FOTO Unsplash / IB Wira Dyatmika

Verhoudings

Só lyk ’n narsis – moenie vir hom val nie

In die boek The Affair deur Philippa Sklaar en die sielkundige Sue Hickey identifiseer hulle vier soorte egbrekers – dis mans wat rondloop. Hulle ondersoek ook die vroue wat vir hulle val …

Die vier soorte egbrekermans wat hulle identifiseer is: die seksuele roofdier, die narsistiese rondloper, die romanse-verslaafde en die opportunis.

Vandag kyk ons na die narsistiese rondloper en die tipe vrou wat vir hom val. Maak seker jy sien die slaggate vroeg raak.

Die narsistiese rondloper

Hy (of sy) soek aanmekaar die soort aandag kenmerkend van ’n nuwe verhouding, wat nie op lang termyn volhoubaar is nie. Hy gee nie erkenning aan ander mense se behoeftes en verwagtinge nie. Dis deel van sy onvermoë om empaties te wees. Getrou aan een vrou wees? Daardie reël geld nie die narsis nie. Sy behoeftes kom altyd eerste.

Dis natuurlik nie wat jy sien as jy hom ontmoet nie. Hy is dikwels welsprekend, innemend en fassinerend. Sosiale geleenthede is ’n kans om ander te beïndruk, te verower en die applous te kry waarna hy hunker. Hy gesels met jou, deel komplimente uit en streel jou ego net genoeg sodat jy vir hom val. Hy is dikwels die middelpunt van die geselskap en bewonderaars omring hom. Nabetragting van sosiale geleenthede is besaai met aanmerkings oor hoe onaanvaarbaar of onvanpas ander mense en perfek en in die kol jy is. Luister goed – dis wenke van wat hy later van jou gaan verwag.

Dit klink hemels en dit is – aanvanklik. Hy hunker egter aanmekaar na nuwe dinge. Is die verhouding verby die wittebroodfase, raak hy ontgogel. Sy verveeldheid word jou fout, ’n refleksie van jou ontoereikendheid. Eers kon jy nie ’n voet verkeerd sit nie, nou kan jy niks reg doen nie. Hy verneuk jou en verkwalik jóú daarvoor. Dis jou skuld dat sy behoeftes nie bevredig word nie. Nou buig jy agteroor om weer die betowering van daardie eerste dae te herskep. Jy wil nie loop nie, want wat as hy die volgende vrou op die hande dra, soos eers vir jou?

Die vrou wat vir hom val

Sue sê: As een van jou ouers ’n narsis is, is jy gewoond aan ’n gebrek aan empatie wat so tipies van dié man is. Jy vlei en prys hom, want is dit nie hoe jy geleer het om met ’n narsistiese ouer te oorleef nie?


Volgende week kyk ons die na seksuele roofdier.

* Die web-artikel is verwerk uit die artikel “Mans wat rondloop en vroue wat swig” deur Lydia van der Merwe wat in die Januarie 2017-uitgawe van SARIE verskyn het.

Die inligting kom uit The Affair: Recovery from Illicit Sex, Lies and Betrayal (MFBook, 2016) deur die Suid-Afrikaanse sielkundige Sue Hickey en Philippa Sklaar, ’n kliënt wat al aan albei kante van die draad gestaan het.

AFFAIR boek hickey sklaar

Lees nou

Hillary Clinton praat oor Bill se affair PLUS só vergewe jy – sielkundige gee raad

Jare saam, trou – en dan skei ons

Oor seks en seksvoorligting