Aaminah Patel
Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Aaminah Patel

Dit is ’n groot eer dat ek én my sussie in Junie vanjaar as Rhino Champions aangewys is. By die skool noem hulle my die ‘renoster-meisie’. Ek praat en lééf renosters, knip prente uit van dié diere en wys dit vir die onderwysers. Ek wil hê daar moet nog renosters wees wanneer ek eendag oud is. Dis die jeug se plig om hulle te probeer red. Hulle kan nie self praat nie. Ek het al foto’s gesien waar renosterhorings afgesny is en hulle bloei. Dit maak my hartseer.

My sussie en ek is ook deel van Rhino SA se brief-veldtog wat verlede jaar deur twee Amerikaners, Olivia (10) en Carter (12) Ries van Georgia, Amerika, begin is. Kinders word wêreldwyd aangemoedig om aan pres. Zuma te skryf om die renosters te red. Sover is daar al 7 000 briewe van oor die wêreld wat later vanjaar aan hom oorhandig gaan word.

Ek dink ek het my eerste renoster gesien toe ek twee jaar oud was. Ons gesin het al dikwels die Krugerwildtuin besoek. Renosters is oulike diere, veral hul horings en hoe hulle speel en met mekaar baklei. Ek praat gereeld by skole om kinders meer van dié wonderlike diere te vertel. Ek beskou renosters as my spesiale vriende.

My boodskap aan Suid-Afrikaners? Skree, skryf en praat met mense wat omgee vir renosters. Ons moet saam ’n verskil maak vir hul oorlewing.”

Lees nóg inspirerende verhale hier: