Lux_Social_Sarie 1week3
Verhoudings

Wonder jy wanneer julle so oud en getroud geword het?

Almal kyk soms met ’n sug en ’n tikkie afguns na ’n jong paartjie. Jong liefde is lekker, maar ou liefde met nuwe woema is soveel lekkerder.

Dit is net in Hollywood-films dat huisvroue een oggend wakker skrik en oornag 20 of 30 jaar jonger geword het. Ongelukkig is dit nie nie vir die res van ons beskore nie. Of dalk is dit juis gelukkig, want niemand wil weer al daardie angs en onsekerheid beleef nie. Buitendien, die blote vooruitsig van neongroen jeans en agterstevoor pette behoort enigiemand in haar spore te stuit.

Dis nie te sê dat niemand ooit weer onseker gaan voel wanneer hulle hul tienerjare ontgroei het nie. Trouens, waar julle aanvanklik heeldag en aldag bymekaar wou wees, kan dit nou na harde werk voel – en wanneer dit gebeur, word die vonk in jul verhouding geblus.

Ons het by Daphne Cooper, ’n verhouding-sielkundige van Kaapstad, aangeklop en gevra wat ’n paartjie te doen staan wanneer hulle roetine in ’n groef verander het.

  1. Sy het nie eens geaarsel met haar eerste stukkie advies nie: “Moenie jou vergelyk met hoe jy op 18 was nie. Toe het hormone deur jou liggaam gebruis en jy was besig om jou fantastiese nuwe maat te ontdek en die lewe saam met hom te verken. Dit is onrealisties om julle volwasse verhouding aan die passie en sorgeloosheid van toe te meet. Jy sal nooit weer so voel nie. Moet dus nie eens probeer nie.”
  2. Dink aan jou maat en wat jy alles omtrent hom geleer het, en wat hy alles omtrent jou geleer het. “Julle het ’n lang pad saam gekom en as julle steeds met mekaar praat en steeds bymekaar wil wees, is julle gelukkiger as baie ander paartjies. Die band met iemand wat jou beter ken as enigiemand anders is baie sterker as tienerliefde,” sê Cooper.
  3. Wees gulhartig en gee, en ontvang, met oorgawe. Wys jou waardering, selfs van klein dingetjies, en wat ook al jy doen, moenie telling hou nie.
  4. Moenie vergeet dat Hollywood stories vertel nie. Die “maatstawwe” wat op die silwerdoek gestel word – om drie keer per dag seks te hê of ’n lyf soos Gwyneth Paltrow s’n, na jy vyf kinders gehad het – is onrealisties. Daar is baie ander maniere om jou liefde te betoon. Drukkies en handjies hou skep ’n gevoel van nabyheid en sal julle toegeneë tot mekaar laat voel wanneer jy nie kans sien vir meer nie.

Hoe hou julle die vonk in jul verhouding? Vertel ons en as julle as die eerste SARIE/LUX Spark-paartjie aangewys word, wag daar ’n fantastiese aandjie by ’n boetiekhotel op julle. Klik hier om deel te neem.