0609jy_sniealleen
Verhoudings

Waarheen met jou bejaarde ma?

Sy vergeet dikwels die stoof aan en los die voordeur oop. Sy’t al ‘n paar keer geval. My broers verwag ek, as dogter, moet na haar kyk. (Ons suster woon oorsee.)

Ek het ‘n groot huis met ‘n aparte woonstel, maar ek het ook ‘n man, 2 kinders en ‘n lewe. Ek is rééds die een wat die meeste by haar betrokke is. Private aftreeoorde is duur en sy verpes dit. My idee is dat ek en my broers beurte maak: Sy woon 4 maande op ‘n slag by elkeen. Maar hulle reken dis mý huis of die plaaslike ouetehuis, wat betreklik goedkoop is, maar waarvan ek lelike stories gehoor het.

Marna Dreckmeier-Meiring, kliniese sielkundige van Pretoria

Bejaardes kan baie angstig voel as hulle verswak en geleidelik hul onafhanklikheid moet prysgee. Hul
kinders wil help en neem dan dikwels besluite namens hulle. Ongelukkig laat dit hulle nog meer sonder beheer voel – en hulle kan nogal rebels raak! Moenie besluite oor haar kop neem nie. Die aanpassings wat
gemaak word (soos ‘n huishulp of kleiner woonplek), is tog om in háár veranderende behoeftes te voorsien. Moenie aannames maak oor wat sy wil hê nie:

Vra haar. Selfs al kies sy hulpmiddels of omstandighede wat nie vir julle ideaal lyk nie. Dis egter ook belangrik hoe jý hulp en ondersteuning wil (en kan) gee. Dit moet inpas by jou begroting en skedule. Dis wonderlik as kinders opofferings maak – maar nie as dit ten koste van jou en jou gesin se welstand is nie.

Onthou ook dat oumas en oupas se bydraes tot ‘n huisgesin van onskatbare waarde kan wees.
Femada Shamam, bestuurder: sosiale dienste by die Vereniging vir Bejaardes (TAFTA) in Durban
Ons neem soms met die beste bedoelinge vir bejaardes besluite – gegrond op wat ons dink hulle nodig
het. Jou ma klink asof sy daarvan hou om in beheer van haar lewe te wees. Betrek haar dus by die besluit oor haar toekomstige versorging. Bespreek jou vrese met haar. Noem die veranderinge wat jy raaksien en maak dit duidelik dat jy oor haar veiligheid bekommerd is. Die manier hoe jy dit doen, is belangrik.

Sy moet weet jy is lief vir haar en daarom praat jy daaroor. Bejaardes voel soms hulle is ‘n oorlas vir hul kinders – hanteer dit dus saggies. Dan: Julle moet as kinders saam verantwoordelikheid vir jul ma se versorging aanvaar. Jou broers het, soos jy, waarskynlik geldige vrese. Kom bymekaar en bespreek dit.

Die sleutel is dat almal toegewings moet maak – en dat jou ma betrek word. Dis dalk nodig om ‘n derde party te betrek.

Kontak jul plaaslike organisasie vir bejaardes en vra vir ‘n maatskaplike werker se hulp. Sy kan dalk ook
met jou ma gesels, sou dit nodig wees. Laastens: Besoek die plek met die slegte reputasie. Loop rond en praat met van die inwoners en personeel. Jy kan só ‘n ingeligte besluit neem.

Hantie Olivier, SARIE-leser van Roodepoort, uit eie ervaring

Dis ‘n kop- en nie ‘n hartsbesluit nie. Waar gaan daar uiteindelik die beste na jou ma omgesien word? Wat as sy later spesiale versorging moet kry? Oordink al die feite. Moenie gedwonge voel om die “regte” ding te doen en dan werk dit vir niemand nie: nie vir jou ma óf jou gesin nie. Baie vroue het deesdae ‘n beroep en kan nie na ‘n bejaarde omsien nie. Drie geslagte onder een dak werk ook selde uit. (Dit hang
natuurlik af hoe jou verhouding met haar was vóór sy by julle ingetrek het.) As jy besluit het sy kom by jou woon en dan werk dit nie, kan jy moeilik omdraai. Dis ook nie nodig dat jy alleen die verantwoordelikheid moet dra nie, al dink jou broers wat, en al was jy tot dusver die een wat die meeste vir haar gedoen het – dit beteken nie dis nou jou “rol”om altyd te gee nie. Bejaardes: Dis jou eie verantwoordelikheid om voorsiening vir jou oudag te maak. Jy moet self weet wanneer die tyd reg is om na ‘n aftreeoord te trek; terwyl jy jonk genoeg is om aan te pas. Jou beplanning gaan uiteindelik die gehalte daarvan bepaal.

KONTAK

* Marna by 082 772 1559
* TAFTA by 031 332 3721 of besoek www.tafta.org.za

  • Ella Jordaan

    My ma, wat volgende jaar 90 word, bly al vir die afgelope 28 jaar by my in my huis. Sy het my twee kinders, wat nou al volwassenes is, grootgemaak sodat ek ‘n voltydse beroep kon volg. Sy is deesdae baie sieklik en kort-kort in die hospitaal en het nou intensiewe aandag en versorging nodig wat ek in die aande en oor naweke vir haar gee. Deur die dag is my man by die huis en kan hy tussen sy werk deur ‘n ogie hou. Al het ons deur die jare baie ekstra finansiele uitgawes gehad, wat ons soms nie kon bekostig nie, sal ek die jare vir niks ruil nie en bid net dat die laaste paar jaar wat ons saam met haar het, ook so gesëend sal wees. Dat ek haar ooit in ‘n tehuis sou sit was vir my ondenkbaar, en ek het 5 broers wat min of geen bydrae lewer nie, en ek is ook die enigste dogter.

  • Annette Starfield

    God seen jou, Ella!! Wat n wonderlike voorbeeld – vir almal en vir jou eie kinders.
    Ook n OU-Ma

  • Anoniem

    Ken jy die woorde" Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder" Jou 75jarige ma was al die tyd daar toe jy haar nodig het… Maar nou wat sy die hulp van haar kinders nodig het is dit te veel gevra…Tannie ek is 22jaar oud en ek sê elke dag, die dag wanneer my ma my nodig het en sy is op daardie ouderdom… ek vat haar met albei hande in my sorg, want sy was daar vir my!… Dink Mooi tannie voor jy enige besluite neem, spyt kom altyd te laat

  • Herman Bosman

    Met liefde versorg my vrou haar 84 jarige ma al vir 10 jaar sonder hulp van susters en broer. Ongelukkig is sy baie swak deesdae en tans in die Hospitaal. My vrou moet in vir n breuk operasie maar wie versorg haar ma. Al gekyk na n plek vir oues maar kan nie bekostig nie Ander wil of kan nie bydra nie Wat nou gemaak My vrou se breuk baie erg en gevolglik moeilik om haar ma ook te help Ek is bekommerd my vrou gaan knak onder die druk