FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Eie stories

Selfs met ADHD kry hy graad

Barend Pienaar (21) het nog altyd geglo met harde werk kan jy enigiets bereik. 

In 2012 is Barend, wat as kind met ADHD gediagnoseer is, deur die WKOD vereer nadat hy in matriek die hoogste punte vir ’n leerder met leerprobleme behaal het.

En in Desember 2015, ná drie jaar se harde werk op Elsenburg-landboukollege buite Stellenbosch, het ook sy BAgric-graad gekry.

Barend het destyds aan SARIE gesê hy was “bekommerd” oor sy tyd op universiteit, omdat dit so baie lees en skryf verg. Dit was die twee goed waarmee hy dikwels gesukkel het.

“Maar my aandagafleibaarheid het my dít geleer: Jy moet altyd hard werk. Maak nie saak wat jy doen nie,” het hy verder gesê.

Sy tannie Anne-Marie Jordaan het die goeie nuus met SARIE.com gedeel. En ook gesê hulle spog as familie oor sy prestasie.

Matrikulante die land oor het die afgelope week gewys dat drome waar kan word.

Pinquan Chen (18) van Bloemfontein, wat vyf jaar gelede van China na Suid-Afrika geïmmigreer het en nie ’n woord Afrikaans kon praat nie, het sy matriekeindeksamen nie net in Afrikaans afgelê nie, maar al sy vakke geslaag en boonop ’n onderskeiding gekry, berig Netwerk24.

En Sandri du Plessis (17), van Hoërskool Montagu, het eerder ’n nuwe sakrekenaar gekies as ’n duur matriekafskeidrok, berig Netwerk24. Sy het 7A’s verwerf.

Hoërskool Spine Road in Mitchells Plain, wat eens as ’n bendeskool bekend gestaan het, het in 2014 ’n 100%-slaagsyfer gekry. Dit was ’n eerste vir die skool en die gemeenskap. Vanjaar het die 2015-klas dit net-net gemis en 99,3% van sy leerders het geslaag. Vyf van die leerders gaan vanjaar medies studeer aan die Universiteit Stellenbosch.

Dikwels verg dit net selfvertroue en harde werk.

Lees nou