Verhoudings

Saamwoon – is jou regte beskerm?

Dis goedkoper om saam te woon, want julle bespaar op kos, petrol, elektrisiteit, huurgeld. Ons gaan tog later trou, dink jy en gee summier jou woonstel op en verkoop jou meubels.

Goedkoper, maar as die liefde versuur, stap jy dalk weg met net jou tas en ’n tandeborsel. En finansiële probleme.

As jy maar net geweet het van ’n ding soos ’n lewensverhoudingkontrak …

Corlia van Schalkwyk, Randburgse prokureur, sê sy was self een van die ongelukkiges wat sonder ’n kontrak saamgewoon het.

“Maar ek het intussen uit my fout geleer. Ek was 18 en het net matriek voltooi toe my pa sê ‘ek het jou tot hier gebring, nou is jy op jou eie’. Ek is van ’n klein kusdorpie Pretoria toe om werk te soek.

Omdat ek geen ander heenkome gehad het nie, het ek met net ’n sak klere by my kêrel ingetrek en as sekretaresse begin werk. Die geld was nie baie nie, maar hy het veel meer as ek verdien. Ons het saam meubels gekoop en uiteindelik ons blyplek volledig toegerus.

“Maar toe beëindig ek die verhouding en daar begin die moeilikheid. Sy familie het my uit die woonstel gegooi. Uit desperaatheid het ek ’n regshulpkliniek gebel en met ’n skok uitgevind ek is op niks geregtig nie! My kêrel wou selfs die yskas wat ék gekoop het, vat.

Gelukkig het ek die koopbewys gehou. Verder het hy alles geneem wat myne was, selfs die handdoeke en duvets wat my ma vir my gegee het. Ek het nie eens ’n bed gehad nie. Net ’n tas klere en ’n yskas.”

Corlia sê sy en haar huidige verloofde, Derick van der Walt, het daarom wél ’n kontrak geteken.

“Dis baie belangrik om ’n lewensverhoudingkontrak op te stel, verkieslik voor jy by jou geliefde intrek,” sê Karel van der Molen, Media24-regsgeleerde wat ook by die Bellville Park-kampus aan die Universiteit Stellenbosch klasgee.

“Want as jul verhouding nie uitwerk nie, beskerm so ’n kontrak julle albei.”

Eenvoudig gestel, gaan dit daaroor dat julle, nes met ’n voorhuwelikse kontrak, besluit wie die CD’s, huis en hond kry sou jul verhouding nie uitwerk nie, sê Karel. Sedert gay pare wetlik mag trou, geld ’n saamblykontrak ook vir hulle.

“Dis net nie prakties om te dink dit gaan lyk asof jy nie vertroue in jul verhouding het as jy ’n kontrak voorstel nie,” sê Corlia. “Inteendeel, die ooreenkoms bevestig juis jul liefde vir mekaar. Derick het ingesien dat dit ons albei beskerm.”

Die kontrak beskerm byvoorbeeld die besittings wat elkeen voor die saamwonery gekoop het en kan ook ’n reuse-verskil maak sou een van julle sonder ’n opgedateerde testament sterf.

Sonder ’n kontrak of opgedateerde testament (wat jou insluit) kan jou maat se ma, broer of sy kinders met jóú besittings wegloop, sê Karel. Of as jou lewensmaat se onderneming vou, kan die balju ook op jóú meubels beslag lê.

SA navorsing dui daarop dat tot 47% van paartjies saamwoon, sê Corlia. Sommige wil eers kyk of die verhouding werk voor hulle trou en ander sien eenvoudig nie kans vir die finansiële of ander verpligtinge wat ’n huwelik meebring nie. Party dink boonop die opbreek van ’n saamblyverhouding is minder traumaties of ingrypend as ’n egskeiding.

Maar, sê Karel, volgens sy ervaring is saamwoonpaartjies wat ’nlewensverhoudingkontrak laat opstel ver in die minderheid. Min weet ook daar bestaan so ’n kontrak.

Advokaat Riani Ferreira van Pretoria reken saamblyers dink dikwels verkeerdelik hulle is ná ’n sekere tyd van saamwoon geregtig op die helfte van gesamentlike besittings.

Die SA Regshersieningskommissie het verlede jaar ’n konsepwet, die Domestic Partnership Bill, voorgestel, maar dit geld nog nie en daar is geen aanduiding wanneer dit van krag sal word nie.

“Sodra julle by mekaar intrek, raak jul lewens (en geldsake) ineengestrengel,” sê Corlia.

“En vroue trek meer dikwels aan die kortste end as die verhouding eindig, want mans verdien in baie gevalle steeds meer.”

Sonder kontrak kan ’n paar groot probleme opduik. Soos: As jou lewensmaat sou sterf sonder ’n testament (intestaat) of ’n opgedateerde een, wat jou insluit, het jy nie outomaties ’n reg op sy boedel nie. As jul verhouding tot ’n einde sou kom, het jy ook nie outomaties ’n reg op onderhoud nie. En as jul eiendom net op jou saamblymaat se naam geregistreer is, is hy die alleeneienaar, al het jy maandeliks ander huishoudelike uitgawes betaal, of tot die huisverband bygedra.

Daar is wel ’n paar toegewings. Soos: As jy finansieel (geheel of gedeeltelik) van jou lewensmaat afhanklik was en hy nie meer weens siekte of ’n besering kan werk nie, kan jy vergoeding eis. En as hy met sy sterfte lid was van ’n pensioenfonds kan jy dalk as afhanklike kwalifiseer en op ’n uitbetaling geregtig wees.

As jou lewensmaat gewelddadig is teenoor jou, kan jy ook beskerming kry kragtens die Wet op Gesinsgeweld.

Daar was al ’n paar hofsake weens saamblyverhoudings wat skeefgeloop het. In sommige gevalle het die “verontregte” vir haar regte geveg en gewen. Maar min van ons kan ’n duur hofstryd bekostig.

Die ideaal is dat julle ’n lewensverhoudingkontrak opstel vóór julle by mekaar intrek. “Maar as julle reeds saamwoon, is dit nog nie te laat nie,” sê Corlia.

 

SÓ SLUIT JY ‘N KONTRAK

’n Lewensverhoudingkontrak sal jul regte, verpligtinge en finansiële sake uitstippel nadat die verhouding beëindig is, maar ook tydens die verhouding. Dan sal julle nie hoef te stry oor wie wat moet betaal nie.

Die kontrak hoef nie, soos ’n huweliksvoorwaardekontrak, by die Akteskantoor (teen ’n koste) geregistreer te word of ’n vaste vorm te hê nie. Solank dit net aan die wetlike vereistes vir ’n kontrak voldoen, soos getuies wat moet teken.

Julle kan dit self opstel, maar kenners beveel eerder ’n prokureur aan. So iemand het kennis van die moets en moenies en al die klousules, en is ook bewus van nuwe wetgewing en die nuutste uitsprake, sê Karel van der Molen, regsgeleerde.

Die eerste konsultasie en opstel van die kontrak kan na raming tussen R1 500 en R3 500 kos, sê Yolanda Booysen, prokureur en mediator van Pretoria. Die koste word gewoonlik volgens die prokureur se uurlikse tarief bepaal.

As jy net die minimum kan bekostig, konsulteer minstens een keer met ’n prokureur om raad in te win voor julle self die kontrak opstel, is Corlia van Schalkwyk, Randburgse prokureur, se raad.

VRA JOUSELF VOORAF DIÉ VRAE:

* Hoe sal jul eiendom verdeel word, sou die verhouding eindig?

* Hoe gaan julle die lewenskoste tydens die saamwonery verdeel? Wie is verantwoordelik vir die huisverband, kruideniersware, die water en elektrisiteit en die versekering? Julle kan bepaal dat elkeen volgens inkomste bydra. Dis regverdig, veral as een veel minder as die ander verdien.

* Hoe sal die huishoudelike items ná afloop van die verhouding verdeel word? Veral dié waarvoor julle dalk saam betaal het.

* Hoe sal jul gesamentlike bankrekening of beleggings met die beëindiging van die verhouding verdeel word?

* As een van julle ’n eie sakeonderneming het of beplan om een te begin, wat gaan aan die einde van die verhouding daarmee gebeur? En wat sal gebeur as die onderneming tydens jul verhouding vou?

* Spesifiseer die besittings wat elkeen reeds voor die saamblyery gehad het in die kontrak.

* Maak voorsiening vir die verdeling van goedere wat julle in die toekoms saam gaan koop.

* Spesifiseer watter bates aan wie behoort wanneer een van julle sou sterf. Só maak jy seker jou bates val buite jou saamblymaat se boedel en jy sal nie met sy familie hoef te stry oor wat aan jou behoort nie. Jy kan ook laat spesifiseer dat jy in die huis mag aanbly. (Bepalings oor bates moet net nie van jul testament verskil nie.)

* Bepaal wie vir wie onderhoud gaan betaal en vir hoe lank ná die verhouding. Onthou ook om vir die kinders wat julle dalk (beplan of onbeplan) kan hê of reeds het onderhoud te beding. Dis in elk geval ’n goeie idee om die kontrak te verander as daar groot veranderings in jul lewensomstandighede is.

* Bespreek wat met jul skuld gebeur sou jul verhouding eindig. As julle met die beëindiging van die verhouding steeds nie lekker kan besluit wie presies wat kry nie, wend jou tot mediasie, sê Corlia en Yolanda. ’n Mediator het ’n kursus in mediasie afgelê en is lid van ’n geakkrediteerde organisasie soos die SA Assosiasie vanMediators (SAAM).

Jy en jou saamblymaat kommunikeer dan op gelyke voet in haar teenwoordigheid en kan só goedkoper en vinniger ’n dispuut oplos. Julle bereik ’n ooreenkoms wat vir albei aanvaarbaar is. Die proses is meer informeel as ’n hofsaak.

‘Al my eie geld was op – ek het alles in ons verhouding gestort’
Susan, Bloemfontein

 

Dit het met my gebeur

Susan (skuilnaam), ’n geskeide vrou (50) van Bloemfontein, het ’n verhouding met Pieter aangeknoop kort nadat sy “traumatiese, duur egskeiding” afgehandel is.

“Hy het gesê hy het my innig lief en het beloof om vir altyd vir my te sorg,” vertel Susan. Om dié rede het Pieter daarop aangedring dat sy haar klein sakeonderneming verkoop en die onderhoud wat sy van haar eksman kry, staak.

Ter wille van Pieter se volwasse kinders wat “erg getraumatiseer” is deur sy egskeiding, het hy gevra dat hy en Susan liewer nie formeel trou nie, maar eerder saambly. Hy wou “verdere familiedrama voorkom”.

Susan en Pieter het nie ’n lewensverhoudingkontrak gehad nie. “Ek het alles in hierdie verhouding gestort,” vertel sy. “Ek het Pieter, ‘n boer, met sy plaasbedrywighede gehelp en die pragtige huis wat hy vir ons op die plaas gebou het met my eie geld versier. Ons sou daar aftree.”

Pieter het ’n afspraak met sy prokureur gemaak om sy testament te verander sodat sy kinders én Susan ná sy dood voordeel sou trek. Maar voor hy dit kon nakom, is hy in ’n motorongeluk dood.

“Ná die begrafnis het Pieter se kinders en hul ma, sy eks-vrou, by die plaas opgedaag,” vertel sy.

“Hulle het my persoonlike goed en ’n paar stukkies meubels gepak en ’n meubelvervoerwa gereël sodat ek dadelik van die plaas moes padgee.

“Omdat ek geen ander heenkome gehad het nie, het ek by my broer ingetrek. Ek was lank nie in die arbeidsmark nie en kon nie weer werk kry nie. Al my eie geld was op – ek het alles in ons verhouding gestort.”

Ná baie jare se regskoste het Susan uiteindelik ’n skikkingsbedrag gekry. “Maar dit was steeds minder as wat ek verloor het.”

Wanneer julle ’n saamblykontrak opstel, maak dus seker albei het ook ’n geskikte testament wat spesifiseer wie wat erf as een van julle sou sterf. Maak ook seker wie die begunstigdes van jul onderskeie polisse is.

Onthou, as jou saamblymaat intestaat sou sterf, is jy nie outomaties op sy geld of jul besittings geregtig nie.

As hy sonder ’n kontrak of testament sou sterf, kan sy naaste familie alles erf.

Ook jou bates, as jy nie kan bewys dit behoort aan jou nie. Jy kan boonop uit die huis gesit word – selfs al het julle 20 jaar saamgewoon.

Advokaat Riani Ferreira sê as die inhoud van jul lewensverhoudingkontrak teenstrydig is met dié van jou maat se testament, geld die testament. Die kontrak kan jou help bewys watter meubels en dies meer aan jou behoort, maar die testament sal bepaal watter van jou lewensmaat se besittings jy erf.

BESOEK OOK

www.women24.com (Klik op “Careers&Money”, op “Legal” en op “Experts”.)

www.divorcemediators.co.za

www.familylife.co.za

E-pos: Corlia.vanschalkwyk@negota.co.za of skakel 011 369 0500/1/2/3.

Yolanda@yb-attorneys.co.za of skakel 012 660 0151/ 0861DIVORCE

Advokaat Riani Ferreira kan deur enige prokureur of deur een by 0861 DIVORCE gekontak word.