FOTO Unsplash / Sunset Girl

FOTO Unsplash / Sunset Girl

Verhoudings

1 uit 10 in SA het ‘bomskok’

Die treurspel in Nice, Frankryk, verlede week het net weer illustreer: Ons leef in ’n wêreld waar die lewe goedkoop geword het.

Ook plaaslik is misdaad en geweld alledaags: Baie gevalle van fisieke en seksuele aanranding, motorkaping en huishoudelike geweld haal dikwels nie eens die koerante nie. Dis eenvoudig nie meer nuus nie.

Posttraumatiese stresversteuring (PTSV) kom by ’n groot deel van die bevolking voor, sê dr. Eileen Thomas, psigiater by die Akeso- psigiatriese kliniek in Milnerton, Kaapstad. Psigiaters skat sowat 10% (sowat 6 miljoen) Suid-Afrikaners ly daaraan, volgens die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (SADAG). Meer nog het net van die simptome.

Van kinders en adolessente tot volwassenes en bejaardes, niemand is immuun nie. Dit ontstaan ná ’n oorweldigend traumatiese gebeurtenis wat jy beleef het, of waarvan jy net ooggetuie was.

’n Egskeiding of aflegging by die werk tel nie. Wel blootstelling aan ’n lewensbedreigende situasie, ernstige besering of seksuele molestering. Jy kon die slagoffer gewees het, of net ooggetuie daarvan. Ook mense wat herhaaldelik daaraan blootgestel word, soos ’n maatskaplike werker aan kindermolestering. Dit kom dikwels by soldate voor en is in leketaal bekend as “bomskok”.

Nie almal wat ’n trauma beleef het, ontwikkel PTSV nie. Sommige herstel met die hulp van familie, vriende en ander ondersteuning.

’n PTSV-diagnose kan skynbaar onverwante simptome byeenbring, volgens dr. Thomas.

Soos angs, depressie, slaaploosheid, sosiale isolasie en middelmisbruik. As daar nie versigtig in die pasiënt se verlede gekrap word vir moontlike blootstelling aan trauma nie, kan ’n halfdosyn verskillende diagnoses gemaak word.

Risiko-faktore

Ons het ’n merkwaardige vermoë om terug te bons ná trauma en sal dikwels waarskynlik nie PTSV ontwikkel nie. Sekere risiko-faktore gaan jou meer weerloos daarvoor maak. Soos ’n kindertyd waar dinge skeefgeloop het: ’n Ouer is vroeg dood, mishandeling en verwaarlosing, gebrek aan sosiale ondersteuning, passiewe hanteringsmeganismes, ’n introverte persoonlikheid, blootstelling aan stres en trauma oor ’n lang tyd. Jou ouderdom, moontlike psigiatriese afwykings en nabyheid aan die gebeurtenis speel ’n rol. Vroue het ’n groter risiko om dit te ontwikkel.

Simptome

Die blootstelling aan traumatiese gebeure beïnvloed mense verskillend. Twee mense met ’n diagnose van PTSV kan dus verskillende simptome hê.

PTSV-simptome word in vier groepe geklassifiseer.

1. Herbelewing van die gebeure, soos ontstellende drome.

2. Vermyding van stimuli wat met die trauma geassosieer word. Jy kan byvoorbeeld weier om daaroor te praat, of vermy om na die betrokke plek terug te keer.

3. Negatiewe verandering in jou denke en emosies geassosieer met die trauma. Jy kan byvoorbeeld oormatig skuldig of skaam voel en kan belangrike aspekte daarvan nie onthou nie.

4. Geïrriteerde gedrag en woede-uitbarstings met min of geen aanleiding, probleme met konsentrasie, skrik jou boeglam vir niks.

Negatiewe effek

Soos wat die PTSV-simptome ontwikkel, gaan jou fisieke en geestesgesondheid agteruit, volgens dr. Thomas. Dit meng in met jou daaglikse funksionering en dit maak familie, vriende en kollegas bekommerd. Só is nagmerries byvoorbeeld algemeen en kan lei tot uitputting, gebrek aan konsentrasie en jy kan nie jou werk behoorlik doen nie. Sekondêre komplikasies soos middelmisbruik en depressie en angsversteurings is ook moontlik. PTSV wat nie behandel word nie, kan die risiko vir selfdood vergroot.

Behandeling

Soek hulp by ’n psigiater of sielkundige, verkieslik een met ervaring van trauma-verwante toestande. Hoe vroeër jy daarmee begin, hoe beter die uitkoms, beklemtoon dr. Thomas.

Farmakologiese en sielkundige benaderings kan albei ingespan word. Presies watter behandeling gevolg word, word deur elke individuele geval bepaal.

Herstel en terugval

As jy vantevore aan trauma blootgestel was, is jy meer weerloos teenoor daaropvolgende negatiewe gebeure. Veelvuldige traumas, soos gemeenskaps- en seksuele geweld, kan ’n akkumulatiewe effek hê. Dan raak PTSV chronies, maar simptome wissel en kan vererger in stresvolle tye. Herstel, ook bekend as remissie, is egter moontlik.

Kennis is mag. Hoe meer jy van die toestand verstaan, hoe groter is die kans op genesing, volgens dr. Thomas.

 

*Kontak SADAG 0800 12 13 14, Facebook/The South African Depression and Anxiety Group, www.sadag.org

*Julie is geestesafwyking-bewusmakingsmaand.