Verhoudings

Uitbranding, keer dit betyds

“As jou werk nie meer iets is wat jy dóén nie, maar iets wat jy ís, moet jy die gevaartekens lees. Wanneer jou liggaam jou dan waarsku, is dit moontlik reeds te laat. Pasop vir passie-loopbane, want die lekker verbloem die demoon.”

Die sanger Steve Hofmeyr praat uit ervaring. Hy is eers met ’n geperforeerde dikderm in die hospitaal opgeneem en toe met diepaar-trombose. Steve leef nou versigtig, want ’n bloedklont kan tot ’n beroerte en sy dood lei.

Steve Hofmeyr

“Ek het die insinking nooit uitbranding genoem nie, maar met die pas waarteen ek gewerk en slaap vermy het, kon dit net sowel gewees het,” sê Steve. Hy het twee jaar lank minder as vier uur ’n nag geslaap. Selfs in die hospitaal het hy, “met loopring en al”, die sekerheidsmanne soggens om vieruur besig gehou!

“Vir agt weke ná die operasie moes ek optree met ’n kolostomie-sak wat aan my maag hang,” vertel hy nou.

Steve se werkprogram was skrikwekkend. In twee weke het hy 13 episodes van sy kykNET-program, Dis hoe dit is met Steve, opgeneem. Hy was besonder aktief op sy blog en is bekend daarvoor dat hy sy e-posse self antwoord en vier optredes ’n week hou. Dis tóé dat sy dokter sê: Stop jou blog.

 

Ek moes weer leer slaap. – Steve Hofmeyr

 

“Ek moes weer leer slaap,” vertel Steve. Die emosionele stres van sy egskeiding het tot sy ineenstorting bygedra, sê hy.

Steve se musiekvriende was bekommerd. Amanda Strydom het gesê hy lyk uitgeteer en uitgebrand, “soos iemand wat deur ’n woestyn is”.

Steve het geluister. “Ek vervang nou aansien, rekords en kompetisies met kreatiwiteit, stilte en die terapie van met my kinders speel.”

Hy is ook nou “ernstig oor heelgraan”. En hy het sy werk afgeskaal. Hy tree nie meer so baie op nie, maar bestee meer tyd aan gesinsdinge, skryf en lees, en minder aan tegnologie.

Vir sy eie veiligheid leef hy rustiger. “Ek is versigtig wanneer ek met my seuns stoei. Dinge soos boomklim en rugby speel is vir ewig verby. Ek beplan wel om draf so spoedig moontlik te hervat, want ek is tans uiters onfiks.”

Die sangeres Lady Gaga het in April vanjaar ’n maand afgevat om uitbranding te keer. En die supermodel Kate Moss het einde verlede jaar in ’n mediese spa gaan ontspan om streshanteringstegnieke te leer.

Al hoe meer mense sukkel om hul werk en hul lewens te balanseer, sê Retha Alberts, Kaapse sake- en lewensafrigter. Ons is meer as ooit tevore oorlaai, sê sy. Omdat maatskappye herstruktureer, moet dié wat oorbly veel meer werk doen. Boonop word sommige mense in posisies aangestel waarvoor hulle nog nie die vaardighede het nie. Dit veroorsaak stres vir hulle én vir die mense wat hulle moet help.

Baie werkers vrees dat hulle hul werk gaan verloor en is daarom bereid om nóg meer verantwoordelikhede te aanvaar.

Tegnologie vererger dinge. “Dit géé jou nie meer tyd nie, dit vérg meer,” sê Retha. Met gevorderde selfone en 3G-kaarte hou die werkweek ook nie saans of naweke op nie.

Ander bydraende faktore is kompetisie en druk, hoër verwagtinge van kliënte, die nuwe werketiek – werk is die sentrale aspek van jou lewe – en globalisering, sê dr. Mias de Klerk, Johannesburgse spesialis in organisasiegedrag. Die wêreld word kleiner. Mense reis meer vir werk en het heeltyd kontak met ander wêrelddele.

“Al dié faktore beïnvloed jou moraal. Jy sukkel om so toegewyd soos voorheen te wees en jy voel dikwels jy kán nie meer nie,” sê Retha.

Die groot gevaar van uitbranding is dat jy byna nie weet dis besig om te gebeur nie. Jy kom net op ’n dag agter jy kan nie meer nie. En anders as wat die meeste mense glo, laat te veel werksure jou produktiwiteit en kreatiwiteit afneem. Mias verwys na statistieke uit die konstruksiebedryf “wat ewe goed vir die witboordjiewêreld kan geld”: As jy 60 uur ’n week werk, is jou produktiwiteit net 85% van wat dit in ’n 40 uur-week sou wees!

Daar is ’n groot verskil tussen stres en uitbranding, sê kenners egter. Stres verwys na ons reaksie op die eise van die lewe. Dit het ook ’n positiewe, motiverende kant, sê Mias.

Maar wanneer jy te veel stres oor ’n lang tydperk ervaar, brand jy uit. Volgens ’n Amerikaanse Gallup-peiling is 80% van werkendes gestres en sê sowat die helfte hulle het hulp nodig.

Hier is die gevaartekens: Jy is geïrriteerd, moeg, terneergedruk of selfs depressief. Jy oorreageer op klein goedjies, slaap sleg, wil nie in die oomblik wees nie, dagdroom heeltyd en is onproduktief. Jou naaste verhoudings word aangetas, sê Retha.

Wanneer jy uitbrand, voel jy of jy teen ’n roltrap opklim, sê sy. Jy is emosioneel, verstandelik én liggaamlik uitgeput. Jy voel oorweldig. Soos die stres erger raak, verloor jy belangstelling in jou werk. Jy is onproduktief, voel hopeloos, sinies en gegrief en het nie meer krag vir belangrike verhoudings nie. Kortom: Jy kan nie meer ’n normale lewe lei nie, sê Mias.

 

Jy voel of jy teen ‘n roltrap opklilm as jy uitbrand. – Retha Alberts

 

Dis normaal om sóms te voel jy doen te veel of jy wil net in die bed bly. Maar as jy meestal so voel, flankeer jy met uitbranding. Enigeen kan uitbrand. Werk jy tuis, skakel jy dalk nooit die rekenaar of selfoon af nie. Is jy ’n tuisteskepper, het jy dalk nie ’n goeie ondersteuningstelsel nie. Persoonlikheid speel ook ’n rol: Veral as jy in beheer wil wees, ’n tipe A-persoonlikheid het (jy’s gedrewe en mededingend, soos 80% van bestuurslui), ’n pleaser en oor-ambisieus is of nie jouself kan bestuur nie.

Professionele beroepslui, medici, sielkundiges, onderwysers, joernaliste en lugvaartbegeleiers loop die grootste gevaar om uit te brand, sê kenners.

Jy behoort kennis te neem van wat jou gees en liggaam sê, reken Retha. Sodra jy voel jy verloor beheer, pas jou lewe aan.

“Dit wys jy is emosioneel intelligent.”

UITBRANDING: WAT MOET JY DOEN?

* Verander nóú jou lewensuitkyk, sê dr. Mias de Klerk, spesialis in organisasiegedrag. “Dinge sal nie vanself regkom nie.”

* Aanvaar alles hoef nie perfek te wees nie. Dis normaal om soms foute te maak.

* Moenie emosies opkrop nie. Sê soms as jy gefrustreerd of kwaad is.

* Besef jy hoef nie altyd druk te ervaar om te kan presteer nie.

*Wees minder kompeterend. Leef jou eie lewe en stel jou eie prioriteite.

* Verander jou houding teenoor tyd. Die wêreld gaan nie eindig as jy selfopgelegde sperdatums mis of vyf minute later wegkom nie.

* Hou op vrees dat die maatskappy jou sal laat gaan. Mias sê as jy jouself oorlaai, neem die volume en gehalte van jou werk dikwels af. “Dan is jy dalk juis die een wat eerste gaan.”

* Vra jouself af waarom jy soveel verantwoordelikhede aanneem. Dalk vir ego-streling of weens ambisie?

* Leer onderskei tussen klein dingetjies en grotes.

* Heroorweeg jou ambisie. Wil jy regtig 13 uur per dag werk of 40 ander mense bestuur?

* Ondersoek jou waardes, sê lewensafrigter Retha Alberts. Navorsing deur die Menslike Navorsingseenheid toon diegene op uitvoerende bestuursvlak bestee gemiddeld net ses minute per dag aan hul kinders! Oorweeg dit om jou leefwyse af te skaal. Gaan woon in ’n goedkoper huis of een nader aan die werk, of kry ’n werk wat korter ure verg. Moenie dat ’n vrees vir verlies aan status of luukses, of wat ander van jou dink, jou weerhou van verandering nie. Jy is belangriker as dit!

* Maak seker jou waardes stem met die maatskappy s’n ooreen. As gesinstyd vir jou belangrik is, maar jou senior verwag dat jy 15 uur per dag werk, sal jy makliker uitbrand.

* Skakel tegnologie soms af. Keer dat ’n oorvloed inligting jou oorweldig. Dis nie nodig om álle e-posse te lees nie.

* Delegeer en bemagtig ander om ook jou werk te kan doen sodat jy ruskanse kan neem.

* Hou vakansie. Verleng nou en dan ’n naweek en neem jaarliks ’n langer vakansie. As jy dink jy is onmisbaar by die werk, oorskat jy jou eie waarde, sê Retha. “As jy nie eens jou vrye tyd kan bestuur nie, hoe kan jy ’n leier op jou gebied wees of ’n span bestuur?” vra sy.

* Trek (respekvol) grense. Jy is verplig om oop kaarte met jou baas te speel, sê Retha. Sê vir hom/haar as jy uitstel wil hê, te lang ure werk of oorlaai word. So nie, sal jy net meer werk kry.

* Wees realisties. Dit ís dalk te veel om klein kindertjies te hê, bedags drie uur lank in die verkeer te sit, ’n senior pos te hê, saans ná sewe tuis te kom én te moet huishou en kook!

* Maak seker jy is gelukkig in jou werk. Dan verbeter jou breinritme, jou hartklop is stadiger, jy is rustiger, meer produktief en kreatief, sê Retha. Maak ’n skuif as jy ongelukkig is. Pasop vir werkolisme as jy passievol is.

*Doen soms niks. Moenie dan aan jou moet-doen-lysie, probleme of dié “onproduktiewe” tyd dink nie.

* Beperk jou werkure. Die Europese Agency for Safety and Health het bevind as jy deurlopend meer as 48 uur per week werk, verdubbel jou risiko om aan ’n kardiovaskulêre siekte te sterf.

* Slaap genoeg. Die Australiese Civil Aviation Safety Authority het bevind om 17 ure lank nie te slaap nie, het dieselfde effek op jou konsentrasie as ’n bloedalkoholvlak van 0,05 (die hoogste wettige vlak vir bestuur)!

* Hou op om drie dinge gelyk te doen.

Wat sê die dokter?

Uitbranding is nie ‘n siekte nie, maar eerder ‘n teken van fisieke en geestelike ooreising, sê dr. Dawie van Velden, mediese navorser van Stellenbosch. In ’n stres-situasie laat die hipotalamus aan die onderpunt van jou brein ’n “alarm” in jou liggaam afgaan, wat die senuwee- en hormoonstelsel beïnvloed.

Jou byniere (net bokant jou niere) skei verskeie hormone af, waaronder adrenalien en kortisool. Te veel hiervan, met ander woorde te veel stres, oor ’n lang tydperk, tas bykans al die stelsels in jou liggaam aan. Jou bloeddruk kan styg, jou immuunstelsel word onderdruk, jy kan ’n hartaanval of beroerte kry, gouer verouder en selfs onvrugbaar wees.

Ander gesondheidsprobleme sluit in spierpyn, spysverteringsiektes soos ’n spastiese kolon en veluitslagte soos ekseem. Uitbranding kan ook die sneller vir depressie wees, sê dr. Van Velden, “want dit versteur die chemiese oordragstowwe in die brein”.

Al behandeling wat werk, is slaap, rus, wegbreekkans en die vermoë om nee te sê, sê hy. “Kortom: Jy sal jou leefwyse moet verander en eerder slimmer as harder moet werk.”

 

Wie kan help?

• As jy besonder gestres voel, sê eerste vir jou baas. Vra raad.

• Klop dan by jou werkplek se menslike hulpbronne-afdeling aan. Sommige werkgewers het ’n personeel-ondersteuningsprogram wat ’n paar besoeke aan ’n sielkundige borg.

• ’n Sielkundige kan jou help ontlaai en oplet na moontlike depressie.

• ’n Goeie huisdokter of internis sal simptome soos hoë bloeddruk ondersoek.

• ’n Lewensafrigter kan jou help om jou lewe te balanseer.

[box:full:grey:both]

UITBRANDING: WENK VIR….

[/box]

. . . elke dag

* Begin elke dag met tien minute se stilte. Mediteer of bid. Retha sê jy kan selfs met jouself praat. Onthou, die onbewuste glo wat jy sê! Sê byvoorbeeld vir jouself: “Ek is gesond, geseënd, gelukkig genoeg.” Tel jou seëninge.
* Moenie ja sê wanneer jy nee wil sê nie.
* Wees soms tevrede met goed genoeg. Alles hoef nie perfek te wees nie.
* Doen een ding op ’n slag en doen dit goed.
* Versorg jouself fisiek. Eet gesond, slaap genoeg en oefen.
* Maak doelbewus tyd vir ruskanse. Sit jou voete op die tafel en dagdroom!
* As iets jou bekommer, bespreek dit met ’n vriend of kollega.

. . . elke week

* Oefen twee of drie keer per week, selfs al gaan stap jy net ’n lang ent.
* Ondersoek die balans in jou lewe. Vra byvoorbeeld: Hoe gaan dit met my belangrike verhoudings?
* Stel weeklikse prioriteite. Wat is werklik dringend en belangrik? Moenie toegee aan te veel “onvoorsiene”omstandighede wat nie werklik prioriteite is nie.
. . . elke maand
* Neem ’n dag (ook al is dit ’n Saterdag) nét vir jouself. Gaan spa toe of doen niks. Geniet jou gesin. Bring ’n dag in die natuur deur.
* Vra jouself af: Wat bring skoonheid in my lewe? Maak jou huis of tuin mooi, gaan na ’n kabaret of kunsuitstalling, soek ’n vriendin op, laat jou geliefde vir jou ’n gedig voorlees . . .
* Besef dat jy waarde het vanweë die mens wat jy is, nie as gevolg van wat jy doen nie.
* Maak genoeg tyd vir ’n stokperdjie.
* Vergeet ’n slag van jouself en jou probleme. Raak betrokke by ’n sopkombuis of ouetehuis. Dit gee jou lewe betekenis.

Bykomende bronne

www.mnet.co.za/kyknet
www.helpguide.org/
www.mayoclinic.com

  • yHyKDa ebojiwpazjbw, [url=http://vkmgmgrcmsez.com/]vkmgmgrcmsez[/url], [link=http://gspoaqowpfgo.com/]gspoaqowpfgo[/link], http://cqsbjnaatdkf.com/

  • m38AyQ drqopxbtlwzp, [url=http://doklbntqofab.com/]doklbntqofab[/url], [link=http://otjhpsknvjhz.com/]otjhpsknvjhz[/link], http://miiiafwprtlz.com/

  • Riekie van Niekerk

    Ek wil graag weet wat is die tekens wat ek kan kyk vir ‘n bloedklont

    Groete

    Riekie