mood
SARIE-blogs

Verhoudingsblog: Moedersdag

Imago-terapeut Grete Becker gesels in ons verhoudingsblog oor wat Moedersdag vanjaar vir haar beteken … 

Sondag, 10 Mei is Moedersdag hier in Suid Afrika.

Wat beteken dit vir jou? Baie? Niks? Of lê dit êrens in die middel?

Ek is al vir amper 33 jaar ’n ma en ek moet bieg: vir 32 jaar was Moedersdag vir my net nog ’n dag soos enige ander dag. Ja, al die bederf en spesiale etes was heerlik en ek het dit waardeer. Maar ná die ete en samesyn het die lewe weer aangegaan. Dit was dit: ’n mensgeskepte kommersiële dag.

Maar vanjaar is Moedersdag by my iets anders. Daar is ’n ander energie by my. Ek kan nie my vinger daarop plaas nie; dis net daar. ’n Stille dankbaarheid en terugdink; ’n nostalgie en piëteit.

Met die opsoek in die HAT na die korrekte spelling van piëteit, lees ek die verklaring: verering, eerbied, liefdevolle herinnering. En ek besef dit is waaroor Moedersdag vir my gaan. Stille terugdink en onthou – nie rumoerige restaurante en astronomiese rekeninge wat die pa’s byna van hul stoele laat val nie.

Ek het ’n diepe dankbaarheid vir die wyse waarop my twee dogters hul eie twee dogters die afgelope twee jaar koester. Wanneer ek na Lily en Katy kyk, sien ek die resultaat van onvoorwaardelike, onbaatsugtige en oneindige liefde. Ek sien die waagmoed en vreesloosheid waarmee hierdie tweejariges die lewe aandurf. Waagmoed wat slegs spruit vanuit hul diepe geborgenheid. En die groot antitese: vreesloosheid wat gebore word vanuit die gevoel van absolute veiligheid. As ’n kind veilig voel, kan hy die wêreld om hom vertrou.

Ek vereer alle jong mammas wat hul eie loopbane op ys plaas om hierdie ongelooflike belangrike werk so onbaatsugtig te verrig. Ek salueer alle jong mammas wat nie anders kan as om hul bondeltjies tot 10 uur by ’n dagsorgsentrum te los nie. Of jy ’n tuisbly-mamma of ’n buite-die-huis-werk-mamma is, kinders grootmaak is nie ’n walk in the park nie. Dis nie vir sissies nie.

Toe Nina my die dag gebel het om haar swangerskap-nuus te deel, was ek stil. So stil dat sy gevra het: “Is Mamma dan nie saam met my bly nie?” My antwoord aan haar was my vriendin se opmerking toe háár dogter swanger geraak het: “Ek is saam met jou bly. En ek weet jy gaan ‘n baie goeie mamma wees. Maar terselftertyd is daar ‘n heimwee omdat die sorgelose jong vrou nou die verantwoordelikheidsuniform moet aantrek.”

Maar daardie heimwee was van korte duur. Die opgewondenheid van regmaak vir hierdie nuwe mensie ken geen perke nie.

En dan volg die pure plesier van Ouma-skap.

Gelukkige Moedersdag.