Vicky en Schalk by vanjaar se Kanna-toekennings
FOTO: Anelia Loubser Photography

Vicky en Schalk by vanjaar se Kanna-toekennings FOTO: Anelia Loubser Photography

My kind

Vicky Davis se Ma-blog

Die aktrise en TV-aanbieder Vicky Davis het onlangs getrou en ma geword. Dié nuwe avontuur pak sy saam met haar musikant-man, Schalk Joubert, aan. Sy blog nou vir SARIE.com oor haar ervaring en die uitdagings van ma-wees, én sy deel eksklusiewe foto’s van hul kleinding, Lira. 

(Vicky se oudste blog lê onder die nuutste blog bo-aan dié artikel)

Lira kry spesiale babaklere, 25 Maart

Een van die dinge wat jy as ’n nuwe mamma baie vinnig agterkom is hoe duur baba-‘goeters’ is. Ek glo die hele babaindustrie speel op twee emosies van nuwe ouers – liefde en vrees. En word dit erg uitgebuit. Liefde, omdat jy vir jou nuwe baba net die beste wil hê; en vrees dat jou baba dalk nie net die beste gaan kry nie, en daarom kan vervaardigers maar absurde pryse opmaak, en ons is bereid om dit te betaal.

Wat veral buitensporig duur is, is babaklere. Maar ai, die kleertjies, en spesifiek dogtertjieklere, is tog so mooi en die ontwerpe so fraai, mens sukkel om dit te weerstaan. ’n Mens speel tog so bietjie pop met jou babatjie en een van die lekkerste gedeeltes is mos om jou poppie aan te trek. En om te dink mens gee al die geld uit op kleertjies wat hulle net vir drie maande dra en daarna is hulle te groot daarvoor!

Twee van my vriendinne het vir my egter baie oulike idees gegee hoe om goedkoop weg te kom deur self babygrows op ’n maklike en kreatiewe manier te verfraai dat dit lyk of dit ten duurste gekoop is by n boetiek-kinderwinkel.

Die eerste is ’n idee van Jani Goussard (SARIE se DIY blogger) – sy het vir Lira ’n handgedrukte babygrow gegee net ná haar geboorte, met ’n print op wat sy self ontwerp het. Sy het Lira se naam en ’n mooi blomontwerp geskets, uitgedruk en op ’n skoon wit babygrow (dit kan mens sommer goedkoop kry by enige klerewinkel) gestryk. Die oulike pakkie met Lira se naam op gaan ek defnitief wegbêre op ’n spesiale plek en hou totdat sy eendag groot is.

Lira 1

 

Die ander idee is van ’n vriendin van my, Nina Sabbagha, wie se ma vir haar dogtertjie ook ’n paar skoon wit babaygrows gekoop het teen baie goedkoop en dit pragtig versier het met helder knopies. Sy het drie knopies in verskillende motiewe bo naby aan die kragie van die babygrows vasgewerk, en die effek is ’n unieke handgemaakte uitrusting. Dit is merkwaardig hoe die enkele knopies die eenvoudige pakkie kan ophelder.

Die wonderlike aspek van beide hierdie idees is dat jy kreatief kan raak en jou verbeelding kan gebruik. Ontdek jou inner-klereontwerper! Lekker speel…

Lira knope

 

Vicky en Schalk kies peetouers vir Lira, 10 Maart

Die idee van peetouers is ’n ou een en ’n gebruik wat vandag in baie kulture voorkom, ook in Suid-Afrika. Die konsep van peetouers het sy oorsprong in die Christelike geloof en was gewoonlik iemand wat die doop van die baba – hul peetkind – sou borg.

Vandag het dit ’n breër, meer simboliese betekenis aangeneem, en word dit gesien as ’n individu of ’n paartjie, of egpaar – dit kan vriende of familie van die nuwe ouers wees – wat gekies word om met belangstelling betrokke te wees by die kind se grootword en ontwikkelling. Peetouers kan ook gesien word as die kind se wettige voogde, sou daar iets met die biologiese ma en pa gebeur, maar dit is nie altyd die geval nie.

Die ander belangrike aspek is dat dit ook ’n gebaar is tussen die ouers en die aangestelde peetouers om hul vriendskap te vereer, en om hulle te bedank vir wat hulle vir mekaar beteken. Ek dink altyd aan peetouers as instaan-ouers, wat ook addisionele morele en emosionele leiding kan bied en altyd ’n oproep ver kan wees wanneer ma en pa net nie wil verstaan nie. Daarom is dit baie belangrik om iemand te kies wat dieselfde uitkyk en waardes het as jy – julle moet uit dieselfde spreekwoordelike lap gesny wees.

Ons het ook besluit om vir ons klein Lira peetouers te kies. Dit was nie vir ons ’n moeilike besluit nie. Schalk se jonger broer, Gerrit, en sy vrou, Elmarie Claassen, is Lira se peetouers.

Gerrit en Elmarie het self nie kinders nie en Gerrit is nie net Schalk se broer nie, maar ook sy beste vriend. Hulle is soos vinkel en koljander. Elmarie is ’n baie suksesvolle sielkundige en ’n ongelooflike warm en kleurvolle mens wat ’n slag het met kinders, veral met klein dogtertjies – kyk, niemand kan dress-up en make-up speel soos Elmarie nie! Ek weet Gerrit en Elmarie sal Lira toegooi met liefde en sal haar altyd van goeie raad kan bedien en vir haar ‘n voorbeeld wees. Ek en Schalk kan nie wag tot ons eendag vir Lira by haar peetouers in Johannesburg kan gaan aflaai vir ’n heerlike bederfvakansie nie –  terwyl ek en hy ’n bietjie gaan wittebrood hou!

Gerrit en Elmarie het onlangs vir ’n naweek by ons in Stellenbosch kom kuier en hulle het fluks ge-volunteer om baba op te pas. Hulle het die hele naweek heerlik popgespeel (en doeke geruil!) met hul klein peetdogtertjie. Hulle het natuurlik vir haar ’n Superbaby-uitrusting saamgebring (om te pas by die een van Batgirl wat hulle met haar geboorte gestuur het), want in peetma en peetpa se oë gaan ons kleinding nog hoog vlieg!

Lira se eerste Valentynsdag, 16 Februarie 2015

Februarie is mos die maand van die liefde en Valentynsdag, die dag waarop die liefde die hele aardbol oor gevier word. Toe ek vandag skoon wasgoed wegpak, merk ek weer Lira – ons babadogtertjie, gebore op 10 Desember verlede jaar –  se bloedrooi babygrow met hartjies op. Dís wat sy vanjaar aangehad het op haar heel eerste Valentynsdag.

verskaf

Ek dink terug oor die afgelope 13 jaar en besef ek en Schalk het nog nooit juis veel waarde geheg aan dié dag nie. Vrek, gewoonlik weet hy hierdie tyd van die jaar nie eens mooi wat die datum is nie, want hy is so besig met opnames in die studio en met shows en repetisies vir die Woordfees en KKNK wat kom. Ek verbeel my selfs dat ons meer as een maal ’n anti-Valentynsdag saam gevier het as vriende, waar ons ons lot as gedoemde alleenlopers saam bekla het, al treurende op die ander se skouer. Ons glasies geklink – vir altyd, liefdeloos, alleen!

En hierdie jaar? Vanjaar, ná 13 jaar, is my beste vriend nie meer net my vriend nie, maar my eggenoot, die pa van my liefie-baba Lira en vir die heel eerste keer my Valentine. Hierdie jaar het hy my verras met ’n groot bos rooi rose, en het ons die dag heerlik gaan uiteet by ’n restaurant in die pragtige Helshoogtepas, net buite Stellenbosch. Want dit was juis op Valentynsdag, presies ’n jaar gelede, dat ons uiteindelik, ná al die jare, besluit het: Dis nou of nooit, ons hoort saam.

Ek onthou dit goed, dit was een van daardie warm, winderige somersaande in die Kaap. Ek het van die stad af gery om vir Schalk te kom kuier, hy het pas teruggekom van die Fiësta-toekennings en was nog op pad terug van die lughawe af. Ons wou sy wen saam vier, maar meer as enigiets wou ek vir hom sê – nee, skree – dat ek hom so baie mis dat dit pyn, en ek sien nou, ja nou, werklik die eerste keer, ná al die tyd, dat dit by hom is waar ek hoort.

Hy was nie verras nie, hy weet dit toe al lank, maar dit gaan oor timing – om op dieselfde tyd dieselfde ding te wil hê. En dit was nou sulke tyd.

Ek het eerste by sy voorhek aangekom aan die einde van die kronkelende grondpad, voor sy meenthuis op die plaas by Stellenbosch waar ek al jare kom kuier. Ek het uitgeklim. Die wind het gepluk aan my baadjie en Paul Simon het gesing op my karradio “Why deny the obvious child”. Ek het gevoel ek wil begin dans van opgewondenheid, maar, daar was ook ’n vrees, wat as dit te laat is? As daar iemand anders is?

Schalk se motorligte het agter my geflits. Hy het gestop en uitgeklim. Hy het geweet. Natuurlik sou hy weet, hy lees my beter as bladmusiek.

“Is jy seker? Doodseker? Ek kan nie weer …”

“Ek weet, ek ook nie.”

“Hoekom nou?”

Ek het ’n oomblik gedink, en geglimlag: “Why deny the obvious child?”

Hy was ernstig, doodernstig.

“Goed, dan doen ons dit, alles, voluit. Geen twyfel, geen vrees, geen omdraai.”

Ek het geknik. “Ja.”

En toe glimlag hy, ’n groot glimlag.

“Dan is ons seker mekaar se Valentine, of hoe?”

My hart wou gil van blydskap – dit was nie te laat nie. Ek het my arms om hom gegooi. Ons het begin dans in die stof, sommer so, lekker simpel.

Ek glimlag as ek nou weer aan die gesprek dink. Eendag gaan ek nog vir Lira vertel hoekom die 14de Februarie in ons huis ekstra spesiaal is en dit met blydskap gevier word, want om te dink, as dit nie vir daardie dag was nie, is ons nooit getroud nie en was sy, ons bondeltjie liefde, nooit eers gebore nie!