Verhoudings

Sonde met die skoonouers – hier’s raad

 

Dilemma
Ek en my man is 5 jaar getroud en ek het van die begin af probleme met my skoonma. Ek kan niks reg doen nie – sy help my gedurig reg. Sy het selfs so ver gegaan om my meubels te herrangskik! Toe dit uiteindelik tot ’n konfrontasie lei, het my man hom skaars gehou. Ek voel hy het my nie ondersteun nie en is woedend en seergemaak.” Hester, 29

Raad
Dr. Cecile Gericke, sielkundige, hipnoterapeut en motiveringspreker van Johannesburg,
sê dis tradisioneel ’n probleem:Skoonma en skoondogter wedywer oor wie die belangrikste in die man se lewe is.

“Jou skoonma voel sý is steeds nommer een en wil net die beste vir hom hê. Sy doen dinge om hom gelukkig te hou – sonder om te besef sy oortree op jou gebied. Jý voel weer jy word geweeg en dikwels te lig bevind, en jy tree dan selfgeldend en/of aggressief op. Jou stomme man is in die middel. Hy weet nie wat om te doen nie en onttrek. Uiteindelik ontplof dinge. Besoek ’n berader wat as tussenganger tussen jou en jou man kan optree. Praat openlik. Kommunikasie en konflikhantering is tegnieke wat aangeleer kan word. Onderdruk jy daarenteen jou gevoelens, voel jy hulpeloos – en dit tap jou energie.”

Dr. Miemie Fourie, kliniese en opvoedkundige sielkundige van Bloemfontein, sê jy moet grense stel:

“Toe sy jou meubels begin rondskuif, kon jy in ’n vriendelik-dankbare stemtoon gesê het: ‘Ek waardeer Ma se moeite, maar as dit nie vir my werk nie, skuif ek dit weer.’ As jy steeds seker is dis nie soos jy dit wil hê nie, skuif dit terug en staan jou man as sy dit later sien. Maar kyk of daar nie dalk wel ’n verbetering is nie. Want ons raak dikwels emosioneel as ons seergemaak voel en kan dan nie die kaf van die koring skei nie.”

Daar ís egter mense wat werklik beterweterig is, sê Miemie. Skryf sy vir almal voor wat hulle moet doen? Dink sy altyd sy is reg? Dan gaan sy nie verander nie en mors jy tyd en energie deur “woedend” en “seergemaak” te voel. Ignoreer dit as sy jou wil reghelp en werk aan jou sensitiwiteit vir kritiek.

Dilemma
“My skoonouers woon die afgelope 5 jaar by ons. Dis vir my moeilik om hulle te hanteer – hulle weet net mooi alles wat in ons lewens aangaan. Hulle het nooit van my en my familie gehou nie en gaan uit hul pad om moeilikheid tussen my en my man te veroorsaak. Hy kies nooit my kant nie.” Ronelle, 48

Raad
Cecile sê dis ’n resep vir probleme: 3 geslagte wat saam woon.
“Julle moet duidelike grense stel: Jou skoonouers moet wéét hulle moet jou en jou man tyd gee om alleen saam te wees. Al kyk julle net TV saam met die kinders. Omskep die situasie in iets positiefs: Gee hulle verantwoordelikhede, soos kinders oppas as julle uitgaan.
En Miemie: “As jou skoonouers se waardes en gewoontes van julle s’n verskil, gaan dinge nooit verander nie. Die verskille gaan altyd daar wees. Maar hoe weet hulle ‘net mooi alles’ wat in jul lewens aangaan? Vertel jou man hulle? Jul privaatheid behoort nie net tot die slaapkamer beperk te wees nie. Praat met hom oor jou behoefte om ’n vertrouensverhouding met hom te hê. Gee hom ek-boodskappe: ‘Ek wil graag soms dinge nét vir jou vertel.’ Dalk luister hy. Bespreek dit as julle rustig en alleen is. Kies die tyd en plek – moenie wag tot daar ’n rusie of onenigheid is nie.”

Dilemma
“My skoonouers gee meer aandag en liefde aan my swaer en skoonsuster se kinders as aan ons s’n. Dalk is dit omdat die ander kleinkinders nader woon en hulle mekaar meer gereeld sien. My swaer en skoonsus het huweliksprobleme en my skoonouers voel dus hul kinders het ekstra aandag nodig. Maar dit pla mý kinders. Hoe verduidelik ek dit aan hulle?” Annelie, 43
 

Raad
Volgens Cecile kán dit gebeur dat kinders se bande nie so stewig is met Oupa en Ouma wat ver woon nie – en daarom kry dié wat nader woon meer aandag. (Maar ook andersom: die kinders wat ver woon, kan in ’n stralekrans van volmaaktheid gehul wees, want Oupa en Ouma word nie aan hul stoutigheid blootgestel nie.) Jy en jou man moet met jou skoonouers praat. Gebruik ek-boodskappe: “Ons voel julle gee meer aandag aan die ander kleinkinders. Ons kinders voel uitgesluit. Hoe kan ons dit regstel?” Moenie aanvallend en aggressief wees nie en probeer hul samewerking kry.
Praat ook met jou kinders, sê Miemie. “Sê vir hulle: ‘Oupa en Ouma sien jul nefies en niggies baie meer as vir ons. Hulle weet Susan hou nie van boontjies nie en Kosie wag al lank vir ’n krieketkolf.’ (Of wat ook al.) ‘Omdat ons ver bly, ken hulle julle nie só goed nie. Maar ek weet hoe bly hulle was toe julle gebore is.’ (Of enige positiewe bewys van hul liefde wat jy kan noem). As die kans daar is, bespreek dit met jou skoonpa of skoonma, met watter een jy ook al die beste verhouding het. Of met albei, as jy gemaklik is daarmee. Besluit self of jy dit met hulle kán bespreek. Hoor ook wat jou man daarvan dink. Vertel hulle presies wat jy vir jou kinders gesê het. Hulle moet weet hoe hul kleinkinders voel.”

Dilemma
“My man moet my skoonfamilie gereeld geldelik help. Ons is pasgetroud en het dit self nodig. Hy reken dis sy plig en verstaan nie hoekom dit my pla nie.” Rina, 23

Raad
Miemie wonder of basiese behoeftes hier ter sprake is, soos ’n dak oor hul koppe en kos op die tafel? “In dié moeilike tye moet ’n mens soms jou ouers of uitgebreide familie help. As dit nie só is nie, geld die spreekwoord: ‘Charity begins at home.’ Dis noodsaaklik dat julle saam doelwitte bepaal en finansiële prioriteite met mekaar bespreek. Probeer om praktiese voorstelle te maak. Die meeste mans luister daarna, eerder as wat jy (volgens hom) emosioneel raak.
Werk ’n begroting uit en kyk hoeveel julle kán gee, sê Cecile. Dis deesdae nie net ’n morele en emosionele verpligting dat kinders na hul ouers moet omsien nie – jy kan ook wetlik verplig word. Is daar nie dalk ander kinders wat ook kan help nie?

 

Dilemma
“My skoonsuster wedywer met my. Sy maak my agteraf sleg by my skoonma en saboteer my waar sy kan. As ek byvoorbeeld aanbied om die Kerstafel te dek, sal sy dit doen terwyl ek ’n uiltjie knip. Daar is vir ons albei ’n plekkie in die son. Ek wil nie méér geliefd of gewild as sy wees nie, maar ek kan ook nie stilsit terwyl sy my beswadder nie. Sê ek egter iets, lyk ék soos die moeilikheidmaker!” Gerda, 39
 

Raad
Cecile se raad is dat jy nie te veel energie daarop moet mors nie.
“Fokus op jou en jou gesin se geluk. Bou aan ’n sterk verhouding met jou man. Wees net jouself en gesels openlik met jou skoonma oor jou suksesse, doelwitte . . . jou menswees. Die woord ‘kommunikasie’ is die sleutel.”
Miemie wei uit: “Maak seker jou skoonsuster het nie rede om jou te na te kom nie. Jy het nie beheer oor haar gedrag of kennis van haar emosies (dalk onsekerheid?) nie. Jy ken egter jouself en is vir jou eie emosies verantwoordelik. Wat sal gebeur as jy haar doelbewus (maar altyd eerlik) begin komplimenteer? Gee haar die geleentheid om te wys wat sy kan doen. Moenie meeding nie: Hou jou talente vir jou man en jou huis, waar jý in beheer is. As jy ’n behoefte aan erkenning het, sê dit vir jou man. Mans sien dikwels nie raak wat tuis gedoen word nie en laat na om die positiewe te beklemtoon. En gee jouself ook ’n kloppie op die skouer.”

Dilemma
“Ek het vrede daarmee gemaak dat my skoonma haarself steeds as die belangrikste vrou in my man se lewe beskou. En dat sy vir my sê hoe hy van sy kos en sy klere hou – selfs hoe sy bed opgemaak moet word! Maar ek sit my voet dwars as dit by my kinders kom. Sy gaan my nié vertel hoe ek hulle moet grootmaak en hulle agteraf dissiplineer nie. Ons
eersteling is nou 2 en al die tekens is daar dat sy wil oorneem. Hoe dra ek die boodskap oor?” Alida, 34

Raad
Miemie sê jy moet dit met jou man bespreek en sy samewerking kry. En sê dan vir jou skoonma dis vir jou ’n probleem. “Ons het almal verskillende rolle: kind, broer of suster, vriend, man of vrou. Dis jou persepsie dat jou man nog altyd al dié rolle volgens sy ma se voorskrifte vertolk het. Nou is júlle ouers. Jul kind het jul albei se gene. En julle skep die omgewing waarin hy grootword – en vorm hom volgens jul waardes, grense en geloof. Dit klink asof jy heelwat onderdrukte woede teenoor jou skoonma (en dalk ook jou man) het. As dit só is, werk daardeur. Moenie ou emosionele bagasie (dalk jou woede weens ’n vorige voorval) oordra na ’n nuwe situasie (jou kind en sy opvoeding) nie. Jy verwys na ‘agteraf dissiplineer’. Wantrou jy jou skoonma? Is dit só erg dat daar niks is waarvoor jy haar respekteer nie? Wat jou kind betref: Jy moet nóú jou voet dwars sit, soos jy self sê. Maar doen dit met liefde en nie woede nie. Neem die kleinding eers na ’n ander vertrek. En dan sê jy: ‘As Ma van my verskil, sê dit later vir my. Maar nie voor hom nie.’”

Dilemma
“Ek is 3 jaar gelede met ’n wewenaar met ’n 6-jarige seuntjie getroud. Ons is baie lief vir mekaar. Die probleem is my man se susters. Niks wat ek vir my stiefseun doen, is in hul oë reg nie. Ek wil nie probleme in die familie veroorsaak nie. Selfs voor ons getroud is, het ek die gevoel gekry dat hulle saamkonkel. ’n Mens wéét mos.” Frieda, 44
 
Raad
Miemie sê: “Julle 3 is nou ’n gesin. As jy voor die troue daarvan bewus was dat hulle konkel, is dit húlle aard
, deel van die manier hoe húlle dinge doen. Wees bewus daarvan, maar moenie dat dit jóú besmet nie. As jy jou daaraan steur en toelaat dat dit jou omkrap, gee jy hulle mag. Probeer bo dit uitstyg en glo in jou nuwe gesin se liefde vir mekaar. Werk daaraan, geniet en waardeer dit. Ons is soms erg kleinserig vir ander se kritiek. As dit só is, werk aan jouself. Jy is die outeur van jou lewe, niemand anders nie.”
Cecile reken dit kan help as jy probeer om hulle meer te betrek – laat hulle jul kind se fairy godmothers speel.

Dilemma
“My man moes nog altyd in sy ouer broer se skadu staan. Toe ek voor sy broer se vrou swanger raak, was my skoonouers baie opgewonde oor hul eerste kleinseun. (Hulle het sommer aangeneem dis ’n seun.) Ek het egter ’n miskraam gehad en dit was ’n dubbele slag vir my man. Veral toe my skoonsuster kort daarna die lewe skenk aan die langverwagte kleinseun. Dit maak my woedend dat hy altyd tweede viool moet speel.” Anna, 29
 
Miemie: “Vir wie is jy ‘woedend’? Jou man, sy broer, sy ouers . . . of God? Dan het jy jou eie hartseer oor jou miskraam nog nie verwerk nie. Dis ’n verlies wat nie sommer verdwyn nie, veral met ’n eerste swangerskap. Gaan deur die rouproses en moenie huiwer om hulp te soek nie. Wat die tweede viool betref: Maak jy van jou man ’n koning in jul verhouding en jul huis? Doen jy wat jy kan om sy selfbeeld te versterk? Gee jy hom emosioneel en fisiek die versekering dat hy eerste in jou lewe is? Jy kan niks aan die verlede doen nie. Ook nie aan die feit dat sy broer-hulle die eerste kleinseun het nie. Maar jy het beheer oor jul wêreld. Die huwelik werk só: Jy moet insit wat jy self daaruit wil hê – en word dan daardeur verryk. Jou man hoef nie tuis tweede viool te speel nie, en jy ook nie.”