Verhoudings

Wees só gewild

Hou mense van jou?
Jou gevoel is dalk: As hulle nié van my hou nie, is dit húl probleem, nie myne nie.

Dink weer, want of mense van jou hou (in Engels jou likeability factor) is baie belangrik. Jou geluk hang selfs daarvan af.

Pieter Koen, sanger en Kwêla-veldaanbieder, het baie van daardie L-faktor. Wanneer jy hom ontmoet, kyk hy jou gefokus aan, glimlag en vra jóú uit – en laat voel jou soos die belangrikste mens op aarde.

Dis seker hoekom mense van hom hou. Pieter het verlede jaar ’n ATKV-Mediaveertjie as beste aanbieder van ’n joernaalprogram gewen. Dié organisasie se webwerf sê “sy natuurlike warmte teenoor alle mense is een van sy sterkste punte”.

En dan is hy boonop snaaks, veral wanneer hy so lekker sing dat jy jou biscuit moet skud!

“Ek probeer maar net om die positiewe in alles raak te sien of in ander uit te bring,” sê Pieter. Hy lag ook maklik vir homself en sien oral humor raak.
“Ek glo daaraan om ander te behandel soos ek self behandel wil word. Mense moet gelukkig wees in my geselskap, daarom hóór ek wat hulle sê. Gelukkig is ek versot op mense. Ek glo elkeen is uniek en het besonderse eienskappe.”

Pieter is ’n geselser van formaat en dit kom vanselfsprekend goed te pas in sy werk. “Sodra ek ander mense se vertroue gewen het, kom baie meer uit as wat ek verwag het.”
Maar hy praat nie sommer oor homself nie. “Daar is te veel ander interessante mense en dinge,” sê hy.

Beantwoord nou wéér daardie vraag: Hou mense van jou?
Want die lewe is eintlik ’n reeks gewildheidskompetisies, sê kenners. Jare se navorsing wys mense kies van wie hulle hou. Jy stem tog vir jou gunsteling, trou met ’n maat wat jy lief het, kies jou vriende en werk lekkerder saam met aangename kollegas. Die keuses wat ander op hul beurt oor jóú maak, beïnvloed jou gesondheid, geluk en rykdom, sê Tim Sanders, ’n Amerikaanse leierskap-ghoeroe en skrywer, in The Likeability Factor (Random House, 2006).

Een studie (www.enotalone.com) deur Melinda Tamkins aan die Universiteit van Columbia, wys gewildheid dra by tot werksukses. As mense van jou hou, beskou hulle jou as betroubaar, gemotiveerd, ernstig, beslissend en hardwerkend. Jy kry makliker bevordering én salarisverhogings.

En as jy ’n leier is, tel gewildheid steeds?
Ja. As jy ’n goeie verhouding met jou kollegas het, sal hulle daardie ekstra myl saam met jou wíl stap. Madge Gibson, vennoot by Jack Hammer Executive Headhunters, bevestig dit: “Daar is ’n ou gesegde wat só waar is: Jy lok meer bye met heuning as met asyn,” sê sy.

Lois P. Frankel sê in See Jane Lead (Warner Business Books, New York, 2007) ’n mens moenie wag tot jy iemand nodig het om ’n verhouding te probeer bou nie. Begin nóú!
Net een persoon kan die kantoor-atmosfeer bepaal. “As jy negatief of ongewild is, trek jy ander saam met jou af,“ sê dr. Zani Dannhauser, bedryfsielkundige aan die Universiteit Stellenbosch. As jy net vir jouself sorg, sal ander om jou ook selfgesentreerd raak.

Sommige mense is van nature gewild. Maar jy kán dit aanleer.
“Dis belangrik, want dit het ’n reuse-effek op jou lewe – professioneel én sosiaal,” sê Madge.

Tim Sanders omskryf gewildheid as die vermoë om deur jou optrede positiewe houdings by ander te kweek. ’n Gewilde mens maak ander gelukkig, kikker hulle op en laat hulle ontspan. Jy is ook vriendelik, eerlik en deursigtig en kommunikeer doeltreffend. Jy kan dalk selfs ’n bietjie verligting van depressie, angs of verveling meebring.

Gewilde mense is entoesiasties, toeganklik en hulpvaardig, sê Cindy Muthukarapan, leierskapafrigter van Leading Edge, wat afrigting en opleiding verskaf. “Hulle is vrygewig en ondersteunend,” sê sy.
Maar waak teen witvoetjie soek. Dit maak ander agterdogtig. Oppas ook vir ongesonde people pleasing, sê Madge. Jy kan ’n slagoffer hiervan word as jy onseker is van jouself of van jou posisie by die werk. Dan het jy ’n té groot behoefte aan erkenning en dat mense van jou moet hou.

As leier gaan jy dan besluite om die verkeerde redes neem, waarsku kenners: Nie noodwendig wat die beste vir die werkplek is nie, maar wat sal maak dat mense die meeste van jou hou. Trouens, iemand wat só ’n groot people pleaser is, hoort eintlik nie in ’n leiersposisie nie. Gewoonlik hou so iemand se gewildheid ook nie, want hulle stel teleur omdat hulle álmal probeer tevrede stel – en dis onmoontlik. Mense besef hulle is nie eg en getrou aan hulself nie – hulle boesem nie vertroue in nie. Verder kan hulle manipulerend raak omdat hulle ’n verskuilde agenda het.

Die geheim lê in balans, oftewel realistiese optimisme. Wys dat jy in ander glo, hulle vertrou en self betroubaar is. Vestig jou kollegas se aandag op geleenthede en alles wat reg loop in jul werkplek.

Jou gewildheid bly nie altyd konstant nie. As jy ’n moeilike of besige tyd beleef en min tyd het, kan dit dalk tydelik taan. Maar as jy gewoonlik afgesonder en onbetrokke voel, sal jy jou L-faktor moet verhoog, sê Madge.

“Werk dan aan jou vermoë om ’n positiewe lig in jou kollegas en jou eie lewe te wees. Daardeur verryk jy hul lewens én
joune. Jy sal hul onder-steuning kry én jou ideale bereik,” voeg Zani by. 

Watter eienskappe trek jóú aan?

“Sodra ek ander mense se vertroue gewen het, kom baie meer uit as wat ek verwag het.” – Pieter Koen, sanger en Kwêla-veldaanbieder

“Vriende wat eerlik is en my nou en dan laat lag.” – Jaco Kirsten, joernalis en skrywer

“Iemand wat lag en ander laat lag. Totale lojaliteit. En niks kom by ’n storie wat goed vertel word nie.” – Ilza Roggeband, reklamebeampte en joernalis

“Iemand wat nie een dag sus en die ander dag so is nie.” – François Bloemhof, skrywer

* Verhoog só jou L-faktor

* Besoek ook: www.timsanders.com/books/likeability.html  
www.leadcoaching.co.za
http://www.jhammer.co.za  
http://www.pieterkoen.co.za
• E-pos dr. Zani Dannhauser: zani@sun.ac.za