Het jy gehoor?

Verhoudingsblog: “Is jou verhouding in ‘n doodloopstraat?” (Deel II)

In dié nuwe blog skryf Grete Becker, ’n terapeut van Kaapstad, weekliks oor verhoudings en bespreek sy spesifieke onderwerpe.

Grete is ’n Imago-terapeut van Kaapstad. Imago-terapie fokus op verhoudings en gee paartjies en gesinne hulpmiddels en perspektief tydens enige fase van die verhouding.

Indien jy vrae vir Grete het, stuur dit op e-pos na louann.stone@sarie.com (met Verhoudingsblog in die onderwerpveld).

Is jou verhouding in ‘n doodloopstraat?

Hier volg DEEL II

*Lees Deel 1 hier

Die drie K’s, konflik, krisis en katastrofe, kan ‘n verhouding in ‘n doodloopstraat laat beland.

Konflik het geen bekendstelling nodig nie. ‘n Kliënt, ‘n jong man wat vele jare jonger as ek is, het op ‘n dag vir my gesê: “Tannie, sy stuur my moermeter lelik die rooi in!” Ek moes glimlag, want ‘n raker beskrywing kon hy nie gee nie. Hy het verder gegaan met: “Dis asof sy presies weet wat om te sê of te doen om my knoppies te druk! En dan sien ek net rooi.”

Wat so oulik was in die romantiese fase, ontaard in die monster van die verhouding-in-die-doodloopstraat. In die romantiese fase ruik die kersie-tabak waarmee Liefie sy pyp stop tog te lekker.

Die vrou se hart klop warm, want sy sien ‘n prentjie van manlikheid: sterk, rustig en individualisties. In die magstryd verander hierdie prentjie drasties. Die pyp mors, die asbak se ou uitgekrapte stopsels stink. Rustig en individualisties raak gevrek en selfsugtig.

Bogenoemde kalm en rustige man wat hom kon verkyk aan sy meisie se lewendige, opgewekte en vrolike geskerts, begin haar beskuldig dat sy te veel klets. Ja, dit waarop ons verlief geraak het, verander in die klip(pie) in die skoen van die magstryd.

Hierdie klippie kan jou lelik skaaf en seermaak as jy nie tyd het om hom te verwyder nie. Indien paartjies nie weet hoe om die irritasies met behoorlike kommunikasie aan te spreek nie, kan dit ook lei tot groot pyn in die huwelik.

Waarheid Nommer 1, in die vorige blog, was: Romantiese liefde is oëverblindery.

Waarheid Nommer 2, van hierdie blog: Konflik is veronderstel om te gebeur.

Hedy Schleifer noem konflik, konfrontasie en irritasie relational navigational tools in the service of emotional intelligence. Konflik is die flits in die hand van die terapeut wat die lig skyn reg op die plek waar die groei en die herstel in die individu sowel as die paartjie se lewe moet gebeur. In my eerste sessie vra ek altyd vir kliënte waarop hulle verlief geraak het; wat is die karaktertrekke, uitleef van lewendigheid, of spesiale gedrag wat hulle tot hul maat aangetrokke laat voel het. Want sien, dit werk so: Ek het dit, ek verloor dit, ek herken dit weer in jou, ek raak verlief daarop, ek trou dit en dan wil ek dit doodmaak … of verander.

Dit is ‘n integrale energie van menswees waarmee almal van ons gebore word. Babas het die vermoë om hul totale lewendigheid uit te druk met en deur hul sintuie, hul klein lyfies, hul emosies en gevoelens, later hul taal en denke. En hulle doen dit op geen skugtere of skaam of geïnhibeerde wyse nie – soos alle ouers knap ná die geboorte ontdek.

Maar soos jy groter word, word hierdie uitbundige, grootse vermoë om jou lewendigheid aan die wêreld bekend te maak, deur sosiale norme en ander invloede sagter gedraai, afgeskaaf, verander en verminder totdat jy later min daarvan oor het. ‘n Ingeduikte mens, wat duikklopwerk benodig. En raai wie is jou duikklopper ? Ja, reg geraai, 10 uit 10: die persoon op wie jy verlief raak.

En wie hou van ‘n geklop en getimmer op jou persoonlikheid? Niemand nie. Die end van die prent is dat die konflik verander in die padwyser na die doodloopstraat, wat lei tot die skeihof.

Imago-terapeute maak van ‘n cul-de-sac ‘n omdraaipunt na die pad van volle, vreudgevolle menswees binne verhoudings. Ons verander die drie K’s in hulpmiddels en ‘n geleentheid tot konneksie. En dit begin met ‘n besluit. Eenvoudig. Geen drama. Geen emosie. Net ‘n besluit. Om jou te verbind (commit). Ek verbind my tot die verhouding, tot jou en die proses om herstel en konneksie te bewerkstellig.

Esther Perel, skrywer van Mating in Captivity, Unlocking Erotic Intelligence, vra die vraag: wanneer gaan die samelewing so hewig reageer teen egskeiding soos wat dit teen ontrouheid reageer? Ek wil dit verder neem: wanneer gaan die samelewing besef dat konflik veronderstel is om binne ‘n huwelik te gebeur as die dryfveer tot emosionele groei en herstel? Nie tot motivering tot egskeiding nie

Wat gebeur hier? Die paartjie wat in die begin van die blog beskryf word, hou vir mekaar ‘n spieël op. Wat die een daar sien, is dit waarvan hy/sy meer moet terugsit in sy/haar eie lewe. Jy moet dit nie uit hom of haar uit-praat, uit-kritiseer, uit-verkleineer of uit-blameer nie. Nee, jy moet dit weer terugsit in jou eie lewe. Die rustige, pyprokende man moet so dan en wan die pyp neersit en begin gesels. En die vrolike, gesellige, spraaksamige vrou moet so ‘n bietjie terughou op haar woorde en die man die kans bied om van sy woorde te gebruik.

Hierdie is ‘n strek (stretch) vir albei partye. Hoe groter die konflik(energie), hoe groter is die strek tot nuwe gedrag. Wanneer ons regkry om dit te doen, is dit ‘n geskenk aan albei partye. ‘n Nuwe pad, ‘n terugdraai uit die doodloopstraat en ‘n begin van ‘n heel nuwe reis.

Bogenoemde fases se gedrag ontstaan in die onderbewussyn. Dit lê in die gedeelte van die brein waar daar geen begrip van tyd of logika is nie. Gedrag is instinktief en reaksionêr, gerig op oorlewing, fisiek sowel as emosioneel.

Imago-verhoudingsterapie beskryf ‘n volgende fase wat huwelike/verhoudings kan ingaan: die bewuste fase. Hier beweeg ons van die “downstairs brain” na die”upstairs brain”, dr. Daniel J Siegel se gepaste beskrywing in The Whole-Brain Child: 12 Revolutionary Strategies to Nurture Your Child’s Developing Mind.

Paartjies neem ‘n besluit om hulp te gaan soek; om die ou verhouding in die vuur te gooi, en nuut te begin. Dit is moontlik om die woede, pyn, verwerping, hopeloosheid en stagnasie agter te laat en iets nuuts en beters in plek te sit.

Dit verg werk.

Die Imago-teorie vir verhoudings is ‘n vertrekpunt. Lees die boek Getting The Love You Want. Wees nuuskierig om uit te vind wat onder die konflik lê. Leer om weer met sagte oë na jou maat te kyk. Leer om jou maat se andersheid  te respekteer……..en lief te kry. Dit is ware liefde….

‘n Doodloopstraat is ‘n keuse.