Verhoudings

Soek jy ‘n meer intieme verhouding?

Anke* het weke lank aan Bertus*, haar man, se veertigste verjaardagpartytjie beplan. Meer as sestig van sy vriende en kollegas is genooi en alles moes perfek wees.

Dit was ’n vrolike aand. Bertus het later opgestaan 
en almal by name bedank wat gehelp het. Selfs die skottelgoedwassers. Net nie vir Anke nie, wie se idee dit was en op wie se skouers al die reëlings gerus het.

“Die ergste is, ek dink nie hy het dit doelbewus gedoen nie,” sê sy nou. “Dit het nooit eens by hom opgekom om my te bedank nie.”

Hulle deel lankal nie meer ’n bed nie, hy kla sy is ’n rustelose slaper. Emosioneel kry sy geen ondersteuning nie. Kort nadat sy vir ’n nood-blindedermoperasie in die hospitaal opgeneem is, het hy saam met vriende op ’n motorfietstoer vertrek. Toe sy haar werk verloor, het hy belowe om haar geldelik by te staan. Maar sy moes smeek vir elke sent wat sy wou hê.

Maar Bertus sê hy is lief vir sy vrou.

Daar word gesê die eensaamste mense vind jy in die huwelik, en intimiteit-anoreksie in ‘n verhouding is by uitstek ‘n voorbeeld daarvan, sê dr. ST Potgieter, kliniese sielkundige van Kaapstad.

Dié term is deur die Amerikaanse sielkundige Douglas Weiss geskep. Dis die weerhouding van emosionele en seksuele intimiteit – en vernietig talle huwelike.

“Ek het skoonheidskoninginne gesien wie se mans nie by hulle wil slaap nie,” sê hy in sy boek Intimacy Anorexia: Healing the Hidden Addiction in Your Marriage (Discovery Press, 2010). “Dit het meer te doen met die vermyding van intimiteit as die vermyding van seks.”

Een van julle, of soms albei, rig emosionele versperrings op en koester nie die verhouding nie. Dit raak verskillende sfere van intimiteit: emosioneel, intellektueel, spiritueel en/ of seksueel. En julle ly albei daaronder.

Jy versteek jou ware identiteit deur skanse om jou te bou, weens dinge soos pyn en seerkry, trauma, vernedering en verwerping, sê dr. Potgieter. Dit is later soos betonmure en jy word koel en afsydig. Dis omdat jy jouself wil beskerm teen verdere seerkry en pyn en ter wille van oorlewing. Of jy word dalk deur jou huweliksmaat se afsydigheid en onttrekking hierin gedwing.

Dit laat julle albei emosioneel geïsoleer voel. En, as jy met so iemand getroud is, kan jy voel jy is alleen in die verhouding.

Dis nie ’n nuwe ding nie, maar floreer in die moderne lewe, sê Douglas, wat dit al 20 jaar bestudeer. Die moderne tegnologie maak dit makliker om intimiteit in ’n verhouding te vermy. Voorheen moes jy slim wees met verskonings oor hoekom jy gedurig laat werk. Nou is ons bedrywig met slimfone terwyl ons eet, ons sit ure voor die TV en rekenaar. En ons het meer kontak met ons Facebook-vriende as ons huweliksmaats.

Die beskikbaarheid van elektroniese toerusting kan intimiteit-anoreksie inderdaad ontlok of versterk, sê Elise Fourie, voorligtingsielkundige van Pretoria. Elektroniese speletjies en/of die sosiale media soos BBM, WhatsApp, Twitter of Facebook kan verslawend wees. Hoe dikwels sien jy nie ’n man en vrou in ’n restaurant nie, elkeen besig op sy/ haar selfoon of tablet. “Daar is talle vroue wat hande in die hare sit omdat hul mans tot in die vroeë oggendure met ’n interaktiewe rekenaarspeletjie doenig is.”

Volgens Douglas het hy talle mense ontmoet wat nie eens besef intimiteit-anoreksie is iets waarmee hulle sukkel nie. Daar is ’n gebrekkige bewussyn daaroor.

[box:full:red:both]

Wat kan die redes wees?

Dalk was daar gesinsprobleme in jou grootwordjare. Dalk het iets gehaper met jou verhouding met jou ouer van die teenoorgestelde geslag. ( Jou pa as jy ’n vrou is.) Of jou ouers het min vir mekaar te sê gehad en jy volg bloot hul voorbeeld, sê Douglas.

Inderdaad, sê Elise. Daar was dalk nie emosionele en liefdevolle intimiteit in jou ouerhuis nie. Nie tussen jou ouers nie en ook nie teenoor die kinders nie.

Nog redes, volgens Elise

  • Jy kan weens seksuele en fisieke mishandeling intimiteit vrees en veiligheid in afstand en beheer soek. Maar emosionele mishandeling is ook ’n rede. Fisieke en seksuele mishandeling veroorsaak gewoonlik vrees, maar emosionele mishandeling laat jou ook emosioneel onttrek (dus intimiteit-anoreksie).
  • Wanneer jy oorwerk is, of hoë stresvlakke het, het jy dikwels nie genoeg fisieke of emosionele energie om emosioneel, wat nog te sê fisiek, intiem te wees nie. Maar dis dikwels ook ’n gerieflike verskoning om emosionele intimiteit te vermy en aan te hou vermy.
  • Oormatige konflik kan daartoe bydra. Julle is net té kwaad vir mekaar en vermy emosionele intimiteit. Soms byna as straf vir jou lewensmaat wat jou kwaad gemaak het. Daar is dikwels soveel wrokkigheid wat soos ’n berg raak, dat emosionele anoreksie mettertyd die enigste manier raak om te funksioneer.
  • Erge onverwerkte trauma kan soms so oorweldigend wees dat jy emosioneel onttrek om staande te kan bly.
  • Huweliksprobleme: Jul huwelik is so afgetakel dat emosionele en fisieke intimiteit eenvoudig nie meer moontlik is nie.
  • Huweliksontrouheid: Julle het daarna besluit om nie te skei nie, maar kan ook nie vorentoe beweeg nie. Dit raak makliker om in ’n emosionele woestyn te leef as om te skei, of om aan die huwelik te werk.
  • Dit gaan ook saam met sekere persoonlikheidstrekke, 
sê Elise. Dis vir talle introverte, perfeksioniste en obsessief- kompulsiewe mense (dink aan die TV-karakter Monk) moeilik om met emosionele en fisieke intimiteit vol te hou. Hulle is geneig om in verhoudings emosioneel op ’n afstand te wees. Dit is ook moontlik dat skaamheid verkeerdelik as intimiteit-anoreksie gesien word.
  • Angstigheid, veral wanneer dit na ’n sosiale fobie neig, kan tot emosionele anoreksie lei.
  • Mense met depressie kan ook daartoe neig. Jy’s eenvou- dig net té depressief om ’n emosionele verbintenis te vorm.

[/box]

Herken hom/haar

Is jy getroud met een? Of is dit dalk jyself?

Altyd besig

Hy is só besig dat daar min tyd vir jou oor is, sê Douglas. Miskien reis hy baie, of sy is altyd besig met verpligte take: kosmaak, die huis netjies maak en die kinders versorg.

Dis jou skuld!

Hy plaas die blaam vir alles wat skeefloop op jou skouers. Die grassnyer breek, dis nie jou verantwoordelikheid om dit te onderhou nie, maar nietemin is dit jou skuld dat dit stukkend is, sê Douglas.

Weerhou liefde

Hy weet wat jou behoeftes is, maar bevredig dit nie. Jy moet smeek vir aanraking, drukkies en soentjies. Hy wend geen poging aan om hegte gesinsbande te smee nie, al is die geleentheid daar. Hy vermy dit om met jou vriende te kuier. Julle kuier (apart) saam met jul afsonderlike vriende, sê Elise.

Nie vanaand nie, Skat

Julle het selde seks. As julle wel het, is hy in sy kop op ’n ander plek. Douglas sê hy het al mense gesien wat in twintig jaar nie seks gehad het nie. Maar hulle slaap in een bed.

Hy is selfsugtig as julle seks het en fokus net op sy eie behoeftes, wei Elise uit. Of sy probeer slaap voor hy bed toe gaan om dit te vermy. Gebeur dit wel, is sy ingesteldheid dikwels “kry tog net klaar”.

Geen kloppie op die skouer

Hy sien nie jou goeie eienskappe raak nie en fokus op jou foute. “Ek bak vir hom ’n koek en hy sê niks. Maar as sy suster dit doen, loop hy oor van dankbaarheid.”

Emosioneel afgesny

Elise sê daar is nie respek of begrip vir jou emosies nie. Hy loop weg as jy emosioneel reageer, selfs al is dit nie heftig nie. Dit maak hom verbouereerd, kwaad of geïrriteerd. En as jy emosioneel oorreageer, verneder of kritiseer hy jou met: “Jy is pateties om so aan te gaan.”

Kritiek

Hy probeer jou aanmekaar afkraak en wys voortdurend jou swak plekke uit. Hy is baie vinnig om ’n lys op te stel van wat met jou verkeerd is.

Bly weg!

Hy probeer jou straf, beheer of op ’n afstand hou deur woede of stilstuipe. Douglas sê daar is mense wat dit regkry om weke lank nie met hul vrou of man te praat nie.

Geld as wapen

Sy geldsake is ’n geslote boek, aldus Douglas. Of hy gee jou net die allernodigste. Hy gebruik dalk geld as ’n manier om jou te beheer/manipuleer. “Ek koop vir jou alles, moenie kla oor ’n gebrek aan intimiteit, liefde of seks nie,” is sy houding. Of hy gee jou geld sodat jy jouself kan besig hou en tog net nie vra vir intimiteit nie, sê Elise.

Die boerpot-vraag

Voel jy soos ’n woonstelmaat eerder as ’n wederhelf? Douglas sê hy hoor dit baie.

Dit gebeur met ons almal, maar . . .

Baie mense in ’n langtermyn-verhouding sal waarskynlik met ’n paar van dié dinge kan identifiseer. Dis die realiteit in enige verhouding wanneer die wittebrood-fase eers verby is. As een van julle ’n ruk lank hard werk, is dit maar hoe die lewe is. In alle verhoudings is daar stres.

Maar volgens Elise bly die gemiddelde paartjie steeds emosioneel verbind, ten spyte van baie werk of stres. Julle doen moeite om uit te gaan en mekaar emosioneel te ondersteun. Maar intimiteit-anoreksie strek verder as dit. Daar is geen intieme verbintenis tussen julle nie, maand na maand, jaar na jaar.

As jy aan die ontvangkant van sulke gedrag is, sukkel jy. Dalk sit jy gewig aan omdat jy troos en ondersteuning in kos en lekkernye soek, sê sy.

En Douglas: Jy verloor jou eiewaarde en kan baie bedruk raak. Jy word ’n wrokkige, depressiewe of onseker mens.

Die risiko dat jy buite-egtelike verhoudings aanknoop, is baie groot, waarsku Elise: Jy gryp na enige aandag.

Daar is ook ’n gevaar dat jy self emosioneel onttrek. Soms ten koste van ander verhoudings, soos met jou kinders, familie en vriende. Jy kan wantrouig raak teenoor ander mense en verhoudings.

Wat jou wederhelf dan uitbuit deur die slagoffer te speel. “Kyk hoe swaar kry ek met haar …” Dit skep nog meer afstand tussen julle. Douglas vertel van een vrou wat agt maande nie seks met haar man gehad het nie. En sy kon nie verstaan hoekom hy kwaad is nie.

 Hoe nou?

Daar is hoop, maar julle moet albei aan jul verhouding werk. Douglas beveel ’n 12-stap-proses aan, soortgelyk aan dié van Alkoholiste Anoniem. Iemand met intimiteit- anoreksie moet eerstens erken hy is magteloos teenoor die probleem. “Jy weet dikwels hoe om lief te hê, jy doen dit bloot nie,” sê Douglas. “Maar as jy die probleem kan identifiseer en erken dit bestaan, kan jy dit oorkom.”

Volgens Elise moet julle saam ’n verhoudingsterapeut besoek. Julle sal kommunikasie-tegnieke leer en om oor jul emosies te praat.

Die een wat emosioneel anoreksies is, moet ook individuele psigoterapie oorweeg. Insig in jou verlede, persoonlikheid en optrede is belangrik om dit te
oorkom. Stel vas wat is die vrees/bekommernis/oorsaak onderliggend daaraan. Bespreek met jou terapeut/maat hoe jy ondersteun wil word om dit te kan oorwin.

Die herstel van ’n intieme verhouding begin met die soeke na jou ware identiteit, sê dr. Potgieter. Wie is ek? As jy weet wie die ware jy is, kan jy begin om die skanse om jou af te breek. En jou weer oopstel vir intimiteit in jou huwelik.

Wenk: Douglas se raad om intimiteit in jou verhouding aan te wakker: Deel elke dag twee emosies met jou maat en gee hom/haar twee komplimente.

En Elise sê: Deel elke dag se lief en leed met mekaar. “Wat was sleg en lekker van jou dag.” Luister met empatie en moenie raad gee nie. Simpatiseer en wees saam bly.

As jy getroud is met so iemand, weet dat jy die reg het om standaarde te stel oor hoe jy behandel wil word. Dis jou reg om op respek aan te dring; en om jou grense binne die verhouding te stel.

*Skuilname.

KONTAK

Elise Fourie 012 348 7393/1342, kepsych@mweb.co.za Dr. ST Potgieter 021 949 5007, www.pitkos.co.za