’n ernstige vorm van preëklampsie by my. Ons albei se lewens was in gevaar
en die enigste uitweg was om geboorte te gee. Hy het net 540 g geweeg en sy lewe het aan ’n draadjie gehang.

“Toevallig het sy eerste week in die wêreld saam met Advent geval. Maar al het hy skade daarvan
oorgehou, brand daar ’n onblusbare vonk in hom.

“As mense in dié tyd kom kuier, brand ons ook die kerse. Dis ’n ritueel ná die besige jaar waar ons
soveel spertye moes haal. Jy kom weer in voeling met jouself, neem bestek van jou lewe en waardeer die wonder daarvan.”

WAT EK NOU WEET

  • Rituele hou ’n gesin bymekaar. Dis soos ’n afspraak wat jy maak om tyd saam deur te bring. Ons het ook heelparty ander gebruike in die jaar, soos om Sondagoggende pannekoek te bak.
  • Enige ding wat jou kind gelukkig maak, maak jou gelukkig.
  • Advent het op ’n manier ’n herdenking van Wynand se oorlewing geword.
  • Sulke tradisies is ’n “stop”- knoppie wat ons druk om weer tot stilstand te kom.
  • Rituele laat kinders veilig voel.

Hannelore Olivier: ‘Rituele skep stilte om te herlaai’

Hannelore Olivier

Hannelore (35) is lektrise in musiek-produksie by die Campus of Performing Art (COPA) en klankingenieurswese by City Varsity in Kaapstad, en vryskut-komponis van Tamboerskloof. Sy beskou rituele as ’n moet vir ’n skeppende mens.

RITUELE MAAK SIN

“Ek het soms baie wêreldvreemd gevoel terwyl ek studeer het vir my meestersgraad in musiek tegnologie aan die Universiteit Stellenbosch. Voorgraads het ek klassieke musiek studeer, maar eintlik wou ek iets meer kommersieels doen. Ek moes noodgedwonge rituele skep om sin van die lewe te maak en minder gefrustreerd te voel.”

BEELDE VAN KLANK

“Só het ek begin om elke aand op my klawerbord-instrument klanke te improviseer wat nie aan ritme of styl gekoppel is nie. Dit het my gekalmeer. Dis asof ek kon speel met klankbeelde. Die klanke is soortgelyk aan dié van die Estoniese eietydse komponis Arvo Pärt se musiek. Dikwels vreemde klank-trosse.

“Ek is ook gek na die see. As ek ‘af ’ voel, gaan stap ek dikwels op die strand, of skryf poësie om my gedagtes te fokus. Dis ’n soort vryvloei van woorde. Daarna sal ek dikwels branderplank ry en luister na die klank van die golwe, die see ruik en na die kleur daarvan kyk – en myself net oorgee aan die golwe.

“Ek vroetel ook elke middag ná werk in my kruietuin op die stoep, dikwels met ’n drankie of een van my eie kruietee-mengsels. Terwyl die sonnetjie so geel-oranje teen Leeukop skyn, rangskik ek klippe wat ek in die natuur optel om my kruiepotjies. Die potjies is gevul met onder meer roosmaryn, tiemie, jalapeno’s, Italiaanse pietersielie, vinkel, suring, grasuie, basiliekruid. Ek kook graag hiermee. Dis ’n lekker gevoel om te dink jy eet jou eie kruie en groente.”

OOSTERSE RUSTIGHEID

“Ek is ’n Christen, maar ná sowat twaalf reise die afgelope dekade of wat na Suidoos-Asië (Bali, Indonesië, Thailand, Indië,Taiwan, Maleisië, Kambodja) loop die Oosterse invloede soos ’n rustige goue draad deur my lewe. En ja, dit het vir seker ook ’n invloed op my gewoontes.

“Terwyl ek kerse verryk met olies brand en die wierook in die lug hang, dink ek terug aan Oosterse
tempels. As ek my kruie, gegeurde kerse en olies ruik, dink ek terug aan die spesery-markte van die Ooste.

As ek poësie skryf, sien ek soms die groenblou kleure van die Himalajas en die malse kleure van die vrugte in Bali. Saam met die rituele kom dus kreatiewe vervulling. Want ek voel spiritueel verryk.”

WAT EK NOU WEET

  • Rituele gee balans in my lewe.
  • Dit verg dissipline, anders gaan jy nie die vrugte pluk nie.
  • Gun jouself die koestering van sulke gebare – hoe ouer jy raak, hoe sagter raak jy met jouself.
  • As jy dinge op jou eie doen, leer jy jóú geselskap waardeer.
  • Danksy rituele leer ons hoe om die lewe op ánder maniere te waardeer en te ervaar.
  • Rituele daag jou uit om sekere kreatiewe grense oor te steek – jy kan jou eie reëls maak. Moenie bang wees om te waag nie.