Verhoudings

Sal ons huwelik ‘n sukses wees?

VRAAG: Maak enigste en jongste kinders goeie huweliksmaats uit?

TOE
Almal se kanse op geluk is min of meer ewe goed.

NOU
Dr. Miemie Fourie, kliniese en opvoedkundige sielkundige van Bloemfontein

 “Dis bloot kliniese indrukke, maar wat plek in die gesin betref, is oudste kinders geneig om meer verantwoordelik te wees en soms is hulle meer geneig as jongste of enigste kinders om in die huwelik te oorheers.”

Elmarié du Plessis, kliniese sielkundige van Durbanville, Kaapstad, met ’n belangstelling in huweliks- en verhoudingsberading
 “Ek reken dat jou emosionele volwassenheid, vermoë om konflik te hanteer en emosionele vaardighede ’n groter rol speel as jou plek in die gesin.”

VRAAG: Is dit nodig dat die paartjie mekaar lank ken voor hulle trou?

TOE
Dit lyk of paartjies wat mekaar van 3 tot 7 jaar geken het voor hul huwelik, gelukkiger is.

NOU
’n Lang, romantiese en streslose tydperk voor die huwelik beteken dikwels min, sê Miemie. “Iemand het vir my gesê ses weke saam in ’n oorlogsgeteisterde gebied het die voordeel gehad dat hy sy tweede vrou baie beter geken het as sy eerste vrou met wie hy tien jaar getroud was!”

Die skrywer James Dobson stel voor dat julle mekaar minstens ’n jaar ken, sê Elmarié. “Maar ongeag hoe lank julle mekaar ken, die ideaal is dat jy vooraf dinge ordentlik deurpraat. In daardie verliefde fase waar elkeen sy beste voetjie voorsit, is daar dinge wat jou maat beslis nie van jou weet nie.

“Ek ondervind ál meer paartjies kom voor die troue vir ’n paar beradingsessies. Dan kan jy moontlike potensiële konflik bespreek: Waar gaan julle woon, gaan jy aanhou werk, wat gebeur as daar kinders is, geloofsverskille, hoe gaan julle skuld hanteer, die seksuele verhouding, jul verwagtinge en vrese. In die tyd wat julle mekaar leer ken, begin julle die patroon skep van hoe dit ná die troue gaan wees. Baie keer dink mense dit gaan verander, of hulle hoop hulle kan hul maat verander . . . en dan kom hulle agter dit gaan nie gebeur nie, en daar’s groot konflik.”

 

Hou jou oë wawyd oop voor die huwelik, en halfpad toe daarna! 

– Jamaikaanse spreekwoord