ter wille van my man April 2014
Verhoudings

Offer jy te veel op? Sê jy te veel: “Ter wille van my man”?

Julle’t beloof om deur dik en dun bymekaar te staan. Maar wat as jý altyd die een is wat opoffer?

Sarel* het eendag by die huis gekom en opgewonde vertel hy het ’n vervoermaatskappy gekoop – in ’n ander provinsie.

“Ons het mekaar sedert skooldae geken en ná ons troue op Krugersdorp in Gauteng nesgeskop. Ek het ’n lekker pos by ’n plaaslike skool gehad, my familie en vriende was net ’n hanetreetjie ver.”

ter wille van my man April 2014Sy was gelukkig, vertel Esmé*. Maar Sarel het gekriewel. Toe hy die besigheid in die Natalse Middellande koop, het sy getwyfel. Hulle het nietemin sak en pak getrek.

“Ek kon seker nie vir altyd onder my ouers se vlerk bly nie. Maar ek het nie werk gehad nie en dit was moeilik. Ek was ook baie alleen as ’n trok iewers op die langpad breek en Sarel moes gaan help. Ek het egter geglo dis ’n belegging vir ons toekoms.”

Sy het net haar voete begin vind, vriende gemaak en ’n goeie haarkapper gekry, toe die slag kom. Sarel het nie sy navorsing gedoen nie en ’n onderneming met baie skuld gekoop. Die bank het alles kom opeis. Sy het dit eers gehoor toe hy aankondig hulle trek, hy het werk in Durban gekry.

Esmé het daar ’n werk gekry wat haar nie baie besig hou nie. Optimis wat sy is, gebruik sy die tyd om verder te studeer. Sy het by ’n paar skole aansoek gedoen en glo sy sal spoedig ’n pos kry. Maar Sarel haat dit om vir ’n baas te werk en droom groot drome van weer sy eie onderneming begin.

Haar verhaal het nie daar geëindig nie en sy sou nog baie keer agter hom aantrek. Haar siening van die saak: “Ons het voor die kansel beloof om deur dik en dun bymekaar te staan.”

Enige verhouding vra opofferinge. Navorsing wys inderdaad pare is gelukkiger, en die kanse beter dat julle bymekaar gaan bly, as julle dit doen, berig Psychology Today se webblad (www.psychologytoday.com). Dit wys jy gee om en kan jou selfs goed oor jouself laat voel.

Soms kan dit jou lewe drasties verander, soos as jy na ’n ander land of provinsie toe moet trek. Ander kere kan dit iets kleins en klaarblyklik onbenullig wees, soos om na ’n aksiefliek te kyk en nie die komedie waarvan jy hou nie.

Maar wat as jy die een is wat altyd die opofferinge moet maak? Dit kan vroeg in ’n verhouding ’n patroon raak. En mettertyd tot ’n wanbalans van mag lei. Dis ’n resep vir ongelukkigheid en onvergenoegdheid vorentoe.

Al is opoffering dus ’n kenmerk van enige verhouding, wag daar moeilikheid as jy altyd jou eie behoeftes afskeep.

’n Amerikaanse studie wys boonop die lewensmaat aan die ontvangkant voel nie juis meer toegewy aan hul selfopofferende lewensmaat nie. Dalk, sê die navorsers, omdat hulle nie eens bewus is daarvan dat die ander een iets spesiaals gedoen het nie.

Pasop vir dié gevaarligte – lees hier

Nou kan ek nie meer nie …

Tertia* is bitter ongelukkig oor wat sy as haar man se asosiale gedrag beskou. “Deesdae voel ek hoe ’n wrewel in my opstoot as ek hoor hy het al weer ’n uitnodiging van die hand gewys. Die ergste is hy beskou dit nie as ’n opoffering van my om by die huis te bly nie. Hy sê altyd: ‘Jy is welkom om op jou eie by vriende te gaan kuier.’ Maar dit werk nie regtig nie. Ek kan sién almal wonder waar is my man dan.

“Oujaarsaand was dit weer so. Ons tweeling-matriekseuns was oorsee. Die buurt was vol geluide van mense wat jil en saamkuier. Maar ons was (al weer) stoksielalleen. Herman* is so gelukkig soos ’n kat met ’n piering melk. Ek, daarenteen, is sielsongelukkig – en eensaam.

Herman het geen begeerte om met ander mense te kuier nie. Nie eens by sy eie susters nie. Ons is albei aangename mense met interessante lewens, ons kan lekker gesels – ons is nie sosiale misfits nie. Maar hy hou daarvan om op sy eie te wees, al lyk hy op die oog af gesellig. Die uitnodigings na etes en partytjies het mettertyd opgedroog. Ons wys dit dan heeltyd van die hand (op sy aandrang).”

Dit was aanvanklik vir haar ’n interessante eienskap dat hy so sy eie ding kan doen. Homself ure kan vermaak met sy geliefde houtwerk en getimmer aan sy outydse motors. Nie meer nie.

“Hy is dierbaar. Daar is net die een irritasie, wat ek voor ons huwelik nie  eens raakgesien het nie. Die werklikheid het my eers jare later getref, toe die kinders grootword en ons meer tyd kry om saam met vriende te kuier.

“Ek het jare lank die sosiale mens in my as’t ware onderdruk, maar nou kan ek nie meer nie. Ek offer soveel van myself op en ek dink nie my man is eens bewus daarvan nie.”

Waarom dan al die opofferings maak? Dis ’n antwoord wat jy diep in jouself moet gaan soek. Doen jy dit omdat jy voel dis die enigste manier om jou man se liefde te behou, moet daar rooi ligte flikker.

Volgens James de Villiers, sielkundige van Kaapstad, kan dit wees dat jy uit vrees vir verwerping en ’n gebrek aan eiewaarde en selfvertroue jou basiese behoeftes en emosies onderdruk. En aanneem dat jy liefde en aanvaarding moet verdien.

Dit hou dalk verband met jou kinderjare, toe jy blootgestel was aan ’n omgewing (ouerhuis/skool/gemeenskap/portuurgroep) waar jy nie met respek behandel is nie.

Respek en liefde was nie onvoorwaardelik nie, jy moes dit verdien. Wanneer jy dit gewaag het om van gesagsfigure te verskil is dit as ongehoorsaamheid en disrespek gesien. Só ’n omgewing kweek onnodige onsekerheid, angs, skaamte en skuldgevoelens. Jy vorm nie ’n eie identiteit nie.

“Wanneer jy in ’n huis grootword waar liefde en aanvaarding verdien moet word, word godsdiens ook maklik ’n las. Jy verstaan opoffering dan verkeerd,” sê James.

Werk só daaraan – lees hier dié 8 wenke

Van iets kosbaars beroof

Lisa* se ouers het erg baklei. Sy en haar broers en susters het in vrees geleef vir die volgende uitbarsting.

As volwassene het sy altyd met die verkeerde mans uitgegaan. Totdat sy Hennie* ontmoet het. “Ons het ’n goeie verhouding, buiten die een ding wat pla. Ek wil kinders hê en hy nie.

“Hy het altyd geweet dis vir my belangrik, maar nooit standpunt daaroor ingeneem nie. Toe ek egter begin aandring dat ek nie jonger raak nie (ek is in my laat dertigs), het hy net geweier. Hy kan nie in die huidige politieke en ekonomiese bedeling kinders grootmaak nie. Daar is nie ’n toekoms vir hulle nie, sê hy.

“Ek hink op twee gedagtes: Dat dit vir my beter gaan wees as enkelouer, en dat ek nie sonder hom wil leef nie. Hy kyk na my soos ’n verlore hondjie, bang ek gaan loop en skuldig dat hy die situasie help skep het. Objektief weet ek ons lewe saam sal goed wees, sonder kinders. Hoekom voel ek dan asof ek van iets kosbaars beroof is? En as ek nou so voel, hoe gaan ek nie voel (ook teenoor hom) wanneer ek glad nie meer kan kinders kry nie, en die gemis eenvoudig net te erg raak?”

Die uitwerking van sulke selfopofferende liefde op ’n verhouding? Goed en sleg raak deurmekaar, sê James. Dieselfde mens vir wie jy lief is, laat jou onseker, bang, verwerp, skaam of skuldig voel.

Want jou emosionele sekuriteit lê nie in jouself nie, maar hoe jy jou maat behandel. As jy nie doen wat hy wil hê nie, voel jy ondankbaar. Veral as hy goed in jou en jou gesin se brood-en-botter-behoeftes voorsien.

Hy word al hoe meer die bron van jou sekuriteit. Jy reken as hy jou verwerp, is jy verlore. Jy is banger vir die pynlike gevolge van verwerping as die negatiewe gevolge van te veel opoffering. Dit hou verband met jou verhouding met jou ouers: Jy was afhanklik van jou ouers vir wie jy lief was, maar moes plesier gee voor jy enige liefde kon kry. Onbewustelik is jy besig om jou identiteit steeds op iemand anders te bou.

Sulke selfopofferende liefde kan lei tot ’n intimiteit- en ’n vertrouensprobleem, sê James. Vir baie jare het jy opgeoffer. Maar nou begin jy soos ’n slagoffer voel teenoor die einste mens vir wie jy lief is. Jy kan jouself onttrek, oorreageer of aggressief (passief of verbaal) wees. Dit kan jou ook baie kwesbaar maak om ’n affair aan te knoop. En dan maak jy dieselfde opofferinge vir jou minnaar.

As julle kinders het, dink hulle dis hoe ’n verhouding werk, en navorsing wys die patroon word dikwels herhaal. In enige verhouding is opoffering ’n balanseertoertjie. ’n Verhouding floreer net as daardie fyn balans tussen gee en neem gehandhaaf word.

*Skuilname is gebruik.

4 Maniere om dit uit te praat – lees hier

KONTAK
James: 021 559 6400 | jamesdv@iafrica.com
Annalize: 012 567 4768 | www.terapiesentrum.co.za
Pieter: 083 283 2050 | pieterdps@gmail.com

* Die artikel het in SARIE April 2014 verskyn

Ekstra inligting

Pasop vir dié gevaarligte – lees hier

Werk só daaraan – lees hier dié 8 wenke

4 Maniere om dit uit te praat – lees hier