FOTO Unsplash / Charlie Foster

FOTO Unsplash / Charlie Foster

Verhoudings

Dis tyd om aan te beweeg – tekens jou verhouding is verby

Dilemma: Ons verhouding is voorspelbaar

Ek en my man lei elke dag dieselfde lewe. Werk toe, huis toe, aandete eet, soms sommer voor die TV. Ek weet al hoe hy gaan reageer op sekere goed, en hy kan dieselfde van my sê.

Hy is ’n goeie mens en almal hou van hom. Dalk het ons uitmekaar gegroei. Moet ek aanbeweeg?

Wat sê die kenners?

Janine Myburgh, voorligtingsielkundige van Johannesburg

Elke verhouding gaan deur verskillende seisoene. Aanvanklik verwag jy die emosies en hormone van die wittebroodfase sal ewig aanhou, en Hollywood laat jou dit glo. Wanneer jul verhouding dan ’n voorspelbare patroon kry, is dit maklik om benoud te raak en te glo daar is iets fout.

Maar Hollywood jok vir jou. As jy jul verhouding aan dié standaarde meet, gaan jy nooit tevrede wees nie. Jul verhouding gaan ook sy herfs en winter beleef, en dié fases sal meer werk verg.

Maak ’n kopskuif: Daar’s nie fout nie, dit beteken juis dat jul verhouding groei en ’n nuwe fase ingaan. Om moeilike tye saam te verwerk is ’n teken van ’n volwasse verhouding.

Dalk voel jy verveeld oor jou eie leefstyl en uitkyk, eerder as oor jou maat – dis dan net makliker om by iemand anders fout te vind. Jy kan nie verwag dat ’n verhouding die lewe se moeilikheid, hartseer of verveling verander nie, maar jy het wel ’n maat wat al die tye saam met jou kan deurmaak.

Verveeldheid is nie op sy eie ’n rede om te skei nie. Moenie sommer jare se harde werk weggooi nie. Put eers alle bronne (raad van vriende, familie of sielkundiges) uit voor jy besluit om aan te beweeg. Onthou, die volgende persoon gaan ook nie vir ewig opwindend wees nie.

mood verhouding pixabay

Annemarike de Beer, sielkundige van Johannesburg

Jy kan nie verwag om verlief te voel sonder enige bydrae van jou kant nie. Neem gerus die eerste stap en sê vir jou man jy voel asof julle in ’n groef is:

Kies ’n tyd wanneer julle rustig kan gesels, met volle aandag. Gesels, moenie aanval nie. Gebruik ek-boodskappe eerder as jy-boodskappe (“Ek voel seergemaak wanneer jy …” pleks van “Jy doen nooit …”) en fokus op gedrag eerder as die persoon (“Ek voel hartseer as jy …” pleks van “Jy is gevoelloos …”).

Onthou, julle is verskillende mense. Gee mekaar ruimte om julself te wees.

Soms gaan julle verskillende opinies hê, maar jy hoef nie saam te stem nie – jy hoef net te verstaan. Doen dan wedersyds só moeite:

• Begin mekaar weer soengroet.

• Maak tyd vir ’n afspraak met jou maat sonder die kinders – minstens twee keer per maand (al is dit ná slaaptyd ’n piekniek in die sitkamer).

• Word weer vriende. Gesels elke dag met mekaar.

• Vind ’n gemeenskaplike belangstelling: soek die beste burger op die dorp, lees ’n boek saam …

• Hou op om op die negatiewe te fokus en gee vir mekaar eerlike komplimente. As jy voortdurend fout soek, gaan jy fout vind.

• Begin oor seks praat om mekaar se behoeftes te verstaan.

Lees nou

Dilemma: Ek hunker nog na my eks

My tweede huwelik is vol komplikasies

Pasgetroud en nou is ek spyt

  • Riana

    Die grootste haakplek is dat ons dikwels dink ons moet self probeer om die probleme reg te maak. En dan val ons vas in die emosionele dryfsand van verhoudings. Maar jy hoef nie daar te bly nie. Huweliksberaders is mense wat die vaardigheid het om jou op praktiese maniere uit hierdie dryfsand te haal en julle verhouding weer ‘n vaste fondament te gee. Daarom moet jy oorweeg om eers ‘n huweliksberader op te soek – voor jy opgee op jou verhouding. As jy wil weet hoe huweliksberaders jou kan help, loer gerus by http://www.huweliksberader.co.za