20141109_080203
SARIE-blogs

Verhoudingsblog: As Moedersdag verby kan gaan sonder dat ek dit weet, sal dit ideaal wees

Imago-terapeut Grete Becker gesels in ons verhoudingsblog oor die seer van kinderloosheid.

“As Moedersdag verby kan gaan sonder dat ek dit weet, sal dit ideaal wees …”

Dít was die woorde van Ansie (skuilnaam) toe sy en haar man by my was. In trane het sy vertel hoe hulle al geruime tyd probeer om swanger te raak, maar dat dit net nie gebeur nie. Die eindelose toetse en doktersbesoeke, die geforseerde en onspontane seks, mediese ingrepe, die verydelde hoop en talle teleurstellings was besig om hul huwelik te vernietig. Die hoop en opwinding van ouerskap wat mense diep in konneksie plaas, was besig om hulle vir ewig uitmekaar te dryf.

Ansie is gebroke en voel soos ’n mislukking; dit wat van ons vrou maak, ontwyk haar soos mis voor die son. Die hartseer van vele miskrame lê vlak in haar gemoed en dreig om haar te verswelg. Lewensvreugde bestaan nie meer nie.

Johan weet nie wat om te doen nie. Hy is self deurmekaar. Hy voel ook asof hy stroomaf meegesleur word en tevergeefs gryp na enige halmpie van oorlewing. Dit voel vir hom of al sy pogings tot ondersteuning verwerp word. Sy pyn rol in groot druppels by sy wange af. Sinvolle, empatiese kommunikasie tussen hulle het verdwyn. Al wat oor is, is groot stiltes. Die spasie waarin hulle hul bevind, is koud, leeg en alleen.

Ansie vertel dat sy met elke inplanting geglo het sy gaan ma word en het die geboortedatum uitgewerk. Toe twee embrio’s terugglaas is, was sy seker dit gaan ’n tweeling wees. En dan die teleurstelling. Die vraag maal in haar kop: waar is die embrio’s heen?

In die begin het sy besig gebly om so die teleurstelling te hanteer. Hulle het ‘n oorsese vakansie beplan, met vriende gekuier, baie geoefen – enigiets om net nie hoef te dink en te voel nie. Ansie sê sy het te laat besef dat dit beter is om van die begin met ’n berader of sielkundige oor die teleurstelling te praat. Sy het ná ses jaar van probeer swanger raak eers met ’n sielkundige gaan gesels. Nou voel sy dat dit te laat was. Die gaping tussen haar en Johan is te groot.

Hoe het jy oor jou liggaam begin voel? 

Omdat ek nie kan swanger raak nie, voel ek nie soos ’n vrou nie, en is ek ook nie deel van die “ma-kliek” nie. Ek voel uitgesluit, alleen en anders.

En seks?

Mense wat sê die probeer is lekker, weet nie waarvan hulle praat nie. Seks wat rondom datums en die kalender beplan word, is nie ’n goeie ervaring nie. Ek wil nie hê my man moet ooit weer aan my vat nie. Dit voel of ek “damaged” is en ek weet nie of ek ooit hiervan sal herstel nie.

Kommunikasie?

Sinvolle, empatiese kommunikasie tussen hulle het verdwyn. Al wat oor is, is groot stiltes.

Ansie gee erkenning dat Johan finansieel ‘n groot bydrae gelewer het; die IVF-proses is duur. Sy gee toe dat hy hard probeer het om emosionele ondersteuning te bied, maar voel dat dit tog op die ou end ’n pad is wat die vrou alleen loop. Dit is die vrou wat die prosedures moet ondergaan en die inspuitings neem. Sy sê dat sy verstaan waarom soveel IVF-huwelike in die skeihof eindig: die proses is nie natuurlik nie.

Ek en SARIE stel op Moedersdag ’n heildronk in op al die Ansies wat ons pad kruis: Ons eer en bewonder julle.

Ons hoop julle kry die grootste bos blomme nóg.

Lees ook: