Verhoudings

Verlief, maar só verskillend

Operasangeres Zanne Stapelberg en haar man, Jomar de Lange, ‘n grafiese ontwerper van Kaapstad, is al vyftien jaar saam en sewe jaar getroud. Hy is ‘n realistiese idealis en Zanne ‘n idealistiese realis …
Op 1 April 1994, Gekkedag, het ons begin uitgaan en ons is nou nog verlief. Ek is aangetrek deur sy blougroen oë en sy boudjies, maar ook deur sy intellek en sy sin vir verwondering. Ek’s impulsief, met die siel van ‘n sigeuner. Jomar is meer verantwoordelik, met ‘tienjaar-planne’.
Hy gaan versigtig om met die mense vir wie hy lief is. Ek sien dit nou veral met ons seun, Alexander (5 maande). Jomar is by uitstek ‘n goeie versorger.
“As hy ‘n motor wil koop, doen hy drie maande lank navorsing en besluit om een met ses lugsakke te koop. Ek besef ook veiligheid is belangrik, maar sy puntenerigheid kan my soms teen die mure uitdryf. Jomar doen die régte dinge, soos om in aandele te belê. Ek sal sommer al my geld uitgee op kuns. Ek het net planne vir die volgende tien minute. As iemand sê hier’s drie bottels Veuve Clicquot-sjampanje, kom ons gaan doen ‘n reksprong, dan is ek by. Jomar is soms bang dié roekeloosheid – dat ek régtig in die oomblik leef – veroorsaak my ondergang. Maar ek dink dis ook vir hom nogal sexy.”
Jomar sê: “Ek’s nie vreeslik gemaklik tussen vreemde mense nie. Dis lekker om Zanne in vreemde sosiale situasies aan my sy te hê. Sy is ook so stylvol. Sy’t my geleer om my slenter-styl soort van stylvol te maak. Voor ons ontmoet het, het ek byna geen begrip of waardering vir klassieke musiek gehad nie . . .”
Zanne: “Ons verhouding het baie dimensies en sorg altyd vir interessante gesprekke. My ideale vakansie is om te gaan tango in Argentinië, Jomar s’n is diere kyk en kampeer. Ek hou van opdress – ‘n balrok na die strand! Jomar hou van ‘n T-hemp, jeans en ‘n baadjie na ‘n troue.
“Die keersy daarvan is dat daar heelwat frustrasies is omdat ons albei harde koppe het. Ons gaan slaap nooit kwaad vir mekaar nie. Ons baklei dit uit. Jomar het een hele nag nadat ons baklei het met sy koppie tee en duvet, woedend vir my, op die stoep gaan sit. My ma sê ons is soos twee Italianers. Baie passievol.
“Dit hang natuurlik af hoe belangrik iets is as ons baklei . . . Oor die klein goedjies vra ons: ‘Wie het laas gewen?’ en laat die ánder een toe om te wen. Dit het ons vyftien jaar se koppe stamp geneem om te leer kompromieë tref.”
Jomar sê: “Ons het albei sterk persoonlikhede, so ons het aanvanklik baie strepe in die stof getrek. Nou gebeur kompromieë intuïtief. Dis interessant hoe ons verskille minder raak. Ons het baie van mekaar se goeie (en slegte) eienskappe aangeleer.
“Wedersydse respek is so belangrik.

 

Die uitdaging is om te onthou dat iemand wat van jou verskil nie noodwendig verkeerd is nie. ‘n Mens moet mekaar se quirks waardeer

 

 Die uitdaging is om te onthou dat iemand wat van jou verskil nie noodwendig verkeerd is nie. ‘n Mens moet mekaar se quirks waardeer.

Zanne voeg by: “Ons hoef nooit kompromieë oor liefdemaak te tref nie. Ons hou albei baie daarvan. Met ‘n kind moet ‘n mens wel slim wees. Die oomblik dat hy slaap, beweeg ons. Dis nodig om die magic in die verhouding aan die gang te hou.
“En dit help dat ons oor die basiese waardes saamstem. Veiligheid vir die gesin, ons jok oor niks nie, vertel selfs nie noodleuens nie. Ons glo sterk aan onafhanklike denke en ons respekteer onsself en ander.
“Mense het al gesê ons huwelik sal nie hou nie. Want ‘mense in die vermaaklikheidsbedryf se huwelike hou mos nie’, of ‘Jomar is so stil’. Dis gewoonlik mense wat ons nie goed ken nie. Jomar maak nie geselsies met enigiemand nie, hoewel hy homself, ter wille van my beroep, sal dwing om dit soms te doen. Hy is ‘n introvert met sterk ekstroverteienskappe en ek is ‘n ekstrovert met sterk introvert-eienskappe. Dís hoekom ons goed werk. Daar is vele raakpunte, al is ons verskillend.”

Tania Grobler voorligtingsielkundige en verhoudingskenner van Kempton Park, sê:

“Dié twee is duidelik sterk tot mekaar se teenoorgestelde eienskappe aangetrokke. Hul uiteenlopende pole vul mekaar aan, pleks daarvan dat dit die verhouding bedreig. Zanne verwys na die verskillende dimensies wat hul verhouding interessant maak. Hulle het geleer om kompromieë te tref, by mekaar te leer en mekaar te respekteer – al stem hulle nie altyd saam nie. Jomar sê so mooi: Verskil is nie noodwendig verkeerd nie – dis net anders. Hulle deel ‘n basiese waardestelsel. Woorde soos ‘passievol’, ‘magic‘ en ‘quirks‘ beskryf hul energie vir mekaar.”

 

Frieda, ‘n besturende direkteur van ‘n werwingsmaatskappy, en Christo Klem, ‘n siviele ingenieur van Ruimsig aan die Wesrand, is twintig jaar getroud. Hy is ‘n analitiese denker en introvert en sy is ‘n ekstrovert en gevoelsmens.
Ons verskille het al dikwels probleme veroorsaak, omdat Christo drie dae nodig het om oor dinge te dink en ek binne ‘n oogwink ‘n besluit kan neem. Dit voel dan asof hy in sy grot ingegaan het en my daar buite los. Sy stilstuipe kan my grensloos frustreer, want ek wil dinge uitpraat.”

Christo sê: “Sy praat soms so baie en karring so dat dinge dádelik uitgesorteer moet word dat ek sommer blind word van woede. Sy het lank gesukkel om te verstaan ‘los my uit’, beteken nie ek is minder lief vir haar nie, ek het net tyd nodig om die ding in my kop uit te sorteer.” 

 

n Mens leer vrede maak met jou andersheid – goeie kommunikasie is baie belangrik

 

Frieda sê: “Ek is meer mensgerig en het oor die algemeen goeie kommunikasie-vaardighede. Ná 24 jaar saam het hy al hierin verbeter, maar dit kom nie natuurlik nie. Ons vul mekaar aan en fokus op ons sterkpunte. Ons rolle is nie vooraf bespreek nie, maar ons weet wat ons swak- en sterkpunte is en is nie skaam om dit te erken nie.

“Ons grootste verskille is oor geldsake. Christo hou daarvan om my en die kinders te bederf. Hy is mal oor inkopies, lewe vir die hier en nou en help mense maklik – omdat hy hulle makliker vertrou as ek. Ek bekommer my makliker en raak verbaal – en dit klits hom op. Nou het ek geleer om stil te word en hy het geleer om éérs my insette te vra voor hy ‘n mal perd opsaal.

“‘n Mens leer vrede maak met jou andersheid – goeie kommunikasie is baie belangrik. Dit help nie jy gaan sit in ‘n hoekie en bejammer jouself omdat jy dink die ander een het jou te na gekom nie. Elkeen tree vanuit sy eie verwysingsraamwerk op. Dis nie belangrik om altyd reg te wees nie. Vra om verskoning, selfs al is die ander een verkeerd.

“Ons pas soos ‘n legkaart bymekaar – my tekortkominge word deur Christo aangevul. Dinge kan nooit vervelig raak nie, want elke ervaring het meer as een dimensie. Dit het ons baie volwassenheid geleer, en ook om buite onsself te fokus. Dit kan konflik veroorsaak, tot jy besef julle kan jul andersheid tot jul voordeel gebruik.

“Sekere goed is ononderhandelbaar, soos geloof. As gesin snoer dit ons saam en bied vir ons kinders ‘n goeie grondslag. “Ek en Christo het nooit vasgesit oor kinders grootmaak nie – ons is albei onvoorwaardelik lief vir hulle en het vaste reëls, maar is ook buigsaam in ons verhouding met hulle.

“In ons huis is rolle beslis omruilbaar. Ek is mal oor tuinwerk en Christo stryk baie goed. As ek te besig is by die werk, hanteer hy die aandete. En as hy nie beskikbaar is nie, staan ek vir hom in.”

Christo sê: “Ons andersheid is juis wat die huwelik laat werk. Ek dink mense wat té dieselfde is, raak moeg vir mekaar en sal uiteindelik skei. Dit raak vervelig en veroorsaak dat sekere goed fantasties gedoen word en ander goed glád nie gedoen word nie.”

Ons kenner, Tania Grobler , sê:

“Frieda en Christo het geleer hoe om mekaar te lees wanneer hulle verskil oor situasies. Hulle het selfs geleer om mekaar intuïtief aan te vul in hul rolle. Dis skaars dat ‘n paartjie so aanpasbaar en omruilbaar is in hul rolle – dít versterk hul verhouding. Hulle het ook geleer daar is tye dat dit belangrik is om die minste te wees en te glo in die krag van jammer sê. Die basiese waardes wat hulle deel, met sekere ononderhandelbare dinge, help dat dit werk. Goeie kommunikasie is ‘n groot pluspunt en verminder frustrasie en konflik.”

 

Engela*, ‘n skakelbeampte van Johannesburg, is ná sewe jaar geskei van Hans*, ‘n dokter. Hy is ‘n logiese denker wat gesukkel het om sy emosies te verwoord. Sy is ‘n gevoelsmens wat glo aan oop kommunikasie.
Engela vertel: “Ons het dieselfde agtergrond gehad: konserwatief en Afrikaans. Ons het saamgestem oor die meeste basiese dinge. Hy het egter onsekerhede as uitdagings beskou en daarop floreer. Ek glo aan vooruit beplan, dit laat my veilig voel. Ek dink met my hart, hy met sy kop. Ek is op detail ingestel, hy fokus op die groter prentjie.
“Ons groot probleem was dat ons nie kon praat nie – weens ons verskillende kommunikasiestyle en persoonlikhede. As ek vra of alles goed gaan, sou hy sê ‘ja’, maar ek kon sien dis onwaar. As hy stilstuipe kry, sou ek verduidelik hy moet vir my sê ‘ek is gefrustreerd by die werk’ sodat ek minstens weet iets is fout. Dan weet ek om hom uit te los en later met hom te praat.
“Hy het dinge met logiese denke probeer uitsorteer, sonder om dit met my te bespreek. Teen die tyd dat hy dit wel genoem het, was ek só geskok omdat ek totaal onbewus was van wát hom pla. Dan het ek emosioneel daarop gereageer. Dít het hom nog meer laat terugtrek en hy het dit nie verder bespreek nie.
“Ek glo daar is hoop vir teenoorgesteldes wat trou – jy is juis aangetrokke tot iets wat jy nié het nie, in die hoop dat hy/sy met hul ‘ander’ eienskappe iets in jou gaan vervul. Dít hou verhoudings opwindend. Maar dán is goeie kommunikasie baie belangrik.
“Ek het deur my huwelik geleer selfs al is dinge hóé ongemaklik, moet ’n mens eerder daaroor praat as om te swyg. Selfs terapie het nie vir ons gehelp nie.”
*Skuilname

Tania Grobler sê:

“Engela en Hans was eintlik bedreig deur hul teenoorgestelde eienskappe. Hulle kon nie onderhandeling bemeester nie. Engela het onveilig gevoel. Om emosioneel veilig te voel is een van die

belangrikste aspekte van ’n verhouding. Daarsonder kan jy nie doeltreffend kommunikeer of aanvaardend optree nie – jy sal eerder terugtrek of aanvallend raak. Die detail van hul eienskappe is egter nie méér uiteenlopend as die ander twee pare nie. Dis nie teenoorgestelde eienskappe wat onoorkomelike probleme veroorsaak nie, eerder die hantering daarvan en kommunikasie daaroor.”

 

 

Waardes wat tél

Selfs al verskil julle soos dag en nag, daar’s gedeelde waardes wat belangrik is om enige verhouding

te laat werk, sê Tania Grobler:

  • Godsdienstige oortuigings. Is kerk toe gaan belangrik? Of: Hoe versorg julle jul kinders spiritueel?
  • Kultuur en tradisies soos taal, inskakeling by die gemeenskap en skole vir kinders.
  • Ouerskap is deesdae al hoe meer ‘n keuse, nie ‘n uitgemaakte saak nie. Bespreek dit vóór die huwelik.
  • Die behoefte aan sosiale interaksie. Is julle albei gemaklik daarmee dat jul ondersteuningsnetwerk (familie en vriende) groot/klein is? Hoe gereeld het julle albei ‘n behoefte aan sosiale interaksie?
  • Ambisie. Gesels hieroor – wie gaan byvoorbeeld die broodwinner wees?
  • Intellektuele stimulasie. Daar móét raakpunte wees.
  • Seksualiteit en seksuele aptyt. Hoe gereeld behoort julle seks te hê? Glo julle albei aan monogamie?