FOTO Gallo Images / Getty Images

SARIE-blogs

Verhoudingsblog: Die Sprokiesverhaal en die Nagmerrie van verhoudings

Ek het al voorheen geskryf die Imago-verhoudingsteorie voorspel dat alle verhoudings deur voorspelbare, maar tog onafwendbare, fases gaan. Die romantiese fase, die ontnugteringsfase, die kop-in-die-sand-fase waar ons aangaan en voorgee dat alles piekfyn is, die fase waar julle besluit julle gaan hulp soek, dan werk aan die verhouding en die groot beloning: ware liefde.

Oor die 1ste twee fases kan julle weer hier en hier lees.

Die kop-in-die-sand-ontkenningsfase kan ook as die watertrap-fase beskryf word. Hierdie fase kan uiters kortstondig wees of bitter lank duur; dit hang net af in watter mate die paartjie dit regkry om te ontsnap van die pyn wat hul diskonneksie veroorsaak. Die ontsnappingsroetes is legio; van hulle ernstig en ander minder ernstig. Maar hulle is uiters doeltreffend om die energie weg te neem vanuit die spasie waarin die verhouding leef. (Lees die werk van Martin Buber in hierdie verband).

Ek noem ‘n paar “onskuldige” ontsnappingsroetes, en soos wat jy na hulle kyk, wees eerlik en gee jouself ‘n punt uit 10 vir die hoeveelheid tyd en energie wat jy aan elk van hierdie aktiwiteite bestee. TV-kyk, tyd agter rekenaar, Facebook, skoonmaak, vriende, eet, draf, fietsry, gim, lees, slaap, die kinders, kerk, studies of werk.

Sommige van hierdie bedrywighede is baie edel en prysenswaardig.

Voorslag Veronica vat al die vrouebedrywighede vas by die kerk. Dit koek en tee en samel geld in vir hierdie edele saak, maar dit veroorsaak dat haar Fanie maar die meeste van die tyd vaal en vingeralleen is. Later vervies Fanie hom en koop vir hom ‘n fiets. Kort voor lank sing die speke elke naweek oor die vlaktes. Albei is dood in hul skik met hulself: die een werk vir die Hemel en die ander werk aan sy gesondheid – baie edel. Mense kyk na Fanie en Veronica en sug: hulle lyk so tevrede.

Maar onder al die ge-tee en ge-fiets is albei bitter alleen.

Eintlik smag hulle net om deur hul maat raakgesien te word, om erkenning te kry by die mens van wie hulle dit die nodigste het.

En hiermee bedoel ek nie almal moet net tuis bly nie. Wat belangrik is, is die dryfveer agter die aktiwiteit of stokperdjie. Indien hierdie dinge gedoen word om weg te kom van die verhouding, moet daar rooi ligte aangaan. Haal jou kop uit die sand, en erken dat die verhouding nie meer so opwindend, stimulerend, veilig of liefdevol voel nie. Hou op water trap, want iewers gaan jou bene moeg word en gaan jy verdrink. Sluk jou trots en roep om hulp.

Joan* en Deon* (skuilname) het my ná 9 maande van getroude lewe kom sien. Ek haal my hoed vir hulle af.

Ronda* en Johan* het ná 26 jaar, toe die kinders uit die huis is, besef hulle het verleer om met mekaar te kommunikeer. Hulle het via die kinders geleef en oorleef. Tog is hulle steeds in die magstryd vasgevang: Hulle stry oor wie gaan betaal vir die terapie.

Ansie* en Piet*, 36 jaar getroud, leer mekaar weer van nuuts af ken, respekteer en waardeer. Hulle is opgewonde oor hul pad vorentoe.

Die nagmerrie duurt voort vir die Joans en Deons van die lewe wat nie wil werk aan die verhouding nie.

Volgende keer skryf ek meer oor die ernstige exits uit die verhouding.

* Skuilname